Publish self is the way to go.

Kroniek van ‘n koerantman

Sale!

Kroniek van ‘n koerantman

R140.00 R70.00

Met Kroniek van ’n koerantman: ’n persoonlike perspektief op die jare na 80 (1998) wyk Hennie van Deventer ‘n bietjie af van sy vorige drie boeke. Hierin trek hy die skerms oop op sy twaalf jaar as redakteur van Volksblad en daarna sy ses jaar as hoof van Naspers se koerante en gee hy jou ’n blik op wat hy “die Afrikaner-binnekamer” noem. At van Wyk (Beeld, 14 Desember 1998)

Category:

Description

Resensie deur die Politieke Redaksie (Na eerste publikasie – 1998)

“Ou grootman, ek laat my nie deur koerante voorsê hoe ek my werk moet doen nie!” Dit was die stem van oudpres. P.W. Botha oor die telefoon. Die “ou grootman” was mnr. Hennie van Deventer, destyds redakteur van Die Volksblad en later uitvoerende hoof van koerante van Naspers. Van Deventer vertel in ‘n nuwe boek, Kroniek van ‘n Koerantman, onder meer van dié onderonsie met die destydse staatshoof.

Die aanleiding tot Botha se driftigheid was ‘n hoofartikel in Die Volksblad. Die Vrystaat moes ‘n nuwe administrateur kry. Twee opponerende kampe het gevorm, en Die Volksblad het gemeen dat die Regering met die aanstelling moet opskud om die situasie te ontlont. Dit was maar een van vele konfrontasies wat redakteurs in die laat jare tagtig met lede van die Regering gehad het.

Nadat Van Deventer in 1989 in Insig geskryf het ‘n sterk vermoede bestaan steeds, ook in die buiteland, dat die Regering met Renamo bly konkel, het adj.min. Wynand Breytenbach by hom op kantoor opgedaag. Genl. Magnus Malan het hom gestuur om “Hennie van Deventer op te donder”. En? “Ek het vir hom gesê ek donder nie my vriende op nie,” het Breytenbach geantwoord. Van Deventer skryf: “Die verskyningsvorm van die politieke ego is legio. Dit strek van diskreet tot totaal arrogant. Die veeleisendste verskynsel is een wat ‘n kreatiewe adjunk-minister ‘publisiteitsvraatsug’ gedoop het ‘n toestand wat in sy akute vorm vir niks stuit nie.”

Hy vertel ook van ‘n ego-relletjie” wat voor die verkiesing van 1987 tot in Tuynhuys opslae gemaak het. Daar was een April-aand ‘n byeenkoms van NP-vroue in die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein. Die spreker was mev. Elize Botha. In haar verwelkoming sê mev. Susie Terblanche, vrou van die destydse LV vir Bloemfontein-Noord, mnr. Gert Terblanche, toe iets oor die vroue van politici wat hul mans moet troos as dié “geestelik verwond” by die huis kom nadat hulle verkeerd aangehaal is. Net daar het mev. Botha die aas gevat: “Hulle sê daar is vier soorte toesprake: die een wat jy voorberei het, die een wat jy hou, die een wat jy wou gehou het en die een waarvan jy in die koerant lees. Soms voel ‘n mens om koerantmense met die handsak by te kom. Hulle moet vaster gevat word.”

‘n Vies Van Deventer besluit toe om van die hele byeenkoms net ‘n foto te laat publiseer, en stuur ‘n boodskap aan Tuynhuys se skakelman, mnr. Jack Viviers, om Die Volksblad se ergernis oor te dra. Viviers bel ná ‘n rukkie terug en sê “hier is ‘n baie ontstelde tante”. Van Deventer moes ‘n oproep verwag. Dit was toe mev. Botha. Sy praat ‘n halfuur lank, met dié hoofverweer: “Maar ek is dan lief vir julle!”

Ook met mev. Marike de Klerk was daar ‘n onderonsie terwyl sy nog die gade van die NP se hoofleier was. Van Deventer, toe reeds uitvoerende hoof van koerante, het in 1996 ‘n uitnodiging van mnr. Abe Williams, NP-LP, gekry na ‘n ete in sy huis. Die De Klerks was onder die gaste. “Eers later sou ek agterkom ek is daardie aand in die vuurlinie as’t ware beskuldigde nommer een, aangekla van al wat ‘n perssonde is.”`De Klerk was krities op sy hoflike manier. Sy vrou, Marike, was strydlustig. Nadat sy eers die gasheer teengegaan het oor sy tafelplasings, het sy ook wat die pers betref, met ‘haar horings in die braambos ingestorm’, volgens haar eie getuienis. FW sloof hom af vir die land, maar kry van sy eie koerante geen erkenning nie, het sy verwyt, en met veelseggende lyftaal half instinktief weggeskram van haar buurman aan haar regterkant.'”

Van Deventer bestee in sy boek ook heelwat aandag aan die Afrikaner Broederbond. Hy was lid van die uitvoerende raad, en vertel dié staaltjie: Die Nieman Foundation by die Harvard-universiteit sou in Mei 1989 sy vyftigjarige bestaan vier en die Suid-Afrikaase Nieman Fellows sou almal daarvoor na Massachusetts gaan. Maar een van hulle, Zwelakhe Sisulu (later grootbaas van die SABC), was in die tronk. Negentien maande al. Toe besoek die destydse minister van polisie, mnr. Adriaan Vlok, die uitvoerende raad van die AB. Van Deventer het hom die hele storie vertel en gewaarsku dat Sisulu, soos Steve Biko, ‘n martelaar kan word. Twee weke later was Sisulu uit die tronk.


In Rapport (28 Maart 1999) skryf Barnard Beukman dat Van Deventer nooit doekies omdraai nie. “Kroniek van ’n koerantman bied nie net insig in sy ervaring as koerantman en sy belewenis van jare se politieke intrige en interaksie met rolspelers uit die ou en die nuwe bedeling nie, maar bied tog weer ’n herinnering aan diegene wat dink die land draai net om ’n noord-suid-as – dat daar ander plekke soos onder andere ook die Vrystaat is – wat dieselfde storm en drang beleef het. En, wat van Deventer probeer te kenne gee, ook ’n belangrike invloed gehad het op wat gebeur het.”

Alle lesers gaan, volgens Beukman, nie met alles in die boek saamstem nie, maar tog is die laaste deel van die boek selfs boeiend, en belangrik sonder enige pretensie om iets voor te gee wat nie was nie.

Meer oor ons

Belangrik: De Novo Boeke is 'n privaat uitgewery wat skrywers help om self hul manuskripte te publiseer.

De Novo Boeke covid-19 advice