Description
Die Evangelie van Thomas is deel van die geskrifte wat in 1945 naby die Egiptiese dorp Nag Hammadi ontdek is deur ‘n paar kleinboere wat besig was om vir bemestingstof te grawe. Die teks bevat gesegdes van Jesus waarvan maar sowat veertig persent ook in die drie sinoptiese Evangelies (Matteus, Markus en Lukas) voorkom – en dit is daarom ‘n besonder interessante geskrif om naas die Bybel te bestudeer. Voor die ontdekking van die Nag Hammadi-geskrifte en die ontdekking van ‘n volledige Koptiese teks (die ou Egiptiese taal, wat sedert die dae van die Ptolemeiese koningshuis met Griekse letters geskryf is) is ‘n paar flentertjies papirus met dele van hierdie Evangelie in Grieks op ‘n ashoop by Oxyrynchus in Egipte gevind. Hierdie tekste sowel as fragmente van die Matteus-evangelie is die oudste Christelike dokumente wat ooit gevind is.
Dikwels is ‘n mens verbaas dat die spirituele pad nie onmiddelik tot sereniteit en kalmte lei nie, maar juis vol stryd en spanning is. Nogtans is dit ‘n reis wat elkeen self moet aflê, voordat jy kan insien dat daar geen dogmas is om aan te glo nie, maar inteendeel ‘n reeks radikale insigte op jou wag wat uiteindelik sal lei tot “kennis van die hart”, of gnosis.
Toe die Switserse sielkundige, Carl Jung, teen die einde van sy lewe gevra is of hy aan God glo, was sy antwoord dat hy nie hoef te glo nie, hy weet. Dit is hierdie soort kalm wete van die hart wat die siel soos ‘n koning op die troon plaas en wat uiteindelik lei tot vrede en “rus”.
Dr Piet Muller se Die Evangelie van Thomas met verklarende aantekeninge bied ‘n leerplan vir spirituele groei, maar waarsku tegelyk dat die pad na ‘n dieper spiritualiteit nie altyd maklik sal wees nie. Die belangrikste vereiste is dat ‘n mens selfkennis moet ontwikkel, waarsonder groei op die spiriituele pad nie moontlik is nie.