Oupa Mocke en die man p die maan

In 50 big ideas you really need to know deur Ben Dupré lees ek die verstommende stelling dat volgens ’n onlangse opname in die VSA, daar gevind is dat ongeveer twee derdes van die volwasse bevolking van daardie land die kern leerstellings van die “Jong Aarde Kreasoniste” aanvaar. Wat my laat wonder of daardie mense dan nog nooit die asemrowende foto’s wat deur die Hubble teleskoop geneem is gesien het nie. Dit laat my onwillekeurig dink aan my Oupa Mocke.

Oupa en Ouma Mocke en hul 7 kinders was gedurende die Anglo-Boere-oorlogjare bywoners op ’n plaas êrens tussen Loxton en Carnarvon in die Karoo. Ouma Mocke is lank voor my geboorte oorlede. Soos ek verstaan het, het die boer op wie se plaas die Mockes bywoners was uitgeboer en moes Oupa (Ouma was toe reeds oorlede) noodgedwonge die plaas verlaat en dorp toe trek. Die res van sy lewe het hy op Carnarvon gewoon. Die kinders, wat teen daardie tyd omtrent almal reeds getroud was en ook op Carnarvon gewoon het, het beurte gemaak om na Oupa Mocke om te sien. So het dit gekom dat hy ook vir lang tye by ons ingewoon het.

Oupa Mocke het geen skoolgeleerdheid gehad nie en alhoewel die kinders na hom omgesien het, het hy probeer om as ’n groentesmous ‘n geldjie vir homself te maak om darem ‘n mate van onafhanklikheid te behou. Elke weeksdag het hy per voet die dorp plat geloop met sy mandjie vol groente wat hy van huis tot huis gesmous het.

Een van Oupa Mocke se self opgelegde take was om saans wanneer die son gesak het sy hoed op te sit – hy het dit nooit buite die huis gewaag sonder sy hoed nie – om die huis te loop en al die “shutters” (houthortjies voor die vensters) toe te maak en op knip te sit. Oupa het vas geglo hierdie hortjies moes saans in die wintermaande toe wees om te keer dat dit nie “in ryp” nie soos hy altyd gesê het.

’n Ander ritueel wat oupa gereeld gevolg het, was om saans voor slaaptyd, eers sy bors met Vicks in te smeer en dan al die gewrigte met Zam-Buk salf (of Samboksalf soos die meeste mense dit sommer genoem het). Dan het hy sy langmou flennie onderhemp aangetrek, sy pajamas aangetrek, sy slaapmussie, wat my suster vir hom gebrei het om sy pankop warm te hou opgesit, gesorg dat al die vensters dig toe is, by sy bed gekniel en gebid voor hy onder die komberse ingekruip het en die kers doodgeblaas het, reg vir die nag wat voorlê.

Oupa Mocke en ek het party aande voor slaaptyd ‘n rukkie op die voorstoep van ons huis gesit en sommer oor koeitjies en kalfies gesels en na die sterre gekyk. Die sterrehemel was asemrowend mooi omdat daar nie straatligte was om dit te bederf nie. Een aand toe ons weer so op die stoep sit en gesels en die volmaan bewonder – ek was toe al op hoërskool – merk ek terloops op: “Oupa, my meneer by die skool sê daar gaan eendag ‘n man met ’n vuurpyl maan toe gestuur word en hy gaan op die maan land. Doodse stilte. “Hoor oupa?”, vra ek, “hulle sê daar gaan eendag ‘n man op die maan land.” Doodse stilte. Ek wou net weer vra toe ek die bank waarop ons sit voel skud en toe hoor ek die sagte gegiggel hier langs my. “Waaroor lag oupa?”, vra ek. En so deur die giggels deur sê hy: “Jong, sê vir jou meneer ek sê, al is dit ook die grootste volmaan sal dit nog nie deug nie. Die maan is te klein vir ’n mens om op te staan. Hy gaan afglip en hom des moers op die aarde val. In elk geval, wat wil hulle nou juis op die maan gaan staan en neuk?”

En daar sit ek met my mond vol tande. Hoe verduidelik ek vir my Oupa Mocke, ’n man sonder enige geleerdheid, wat net een boek ken, die Bybel, en wat onwrikbaar glo dat die aarde plat is en op pilare staan, wat glo dat die son om die aarde draai en dat die maan ’n klein ronde balletjie is, hoe verduidelik ek vir hom van sonnestelsels, planete en die eindelose kosmos? Dit is doodgewoon nie moontlik nie. En toe wonder ek by myself: Wat maak dit saak dat hy glo soos hy glo? Watter sin is daarin om hom, op sy gevorderde ouderdom, te probeer oortuig van dinge wat aan sy saligheid geen jota of tittel kan verander nie. Ons sit nog ’n rukkie so in stilte en toe sê ek: “Oupa, ek dink oupa is reg. My meneer praat sommer nonsies. Die maan lyk vir my ook te klein vir ‘n man om op te staan.” Oupa antwoord nie maar ek weet hy is tevrede.

Ons sit nog ’n rukkie in stilte en kyk na die sterre en toe is dit tyd vir Vicks, Samboksalf en kerse doodblaas.

En ek wonder of Oupa ooit ‘n oog sou toegemaak het as hy geweet het hy hang eintlik kop na onder aan die aardbol!

Adam se “Eerste Vrou”

In die titel van ‘n plasing op sy blog vra Coenie die vraag of verkragting en mishandeling dalk die skuld van Eva is. Hy toon aan hoedat die verhaal van haar verleiding deur die slang  oor die eeue gebruik is as kapstok waaraan regverdiging vir die behandeling van die vrou as verleidster en minderwaardige wese gehang is. Selfs vandag is daar nog diegene wat daarin voeding vind vir die idee dat die vrou onderdanig aan die man moet wees.

Ek het dit egter nie oor die oorsprong van sonde nie. Ek wil die vraag vra of Eva die eerste vrou is wat gesondig het, d.w.s. as die eet van die appel sonde was. Want daar is ‘n baie algemene storie, met sy wortels in die rabbiniese tradisie en gegrond op Bybelse spekulasie, dat Eva eintlik Adam se tweede vrou was. Hy sou naamlik voor haar reeds ‘n vrou gehad het. En dié se naam sou Lilith gewees het.

Die vroegste spore van die Lilith-storie verskyn in die Mishna, ‘n versameling van wette, regulasies en aannames voortvloeiende uit die Joodse Bybel. Hierna word dit opgeneem in die Talmud, ‘n versameling rabbiniese kommentare, idees en spekulasies oor die Skrif en die Mishna. Wat van belang is, is eerstens dat albei ‘n soort Bybeluitleg is en tweedens dat sowel die Mishna as die Talmud eeue jonger as die Joodse Bybel is.

Die Mishna bevat onder meer pogings om onduidelikhede en skynbare teenstrydighede in die Bybel te verlaar. Een teenstrydigheid wat opgemerk is raak Adam se vrou – of vrouens. Dit het geboorte gegee aan die Lilith-storie.

Die Lilith-storie het deur die loop van die eeue in talle variante gediversifiseer. Almal is egter lote van drie Bybelverse: Gen 1:27, Gen 2:21-22 en Jes. 34:13. Gen. 1:27 lui: “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep”, en Gen 2:21-22: “Toe het die Here God ‘n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het.  Die Here God neem toe ‘n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, en die ribbebeen wat hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ‘n vrou en bring haar na die mens toe”.

Die afleiding is hieruit gemaak dat die eerste, vroeëre vers aandui dat God aanvanklik die man en die vrou gelyktydig en afsonderlik geskape het, terwyl die tweede vers  beteken dat Eva eers later uit Adam se rib geformeer is. Dit was volgens die rabbis dus logies dat Adam ‘n vrou voor Eva moes gehad het.

Die vraag is wie daardie eerste vrou kon gewees het. Haar naam is in Jes. 34:13 gevind: Lilith. Die Afrikaanse  teks lui so: “Wildehonde en hyenas sal mekaar daar kry, veldgode sal na mekaar roep en die naggees sal daar bly en ‘n woonplek vind”.

Dit is interessant dat Bybelvertalings van dié teks verskil. Sommige, soos Afrikaans, gebruik die term naggees of iets soortgelyks, maar verskeie moderne tale behou die naam van die naggees, die vrou Lilith, onveranderd. Dit kan na ‘n teenstrydigheid klink. Dit is egter nie. Die term “naggees” in die Afrikaanse vertaling verwys na ‘n eienskap van die vrou en die ander vertalings behou haar naam.

Maar terug na die storie. Lilith sou dus voor Eva as Adam se vrou geskape wees. Sy was, anders as Eva, ‘n onafhanklike gees wat Adam se gelyke wou wees en nie aan hom onderhorig nie, so lui die verhaal. Sy het onder andere daarop aangedring dat sy tydens geslagsgemeenskap nie net onder hom moes lê nie, maar soms ook, met sy instemming, bo-op hom. Daar word selfs daarop gesinspeel dat sy intelligenter as Adam was.

Adam was nie gediend met so ‘n onafhanklike vrou nie en het volgens een variant van die storie by God daaroor gekla. Waarna sy toe in die hemel opgeneem is, waarvandaan sy nie wou terugkeer nie. As straf vir haar balhorigheid is sy toe na die wildernes verban , waar sy haar op pasgebore kinders sou wreek deur die lewe uit hulle te suig. Iets wat miskien  ‘n verklaring wil bied vir die hoë sterftesyfer onder babas, wat in die vroeë jare baie hoog was.

Die mees algemene variant van die storie is egter dat sy uit die Paradys weggeloop het omdat Adam nie vrede kon maak met haar rebelse geaardheid nie, en “in die wildernis ‘n plek gevind het”, soos die Bybel van die naggees in Jesaja berig.  Na haar vertrek sou Adam sy lot by God bekla het en is ‘n tweede, onderdanige vrou toe vir hom gegee.

In die wildernis het Lilith haar tuisgemaak tussen wilde diere en het sy ‘n naggees geword. Sy sou egter nie tevrede wees met haar self opgelegde ballingskap nie. Sy sou haar as wraak  op latere adams wreek deur hulle met allerlei wellustige nagtelike drome te tart. Sommige vroeë priesters en monikke het haar nagtelike besoeke glo so gevrees dat hulle met kruise tussen hulle bene vasgeklem geslaap het om haar af te weer.

Die Lilith-figuur is nie net tot die Jode en hulle geskrifte beperk nie. Dit blyk dat soortgelyke figure  met soortgelyke eienskappe in kulture van die ou Jode se bure voorgekom het. Daar is veral ooglopende ooreenkomste tussen haar en ‘n Akkadiese naggees bekend as Lilithu.

Die internet loop oor van artikels en ander uitbeeldings van en verwysings na Lilith. Sy figureer onder andere in een skildery as ‘n pragtige, begeerlike naakte vrou met ‘n slang wat om haar lyf krul. Dit is dus verbasend dat sy so onbekend is in Afrikaans. Na my wete is Lizette Rabe se boek, Die 95 Stellings van Lilith X, die enigste waarin sy eksplisiet aan die bod kom. Dit gaan egter nie oor haar en haar persoon nie, maar oor haar as model vir vroulike opstand teen manlike chauveniste en meerderwaardigheid. Die boek word aangebied in die vorm van 95 stellings teen manlike dominansie wat die skryfster by wyse van spreke teen haar rekenaar spyker.

Ek het ook ‘n artikel oor Lilith raakgeloop wat skynbaar as huldiging vir prof. Willie Esterhuyse geskryf is. Ek moet bieg ek kon nie vasstel wie die skrywer is nie. Dit gee die storie weer en lewer kommentaar daarop.

Ten slotte moet daarop gewys word dat daar naas die baie verskille tog sekere paralelle met die storie van Eva waar te neem is. En die vraag moet ook gevra word wat die betekenis van die storie is. Is dit dalk ‘n mite wat sekere tydlose waarhede wil oordra?

Die leser moet self hieroor besluit.

Diek van Wyk


Hierbo verwys Diek na Lizette Rabe se boek, Die 95 Stellings van Lilith X. In die lig van die pas afgelope Sinode van die NG Kerk is dit nogal interessant om te lees wat Lilith X in een van haar 95 stellings o.a oor sinodegangers te sê het:

“Wie dink daardie manne in hul sober swart pakkies in verstarde Afrikaanse kerke is hulle dat hulle dink hulle kan namens vroue besluit oor aborsie? Oor seks? Oor gays? Om te mag deelneem aan ‘n chauvinistiese geloof of nie? of hulle predikante mag wees? “Paulus het gesê hulle mag nie wees nie?’ Wie de fok is Paulus? Hoekom dink julle het sy
geskrifte nog enige betrekking op vandag? Hier? Nou? Die 21ste eeu? Wie dink daardie manne met hul vroom gesigte wat die katjies in die donker knyp, is hulle dat hulle mag oordeel oor gays? En al die ander wat “verlig” is, wat nie “oordeel” nie, wat “oop” is? jy’s nie oop genoeg nie, dominee.”

Klik hier vir meer inligting oor Lizette Rabe se boek, Die 95 Stellings van Lilith X