Nuusbrief September 2019
Die boek wat ons hierdie maand bekendstel is Dr. Philip Nolte (geen verwantskap) se treffende debuut digbundel “Om weerloos te leef”. Dit is nou as e-boek beskikbaar in ons boekwinkel. Plaas vandag nog jou bestelling en deel in Philip se verstaan van sy eie, en moontlik baie van ons, se worsteling met ons weerloosheid in hierdie kil, onpersoonlike heelal waarin ons ons bevind.
Hier is so ’n voorsmakie:

 

Kersfees 2007

Plakkate skree baldadig

beloftes oor ‘n nuwe hemel

en ‘n nuwe aarde –

“Jesus is the answer!”

 

Op hierdie moeë aarde

word die belofte

oor ‘n nuwe kind

telkens vergruis

en kinders bly staar

met dooie oë

eensaam en verlate

 

Klik op hierdie skakel vir meer inligting oor die bundel en dan sommer jou bestelling te plaas: http://www.denovowebs.co.za/product/om-weerloos-te-leef-a-vulnerable-life/

 

UITVERKOPING

De Novo Boeke se uitverkoping van verlede maand het toe goed verloop en byna al die boeke wat op uitverkoping was, het baas gekry. Daar was veral sterk mededinging vir ’n kopie van Prof. Sakkie Spangenberg se Jesus van Nasaret. Prof. Julian Müller was een van die gelukkiges wat nog ’n kopie kon bekom. Hy skryf op Face Book die volgende oor die boek:

“Tot my skande moet ek erken dat ek nou eers daartoe gekom het om Sakkie Spangenberg se boek “Jesus van Nasaret” aan te skaf en te lees. En wat ‘n aangename leeservaring! Ons is baie dank aan Sakkie verskuldig wat op ‘n baie sinvolle wyse al die kwessies rondom Jesus en ons tradisionele geloofsinhoude aan die orde gestel het. Aan die hand van ‘n verskeidenheid “perspektiewe” op Jesus skryf hy sommer ook ‘n outobiografie waarin hy telkens reflekteer op sy eie geloofsreis. Ek dink baie van ons kan identifiseer met sy ervaringe. Die reis van naïewe geloof to by kritiese vervreemding van die tradisionele geloofskonsepte is een wat baie van ons ook ervaar, maar nie noodwendig so goed kan verwoord soos wat hy dit in hierdie boek gedoen het nie. Ek beveel die boek van harte aan. Die herdruk is in 2017 deur De Novo Boeke uitgegee. ”

Omdat daar nog mense is wat die boek wil bekom, het ek met Prof. Sakkie gepraat en as daar genoeg belangstelling is, kan ons dalk nog ’n oplaag laat druk. As julle weet van iemand wat nog ’n kopie soek, laat weet gerus dan sien ons of ’n nuwe oplaag geregverdig sal wees.

 

As jy ook ’n storie of digbundel het wat jy self wil uitgee kan jy gerus op ons webblad –http://www.denovowebs.co.za – ’n draai gaan maak waar daar meer inligting is oor hoe ons jou kan help om jou boek of digbundel self uit te gee.

 

Ek herinner weer daaraan dat ons nou ook ’n transkripsiediens aanbied teen baie bekostigbare tariewe. Indien jy ’n opname van ’n toespraak, ’n preek of potgooi of enige ander klanklêer of video het wat jy graag na teks wil laat omskakel, besoek gerus ons webblad om meer oor ons tanskripsiediens uit te vind.

Vriendelike groete en lees baie boeke,

Coenie Nolte,