Posts Tagged Business

Koelkoppe en heethoofde

Koelkoppe en heethoofde

 

(Uit GRASnuus van Piet van Staden: Maart 2007)

Ek het destyds op `n klein plekkie in die noorde van die land gebly. Dit was (en is) `n gehuggie, tipies met twee kerke (nou’s daar drie), `n NTK (koöperasie), twee vulstasies en drie mmm…, negosiewinkels (toe onder `n ander noemer bekend wat vandag onsêbaar inkorrek is).

Dié plekkie het my baie geleer van mense. Wat ek later bygeleer het, was eintlik “fine-tuning”. Omtrent negentig persent was boere, maar dit is omtrent al wat `n mens eenders oor hulle kan sê. Al die soorte het jy daar gekry – jonk en oud, wys en dwaas, vroom en onheilig, gemanierd en onbeskof, ryk en arm, geleerd en ongeleerd, vinnig en stadig, betroubaar en onbetroubaar, eg en vals, deernisvol en hardvogtig, belustig en kuis. Feitlik elkeen `n karakter in eie reg.

Een van die vriende wat ek daar gemaak het, noem hom maar Joos, was `n groot jagter. Hy het nie, soos ander manne, “gaan kyk of hy iets kan kry” nie. Nee, as hy veld toe gaan met die geweer, het hy ge-“nominate”: “Ek gaan gou `n koedoe/rooibok/duiker haal”. Daar was niks arrogant of grootpraterig daaraan nie, net selfvertroue. Dan vat hy die geweer en smelt weg in die bos, en `n uur of twee later kom haal hy die bakkie om die bok te gaan oplaai.

Joos was `n skeptikus. Hy het nie verder as matriek formeel geleer nie, maar sy intellek en belangstelling was baie ver by matriek verby. Hy kon goed uitpluis. En bevraagteken. Hy was soos `n valk op logiese inkonsekwenthede, en die vereiste “suspension of disbelief” van godsdiens het nie lekker in sy klere bly sit nie. “My siel is my eie” vertel hy my, “en ek hou dit so. Ek verkoop hom nie aan die duiwel nie en ook nie aan God nie.”

“Hoe jaag jy die twee so in een kraal?” vra ek hom. “Almal sê dan hulle kom nie reg met mekaar nie”.

“Dis juis die ding” sê hy. “Ek reken twee ouens wat so met mekaar oorhoops lê het nie tyd om te worry oor jou en my nie. Jy weet nie wat enigeen van die twee bokkers met jou gaan maak nie. Jy’s net kanonvoer in hulle fight. Ek trust hulle nie”.

Beste Joos, ek wil vandag erken, ek dink jy was reg. Ons geestelike landskap is woes en leeg, soos voor die skepping. Helse winde van verandering waai skuim uit die water (vry vertaling van “die gees het oor die vloed geswewe”). Ek weet nie of God koerant lees nie, maar as hy net so `n paar Sondae die Rapport deurblaai behoort hy te worry of hy nie dalk die fight verloor nie. Ek begin saamstem ons moet maar elkeen ons eie siel oppas.

My vriend Vossie sê juis hy wonder of God en Satan rêrig is. Manne van sulke kaliber moet mos darem koelkop wees en nie so gou agter hulle vuiste inspring nie!

“Wat is dan mense se eintlike dryfkrag in die lewe?” vra ek.

“Selfbehoud” sê hy sonder aarseling. “En as jy ver genoeg op daardie spoor loop, kom jy agter die uiterste vorm van selfbehoud is altruïsme.”

Blikemmer! In Darwinistiese terme beteken dit koelkop wees is die evolusionêre uitkoms van heethoofdigheid. Skielik kry naasteliefde `n verrassende nuwe dimensie – dit is die verfynde vorm van egoïsme. Lekker ironies.

Wat sê dit van God en Satan se fight?

My pelle, ko’ ons gaan haal dáái bok!