So het die Joernaal dan ontstaan: ‘n gereelde instelling en met ‘n naam ontleen aan die nogal vleiende opmerking van die oud-kollega. Met ‘n aweregse koppigheid het ek dit aanvanklik die Paradys Journaal genoem, maar later na die moderner spelling oorgeslaan. Ek het egter volgehou om dit as twee woorde te skrywe, enersyds omdat ek dit as taalkundig korrek beskou en andersyds omdat ek daarvan hou om dinge op my eie manier te doen.
Die Joernaal het sy beslag en sy formaat dus eintlik eers met die derde aflewering gekry. Dit is eers later dat die koerantbriewe by die reeks geïnkorporeer is. Daarom dan die verskil in aanhef en afsluiting tussen die eerste twee briewe en die aflewerings wat volg.
Die Joernaal het aanvanklik maandeliks uitgegaan na ‘n sirkulasielys van om en by 20. Soms was daar meer ontvangers en soms minder. Van tyd tot tyd het ek die lys probeer verkort omdat ek gemeen het dat belangstelling daarin sou afneem, maar telkens is ek gemaan om dit nie te doen nie. So het dit dan gekom dat daar by die bundeling hiervan 64 aflewerings hulle weg na lesers gevind het.
Ek is nie ‘n natuurlike skrywer nie, altans nie in die opsig dat ek ooit heeltemal tevrede is met wat ek geproduseer het nie. Woorde kom nie maklik na my nie; ek moet diep in ‘n onwillige woordgeheue delf om hulle te vind. Haas elke aflewering het dus verskeie redaksionele wysigings ondergaan, ook nadat dit die lig gesien het. Hoewel die bewoording plek-plek aangesuiwer is, is die inhoud egter onaangeraak gelaat.
Waarom ek die Joernaal dan bundel as ek weet dat ek later tog sal voel dat dit beter geskrywe kon gewees het? Basies om vier redes.
Die eerste en belangrikste rede is ‘n toevallige een. Die rekenaardisket waarop ek die rugsteunkopieë van die Joernaal bewaar het, het onverwags defektief geraak, met die gevolg dat ek nie toegang daartoe kon kry nie. In ‘n onbesonne poging om die disket reg te dokter, het baie aflewerings verlore geraak en het dié wat oorgebly het, heeltemal deurmekaar geraak, met stukkies van verskillende aflewerings in elke dokument. Die resultaat was onontwarbaar. Dit was slegs danksy ‘n skandeerder waarmee ek van die oorblywende “harde” kopieë “sagte” kopie op die rekenaar kon terugkry, dat ek dit kon red. Iemand wat al probeer het om ‘n Afrikaanse teks met ‘n skandeerder en verouderde tegnologie in te lees, sal weet hoe korrup die resultaat is. Dit het weke en maande van frustrerende redigering gekos voordat die Joernaal se feniks weer uit die as van die ramp kon verrys. In die proses het ek my voorgeneem dat dit in boekvorm groter permanensie moet kry.
‘n Tweede rede was dat dit ‘n verlengstuk moes word van die Herinneringe en Belewenisse oor my jeug en loopbaan wat ek ter wille van my kinders, en gedeeltelik ook vir my broers en susters, geskrywe het. Deurdat dit ‘n voortgaande reeks is, dateer dit die Herinneringe deurlopend op.
Derdens kan dit, soos hopelik ook die Herinneringe, ‘n kultuurhistoriese dokument word wat dalk, al is dit net in ‘n beperkte kring en al bied dit ‘n hoogs persoonlike siening van dinge, interessantheidswaarde hê. Een van die gereelde ontvangers van die Joernaal het trouens gesê dit is geskiedenis wat jy nie in handboeke of in die koerante kan kry nie.
Laastens is dit, soos ek ontdek het toe die rekenaardokumente verlore gegaan het, vir my self ‘n bron van inligting waaruit ek telkens ‘n terugblik kan kry op hoe ons lewens in Paradysstrand van maand tot maand verloop het, hoe ons dit op verskillende stadia belewe het en hoe ‘n mens self in die proses verander het. In dié opsig is dit anders as my Herinneringe: dit is nie terugskouend nie maar is geskrywe terwyl die belewenisse en gedagtes wat daarin vervat is, lewend was; dit het gefokus op wat pas gebeur het en nie op wat lankal verby was nie.
Die Joernaal het met rukke en stote verskyn, aanvanklik ongeveer maandeliks, maar later, soos die momentum afgeneem het en daar nie meer altyd iets interessants was om oor te berig nie, met groter wordende tussenposes. Soos die tyd aangegaan het, het die gapings al groter geword en het die Joernaal sekere jare selfs glad nie verskyn nie.
Die Joernaal moes noodwendig op ‘n stadium afloop. Dit het gebeur toe ons ons huis in Paradysstrand verkoop en na Eedenglen in Jeffreysbaai verhuis het. Die laaste twee aflewerrings, wat berig oor ons verhuising en daarna, is dus, streng gesproke, nie meer Paradys Joernale nie, maar ‘n joernaal van die afsluiting van twaalf en ‘n halwe gelukkige jare en ‘n epiloog onderskeidelik.
Die Joernaal gee indrukke en belewenisse weer wat oor ‘n betreklike lang, en veral gelukkige tydperk van my lewe opgeteken is en daarom deur my hebbelikhede en onhebbelikhede gekleur is. Miskien, miskien – wie weet?– herken die leser ook iets van die skrywer agter al die gebeurtenisse, anekdotes en beskrywings wat daarin opgedis word.
Diek van Wyk
Jeffreysbaai
2010