Hier staan ek

Hier staan ek…
Maar ek kan nie sê wie is nie
Maar ek is nie alleen nie

Duisende mense in die Afrikaanse gemeenskap voel verwyderd van die fundamentalistiese en dogmatiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets fout is met hulle. Getrou aan hul Afrikaanse karakter, soek hierdie mense nuwe gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke.

Hier is ‘n paar uittreksels uit resensies oor die boek wat in die media verskyn het:

Beeld van 17 Desember 2011: ”Die boek is ‘n goeie lees werd vir elkeen wat twyfel en leef met ongemaklike vrae oor God. Dit is ook bedoel vir die kerk, juis omdat dit nie bloot `n emosionele katarsis teenoor die kerk is nie. Trouens, tradisionele gelowiges word glad nie aangeval nie.”

Volksblad van 17 Desember 2011: “Die boek, Hier Staan Ek … vertel die stories van bekende (bv. Lina Spies en Piet Muller), maar meestal onbekende gelowiges wat oor jare heen anders oor God begin dink en met pyn en selfs verwerping afskeid geneem het van die kerk. Hiermee saam het hulle ook afskeid geneem van ‘n letterlik dogmatiese verstaan van die Bybel as Woord van God; `n beeld van God wat mense straf en beloon, miljoene ander tot die hel veroordeel, willekeurig ingryp in die geskiedenis, en daarmee saam die uniekheid van die Christendom.”

Wilhelm Jordaan: “Die boek oor die geloofsreise van 5 praktiserende predikante (verstaanbaar anoniem) en 19 ander mense (soos Piet Muller, Lina Spies, Jean Oosthuizen, Izak du Plessis en Sakkie Spangenberg) na vreemde en nuwe landskappe van geloof, is ‘n boeiende verkenning van wat mense met hul twyfel maak. Toe ek dit klaar gelees het, had ek ‘n knop in my keel.”

Klik om voorwoord te lees

’n Brief aan ons lesers

Liewe Leser,

hier_ekWanneer jy hierdie boek die eerste keer deurblaai, sal jy jou miskien afvra waarom ons ’n versameling stories wou bundel, waarin ’n aantal skrywers vertel van hul spirituele groei en ontwikkeling weg van waarhede wat nie meer vir hulle sin gemaak het nie, en van koersveranderings wat hulle in hul geloof gemaak het.

As antwoord hierop vra ons jou om, voordat jy die boek aandurf, ’n paar minute te luister na ons verduideliking van wat ons bedoeling daarmee was, en begrip hê vir wat die verskillende skrywers probeer sê.

Oor die afgelope paar jaar het ons drie redaksielede opgemerk dat heelwat van ons vriende en kennisse, net soos ons, probleme ondervind, of ondervind het, met kerke se boodskap en met die verstaan van die Bybel. Om watter redes ook al, was hulle egter huiwerig om daaraan uiting te gee. Ons sal nie verbaas wees as daar meer van diesulkes is as wat algemeen vermoed word nie. Miskien sluit dit jou wat nou hier lees, ook in.

Ons het dus gereken dit sou ’n goeie idee wees om die stories bymekaar te bring van ’n aantal persone wat uit ’n stewige kerklike agtergrond kom, maar wat om ’n verskeidenheid redes nie meer tuis of gemaklik voel met die godsdienstige inhoude waarmee hulle grootgeword het en geleer is nie. Wat hulle vertel kan, so meen ons, ’n aanduiding wees van die soort probleme waarmee nie net leke nie maar selfs ook teologies geskooldes worstel. En daaruit kan almal wat van geloof erns maak iets leer – ook kerke en mense wat nié die sienings deel wat hier gelug word nie.

Die stemme wat jy sal hoor, is dié van ’n paar mense van wie se standpunte ons bewus geword het. Die name van enkeles van hulle is dalk aan jou bekend, maar van die meeste het jy waarskynlik nog nie gehoor nie. Dit is presies wat ons wou hê: Ons wou aan jou ’n wye spektrum stemme voorhou, ’n spektrum van bekend tot onbekend, dus van die soort mense van wie jy ongemaklike vrae en opinies sou verwag, maar ook mense van wie jy dit miskien nié sou verwag nie. Die skrywers wat ons aan jou voorstel, moes uit verskillende dampkringe en van verskillende agtergronde kom, aan verskillende invloede blootgestel gewees het, verskillende persoonlikhede hê en hulle op verskillende paaie bevind. Ons wou met ander woorde ’n verskeidenheid sienings laat hoor: van berustend tot opstandig, en in stemme wat wissel van bedaard tot uitgesproke. Die een raakpunt wat al die skrywers by mekaar uitbring, is egter hul reise na nuwe geloofsinsigte; hul soeke na groter duidelikheid as dit waarmee hulle begin het.

Ons het bydraers gevra om hul spirituele reise openhartig, uit die hart, met ons te deel. Dit moes vertel hoe en waarom dit gebeur het dat hulle koersveranderings in hul geloofslewe ondergaan het. Dit moes in die eerste plek stories wees en nie teologiese diskoerse nie, hoewel geloofstandpunte onvermydelik deel van die vertel-lings sou uitmaak. Ons wou met ander woorde die mense agter die reise aan die woord stel.

Ons wil eerstens jou aandag op ’n drietal aspekte van die bydraes in die boek vestig, wat jou sal help om ’n geheelprentjie te kry.

Wanneer jy na die persoonlike besonderhede van die skrywers kyk, sal jy merk dat nie een van hulle jou spreekwoordelike “angry young man” of “woman” is nie. Elkeen het al ’n hele ent op die lewenspad gevorder. Trouens, ’n hele paar het al afgetree. Sommiges het al die Bybelse “three score and ten” jare bereik en enkeles is selfs nog ouer. Dus almal mense wat lank en ernstig oor hul geloof besin het.

Wat jy ook sal merk, is dat nie ’n enkele skrywer ’n “ateïs” in die gewone sin van die woord is nie. Toegegee, hulle verstaan of konseptualiseer God, Jesus en die Bybel miskien anders as jy. ’n Hele aantal voel ook nie meer tuis in kerke nie. Maar elkeen het ’n nuwe Godsbegrip gevind, ’n ander boodskap in die Bybel ontdek, of Jesus op ’n onortodokse manier beleef, wat vir hulle betekenisvol is – al verskil dit miskien van jóú sienings. Maar vir een en elkeen is geloof haar of sy erns.

Let ook daarop dat, hoewel kerke onvermydelik by die naam genoem word, kerke en diegene wat konvensioneel glo, nie veroordeel of aangeval word nie. Inteendeel, in meer as een bydrae word by name waardering uitgespreek vir teoloë en bedieners van die Woord vir hulle vormende invloed, ook al is die uitkoms miskien nie wat dié mentors sou wou sien nie.

Let ook op hoeveel deelnemers spesifiek noem dat dit nie hulle begeerte is om ander tot hulle sienswyses oor te haal nie. Wat jy sal vind, is slegs stories van skrywers wat miskien onortodoks of dalk anders as jy glo. Hierdie boek is bedoel as spreekbuis vir hulle, en ’n poging om beter begrip en hopelik ook gesprek te bevorder. Ons wil ook graag enkele aspekte van die stories uitlig waarop jy veral kan let as jy ’n verkondiger van die Evangelie is of in ’n kerklike amp staan.

Iets wat jou sal opval, is hoeveel skrywers getuig dat hulle geloofslewe op skuldgevoelens, angs en vrees gebaseer was en dat hulle hul daaruit moes ontworstel. En dit geld nie net ’n ouer geslag nie; jy sal lees dat selfs jong mense bieg dat hulle dieselfde emosies ervaar. Dalk sal jy dan saam met ons vra hoe dit gebeur het dat vrees so sentraal in mense se belewenis van die Christelike bood-skap staan.

Nog iets wat jy meermale sal teëkom, is dat mense bang is, of was, om twyfel uit te spreek of om kritiese vrae te vra, bang omdat hulle veroordeling of verwerping of ander negatiewe reaksies vrees. Jy sal ook lees dat wanneer daar wel vrae gevra word, dit dikwels deur dié wat dit hoor, geïgnoreer word, ontwyk word, afgemaak word as ongeloof, of veroordelend ontvang word, selfs op die hoogste vlak. Hierdie “twyfelaars”, by gebrek aan ’n beter woord, kry met ander woorde nie antwoorde op hulle vrae nie, of kry antwoorde op vrae wat hulle nie gevra het nie, om ’n ou cliché te gebruik.

Let verder daarop hoeveel bydraers tot hierdie bundel teen die bors gestuit word deur bloeddorstige stories in die Bybel en deur aaklighede wat sowel in Bybelse verhale as later in die geskiedenis in die Naam van God gepleeg is. Dit sal jou ook nie ontgaan nie dat verskeie deelnemers kwellings het, of gehad het, oor teenstrydighede en stellings wat gewoon teen ’n mens se verstand indruis, in die Bybel en in kerke se verkondiging.

Natuurlik sal teoloë en verkondigers van die Woord verklarings en verduidelikings vir en antwoorde op die meeste van hierdie kwellings hê, indien nie op alles nie. Dit is egter nie die punt nie. Wat ons deelnemers se stories wel sê, is, “So het ons dit gehoor, so het ons dit gelees, en so het ons dit verstaan.” Verklarings, verduidelikings, antwoorde of selfs net openlike bespreking vanuit kerkgeledere het die skrywers wie se stories hier opgeneem is, dus nie bereik of oortuig of bevredig nie. Om ’n ander cliché te gebruik: Hulle het geluister na wat nie gesê is nie.

Jy as leser sou ook opgelet het hoeveel van die skrywers in ons boek teologies opgelei is. Ons het dit nie so beplan nie, trouens, ons het aanvanklik doelbewus gekonsentreer op “gewone” gelowiges. Soos ons gehoor het van die een na die ander potensiële deelnemer, het daar egter al meer name van teologies geskooldes na vore gekom. Dit hou ’n duidelike boodskap in: Dit is nie net leke wat worstel met probleme soos dié wat hier uitgelig is nie; selfs vir dié wat deur die wyer lens van ’n teologiese agtergrond kyk, bly daar onduidelikhede, onsekerhede en kwelvrae wat tot koersveranderinge in mense se geloof kan lei.

’n Paar medewerkers het om begryplike redes verkies om anoniem te bly. Ons het hul bydraes in ’n afsonderlike afdeling saam gegroepeer onder die subtitel hier staan ek … maar ek kan nie sê wie ek is nie. Die tweede afdeling van die bundel, die bydraes van medewerkers wat onder hul eie name geskryf het – en onder hulle is ook ’n paar teologies geskooldes – het ons hier staan ek … en ek is nie alleen nie genoem.

Wat ons nou van jou vra – of jy teoloog of leek, twyfelaar of skeptikus, simpatiek gesinde of vyandiggesinde is – is om by die lees van die verskillende bydraes met aandag en ’n oop gemoed te luister na wat elke skrywer te vertel het. Vergeet ’n oomblik van jou eie standpunte. Gaan staan in elkeen se skoene, beleef sy/haar belewenisse en loop haar/sy ervarings, argumente en pleidooie na.

Gaan sit by wyse van spreke langs ’n klein dogtertjie en luister grootoog saam met haar na die donderende slae van ’n goed bedoelende dominee op die kansel terwyl hy die vrees van God by die gemeente indreun, en probeer dan verstaan hoe haar reis daarvandaan verder verloop het. Lees deur die oë van ’n skrywer hoe Pizarro die goedgelowige Inkas in die naam van God afgemaai het en probeer sy ontsteltenis oor die misbruik van die Bybel ervaar. Stap saam met ’n toegewyde sendeling langs sy drie stasies na ’n volgende vlak van insig en probeer verstaan waarom hy sy kerk vir groter begrip vra. Luister na die worsteling en pyn van ’n gelegimiteerde wanneer sy veranderde insigte die kerk se pad met hom laat doodloop, ook al het jy nie simpatie vir sy standpunte nie. Probeer die eerlikheid en integriteit herken waarmee skrywers bieg dat hulle opgehou het om ’n, wat hulle betref, uitgediende Godsbegrip te vertrou, of afskeid moes neem van die geloof waarmee hulle grootgeword het.

Lees elke bydrae met dié gesindheid en jy sal met ’n ander indruk die boek neersit; jy sal weet dat jy jou in die geselskap bevind het van mense wat hul geloof diep en ernstig deurdink en beleef het, al is dit soms op maniere wat jy vreemd mag vind.

As jy dalk self een van diegene is wat twyfel of ongemaklike vrae het wat jou gemoed kwel, wil hierdie boek en die stories daarin jou aanmoedig om daarmee na vore te kom. Daar is simpatieke ore wat na jou sal luister en jou op jou reis sal bystaan. Let maar weer eens op hoeveel teoloë en kerklikes wat skrywers direk of indirek ondersteun het, deur hulle by die naam genoem word. En as dit nie help nie, is daar andere, soos diegene wie se stemme hierin opklink, wat na jou sal luister. Miskien vind jy selfs in een of meer van die bydraes antwoorde op die vrae wat jý het.

’n Laaste opmerking. Jy sal merk hoeveel skrywers bely dat hulle spirituele reise nog nie voltooi is nie, dat hulle geestelike groei voortgaan. Geloof is vir hierdie skrywers nie ’n statiese, afgehandelde aangeleentheid nie, maar ’n proses wat steeds oopstaan vir ontwikkeling. Al ons deelnemers, ook dié wat dit nie in soveel woorde sê nie, is pelgrims op reis na ’n bestemming waar daar ruimte is vir ’n verskeidenheid blikke op die misterie van die werklikheid.

Dit is met dié gesindheid van sowel openhartigheid as oopheid vir verdere ontwikkeling dat ons die boek saamgestel het. Daarom is dit onder meer ’n pleidooi aan kerke en hulle verteenwoordigers om met groter begrip en insig, en indien moontlik ook groter inklusiwiteit, om te gaan met diegene wat lastige vrae het en oënskynlik stroomop is, maar tog die geloof nie wil versaak nie.

As jy dit so aanvaar, het ons in ons doel met hierdie bundel geslaag.

Neem die boek nou op en vertrek saam met ons bydraers op reise wat ons glo vir jou ’n stimulerende leeservaring kan wees.

Lekker lees!

Die Redaksie

Hierdie boek is tans op promosie. Bestel jou kopie van Pa, Ma. Ek is Gay en kry ‘n e-boek kopie van Hier staan ek GRATIS.

Latest Posts

  • The Unbearable Pain of Being
    The Unbearable Pain of Being
    Foreword Anli Schuin 20 February 1968 – 13 November 2003 On 13th November 2018 we will mark the 15th anniversary of the night Anli, our daughter, sister, mother, aunt and sister-in-law, ended her own life and changed all our lives for ever. This collection of poems and...
  • Afrikaans-Japannese Woordeboek
    Afrikaans-Japannese Woordeboek
    アフリカーンス語・日本語辞典 Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het vroeër vanjaar (2018), ‘n besondere Erepenning toegeken aan prof. E.F. (Ernst) Kotzé vir uitnemende bydrae tot en diens aan Afrikaans as wetenskaps- en standaardtaal. Prof. Kotzé is emeritus hoogleraar en navorsingsgenoot en dosent van die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth....

Teken in op ons nuusbrief

Vul die vorm in en stuur as jy ons gereelde nuusbrief wil ontvang.

In hierdie boek kyk Jean Oosthuizen krities na die NG Kerk se geskiedenis sedert Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap, tot waar die kerk vandag is. In sy bestaan van meer as 350 jaar het die NG Kerk en die Nasionale Party so verstrengel geraak dat die kerk as “die Nasionale Party in gebed” bekend gestaan het. Die teoloog Ferdinand Deist se voorspelling in die laat tagtigerjare dat die kerk sal ondergaan wanneer apartheid tot ’n einde kom, blyk vandag in die kol te wees. As instelling wat apartheid uit die Bybel geregverdig en verdedig het, het die kerk se vernietigende invloed nie alleen gemeenskappe in Suid-Afrika van mekaar vervreem nie – ook lidmate wat kritiese vrae gestel het, is na die periferie geskuif. Talle individue se menswaardigheid is geskend en verskeie loopbane is onder die dekmantel van Christenskap vernietig, soos die skrywer self kan getuig. Oosthuizen se blik strek egter wyer as sy ervaring toe hy in 2013 as nuusredakteur van Kerkbode geskors is ná die opspraakwekkende Woordfees-debakel. Sy reis vanuit die kerk se binnekring sluit die verhale in van gelowiges sowel as ongelowiges wie se paaie met die NG Kerk gekruis het. Die opkoms en ondergang van die NG Kerk bied ’n kontemporêre blik op die tragiese geskiedenis van ’n instelling wat deur die aandadigheid aan verontregting stelselmatig irrelevant geraak het.

Jean se boek kan by enige van die bekende boekwinkels aangekoop word of van takealot.com bestel word teen die afslagprys van R 229. Die Boek kan ook as e-boek (Kindle weergawe) by Amazon.com aangeskaf word.