Blog

Ortopraksie teenoor ortodoksie


Diek van Wyk

Letterlik beteken ortopraksie regte praktyk, of dan reg doen, en staan dit teenoor ortodoksie, wat regte geloof, of reg glo, beteken. In ‘n sekere sin gaan die onderskeid tussen ortodoksie en ortopraksie om niks anders as die ou storie van geloof teenoor werke nie. Daar is egter dieper dimensies daaraan.

Ek was so stoutmoedig om die een en ander oor post-teïsme te probeer lees. Nou moet ek dadelik erken die meeste daarvan is bokant my vuurmaakplek. Maar daar is tog enkele beginsels of begrippe wat bly vassteek het en waaraan ek eie interpretasies kon anker, interpretasies wat op my oudag uiteindelik vir my sin maak. Een daarvan is dat ortopraksie oor meer as net werke of goeie dade gaan: dit is ingebed in ‘n Godsbegrip, of behoort daaraan gekoppel te wees.

Die uitgangspunt van die post-teïsme is dat ons God anders moet konsipieer as volgens die populêre Christelike-Bybelse teïsme. Dit hou meer bepaald in dat ons God nie meer moet sien as ‘n objektief bestaande “persoon” met menslike eienskappe, waaronder veral willekeurigheid, of as ‘n buite-kosmiese mag wat die kosmos beheer nie. Daarom heet dit post-teïsme, d.w.s. na of verby, teïsme.

Nou is ek, ondanks my onkunde, nie so naief om te dink post-teïsme het ‘n enkele of finale antwoord op die God-probleem nie. Op die ou end moet elkeen, soos Gerrit Brand dit eenmaal uitgedruk het, sy eie mind oor God opmaak. Wat my gehelp het om uiteindelik my mind op te maak, was insigte verkry uit drie boeke:

  1. Julian Müller se Geloof Anderkant Sondag, waarin hy onder andere sê dat ons (ook) aan God as ‘n moontlikheid moet dink;
  2. Die filosoof, Richard Kearney, se The God Who May Be, waarvan ek net die inleiding gelees het omdat ek die res nie kon verstaan nie; e
  3. Anatheïsm, ook van Kearney, wat ek na drie probeerslae net halfpad gelees het omdat dit vir my te moeilik is.

Dié boeke het die ratte in my kop aan die beweeg gesit en my by ‘n eie Godsiening uitgebring waarmee ek vrede gekry het en waarmee ek vir die res van my lewe sal kan saamleef. Ek benadruk dit dat dit my eie siening is en nie in die skoene van Julian Müller of Richard Kearney geskuif mag word nie; ek het slegs aanknopingspunte, of dan vertrekpunte vir ‘n eie siening by hulle gekry.

Kearney se boek, The God Who May Be, begin met die stelling: “God neither is, nor is not, but may be.” Daardie God waarvan hy sê dat hy kan wees, is niks anders nie as die God wat Julian Müller, ietwat anders gestel, ‘n moontlike God noem. Dit is iets geweldig uitdagends: ‘n God waarvan jy nie kan sê hy is of hy is nie, maar net dat hy moontlik is, of dan dat hy net kan wees! Jy vra jou af in watter opsig(te) hy nie is nie, in watter opsig(te) hy is en in watter opsig(te) hy kan wees of moontlik is.

Baie kort gestel kom dit daarop neer dat dit die God van die teïsme is wat nie (meer vir die post-teïsme) is nie en dat die God wat is, daardie moontlike God is.

Maar hoe is ‘n moontlike God?

‘n Moontlike God is ‘n abstrakte, metaforiese konsep. Jy moet dit eintlik in hakies skryf omdat dit so anders as die teïstiese God is; jy moet m.a.w. eintlik van “God” praat of, logies gesproke, glad nie meer van “God” praat nie. (Die Nuwe Hervormers en andere het iets beet wanneer hulle praat van “Die Goddelikheid” of “Die Goddelike Beginsel/Prinsipe”, hoewel hulle dit waarskynlik anders as ek konsipieer).

‘n God wat moontlik is, is in magteloosheid, d.w.s. dit is ‘n magtelose God wat net kan wees as “hy” bemoontlik, of dan bemagtig, word. En dit beteken dit is ‘n “God” wat net deur jou en my, d.w.s. deur mense, bemagtig kan word. Anders gestel: ons moet ”God” laat wees.

Daarmee het ek iets van ‘n geloofsbelydenis voorgelê wat vir jou ‘n teleurstelling kan wees: ek glo nie aan ‘n objektief bestaande God “daarbuite”, onafhanklik van myself of van die wêreld nie. Ek glo aan “God” as ‘n ideaal, ‘n potensiaal, ‘n beginsel, ‘n model waaraan ek as Christen in my lewe uitdrukking moet gee. (Kearney noem dit ‘n eskatologiese teenoor ‘n onto-teologiese benadering). Dit is wat ek onder ortopraksie verstaan: nie om sommer net (goeie) werke te doen nie, maar om volgens daardie ideaal, daardie beginsel, te leef.

Die vraag is egter hoe ons “God” in ons lewens kan bemoontlik, hoe ons dié magtelose “God” kan bemagtig of verwerklik. Kearney se boek Anateïsm het vir my leidrade verskaf.

Die ana- in die anateïsme van Kearney verwys na die ana- van analogie. Analogieë, of dan ana-teïstiese voorbeelde, is voorbeelde waarvan ek kan sê: So en so doen die moontlike “God” hom aan my voor, en so en so moet ek daarop reageer. In die praktyk kom dit daarop neer dat ek, as Christen, in die Bybel aanwysings moet vind hoe om God in my lewe te bemagtig. Ek doen dit soos Kearney, maar ook anders as hy.

Daar is verskillende Bybelse analogieë waarop ek my kan beroep. Ek kan bv. begin met die Onse Vader se twee fundamentele bedes: “Laat u wil geskied … op die aarde” en “Laat u koninkryk kom”. Dit is niks anders as bedes om hier, op die aarde, “die Here se wil” volgens ‘n “hemelse ideaal” te laat geskied en om aan “sy koninkryk” (wat “sy wil” verwerklik) gestalte te gee. Dit veronderstel dat ek as Christen weet dat die Godsideaal regverdigheid, getrouheid, lankmoedigheid, verdraag¬saam¬heid, genade, vergewings¬gesindheid en baie ander dinge, maar veral die liefde, behels. Dié bedes spreek my aan dat ek daaraan uitdrukking moet gee, dat ek regverdig, liefdevol, vergewingsgesind en so meer moet wees. Dit is duidelik dat dié twee bedes in wese niks anders is as omvattende oproepe aan my om gehoorsaam aan die eerste groot gebod te wees nie.

‘n Grondliggende en omvattende analogie, is dié van die ongenooide vreemdeling, die vreemdeling wat ek die deur kan wys of wat ek kan innooi – die Bybel noem hom die vreemdeling in ons poorte. In sy mees konkrete vorm vergestalt die vreemdeling hom in jou medemens en veral ook die mens wat nie (goed) aan jou bekend is nie: die huishulp wat vir jou werk, die kelner wat jou in die restaurant bedien, die kassier by die toonbank, die petroljoggie, die verbyganger in die straat wat jou oog vang, die versukkelde arbeider wat in die aand voor jou motor oor die stopstraat in die koue huistoe strompel.

Dit gaan nie alleen om konkrete dade nie; natuurlik daarom ook. Dit gaan veral om ‘n gesindheid, ‘n instelling, ‘n oopstel van die hart, iets wat binne in jou (eintlik in my) moet gebeur. Dit is ‘n gesteldheid wat jou hart laat ineenkrimp elke keer waneer jy lyding, smart en gebrokenheid aanskou, wat jou ontsteld laat oor elke onreg, onderdrukking en ontmensliking. Dit is ‘n gesteldheid wat jou keel laat toetrek wanneer jy tonele aanskou van Nazi strafkampe, wat jou maag laat draai wanneer jy hoor van die volksmoord in Rwanda en wat die woede in jou laat opstuif wanneer jy lees wat tydens die Inkwisie in die naam van die man van Nasaret gepleeg is. Dit is ‘n gesindheid van vereenselwiging met die vreemdeling, van self die vreemdeling word.

Dit is duidelik dat hierdie aspek van die analogie die tweede groot gebod beliggaam. Ek meen dit is hoe post-teïstiese sienings van God as ‘n lydende God of van God as dit wat tussen mense gebeur, ook verstaan kan word. Om namens mense seer te kry en te ly, om liefde te betoon, dit is die bemoontliking en bemagtiging van God, soos ek dit verstaan.

Die vreemdeling manifesteer hom egter nie alleen in mense nie, maar ook in situasies of geleenthede waarby mense betrokke kan wees maar nie hoef te wees nie. Daarom is dit gerieflik om die grondanalogie op te breek in ‘n verskeie deelanalogieë waaraan ek metaforiese eienskappe van “God” kan koppel. So kan ek, al na gelang van die situasie wat hom aan my voordoen, praat van God as die onverwagte (soos vir die Emmausgangers), God die verrassende (soos vir Sara wat op ‘n hoë ouderdom nie wou glo dat sy swanger sou word nie), God die verhelderende (soos telkens vir die dissipels), God die versoberende (soos meermale vir Petrus), God die oorweldigende (soos vir Moses by die braambos), God die uitdagende (soos vir Jakob by die Jabbok), God die veeleisende (soos vir die profete), en so meer.

Laat ek na die praktyk keer en kyk hoe die ongenooide vreemdeling hom in enkele situasies aan jou en my voordoen.

Ek spook jare al met die God-probleem. Ek lees drie boeke. Een is bevatlik, die ander twee bokant my vuurmaakplek. Een sê God is ‘n moontlikheid, die ander sê God kan wees, die derde praat van God as ‘n ongenooide vreemdeling, alles begrippe wat vreemd aandoen. Ek kon gesê het: “Ag, bokker dit, dit is sommer filosofiese of teologiese hoogdrawendheid”, of ek kon probeer verstaan. Ondanks my onkunde het ek probeer verstaan en het daar vir my ‘n nuwe wêreld oor “God” oopgegaan. Ek het die ongenooide vreemdeling ingenooi, hom nie die deur gewys nie. Dit was God die onverwagte. Anateïsties gesproke was ek ‘n Emmausganger wat deur ‘n vreemdeling verras is.

Ortopraksie hou altyd risiko’s in: dinge kan verkeerd loop. Jan Hus moes met sy lewe boet toe hy die veeleisende vreemdeling ingenooi het. Jakob het na sy geworstel met die engel mank geloop.

Die risiko bestaan verder dat die vreemdeling jou gasvryheid gaan misbruik. Die Bybel is vol voorbeelde daarvan. Die geskiedenis van die Christendom wemel van insidente waar gelowiges in lokvalle van ander “gelowiges” beland het; dink maar aan die inkwisisie. In die alledaagse lewe kan jy jou deerlik misgis met iemand aan wie jy in goeie trou liefdadigheid bewys; dit gebeur elke dag met mense wat sogenaamde bedelaars van kos voorsien (en dan vind dit word weg gegooi).

Ortopraksie is ‘n transformeerder en ‘n bevryder. Om te leef volgens “Gods wil” verander jou, dit maak van jou ‘n beter mens. Dit doen egter meer, dit bevry jou van jou ego; dit laat jou andere se belange na waarde skat en jou eie ek op agtergrond skuif. So gesien, is ortopraksie genoeg. Dan erf jy reeds hier op aarde “die koninkryk”. Dan is dit nie nodig om op ‘n hiernamaals te hoop nie. Dan is ortodoksie nie nodig nie. Altans nie in my boekie nie.

Ons Westerlinge het God, Jesus en geloof so geïntellektualiseer dat ons verby die essensie van religie kyk en leef, bygesê: sonder dat ons dit besef. Ons wil hê alles moet tot en met met die verstand geregverdig word. Daarom kan religie nie stand hou teen militante ateïsme nie: ons het nie ‘n kans teen die groot kanonne – amper sê ek kanons – van die koue rede nie. As ons maar besef het dat dit vir die profete van die Ou Testament en vir die Groot Vernuwer, Jesus, gegaan het om transformasie volgens ‘n Godsidee en nie om geloofsbelydenisse en –stellings nie, het kerke nie leeg geloop nie.

En dit, ortopraksie soos ek dit verstaan, in verskillende gewade, is wat alle wêreldreligieë, in hulle essensies, nie in hulle fundamentalistiese uitwasse nie, verkondig. Alle groot religieë gaan om ortopraksie. Almal sê die wêreld is morsig en almal sê, in uiteenlopende tale en tongvalle en idiome, die enigste manier om die wêreld te verbeter is om “God” (as lewensmodel) bo alles lief te hê en jou naaste soos jouself, ongeag die konsekwensies. Slegs dan sal jy vrede vind.

Diek van Wyk
1 Februarie 2016