Description
Met hierdie storieboek vir kinders wil Louisette haar passie en liefde vir die natuur ook by kinders aanwakker.
Daar is niks in die hele wye wêreld wat so mooi is nie, niks in die wêreld wat so rustig en stil is nie. Dit is die natuur, die bome, plante en diere van die veld! Dit is die wêreld van die Nasionale Krugerwildtuin wat wegkruipertjie speel in dele van ons mooi land, Suid-Afrika.
Dit is hierdie boswêreld wat vol pragtige stories is. Stories wat die diere vir ons wil vertel en vir ons mensekinders meer wil leer van hierdie kosbare wêreld. Mag elke mensekind, groot en klein, hierdie stories kosbaar vind en mag dit vir julle ‘n nuwe wêreld oopsluit waarin ons kan leer om die natuur lief te hê, maar ook te respekteer sodat ons dit vir ons nageslagte kan bewaar.
Talita en haar hele familie woon in die lengte en breedte van die wildtuin. Daarom is dit ‘n goeie plan om vir Talita te vra om vir julle al die stories te vertel, want tarentaaltjies is woelig, nuuskierig, geselserig en bo alles, sommer baie slim.
Van Krokodilbrug in die suide van die wildtuin tot by Pafuri in die verre noorde sal julle Talita en haar familie kan opspoor. Jaaaa, rêrig êrig!
Geniet elke storie en laat Talita vir julle die skatkis van die wildtuin oopsluit. Mag julle vinnig kom kuier om Talita en al die ander diere te ontmoet.