Dis soos dit was

Dis soos dit was

Hier is ‘n uitreksel uit een van die storietjies as voorsmakie van wat in Dis Soos Dit Was aangebied word:

“In 2009 was dit die 500ste herdenking van die geboortejaar van die Hervormer Calvyn. Snaaks, maar elke keer as ek die naam Calvyn sien of hoor spring my gedagtes meer as vyftig jaar terug na Vanwyksvlei.

Vanwyksvlei is ‘n klein Karoodorpie, eintlik meer ‘n boeresentrum, so omtrent halfpad tussen Carnarvon en Prieska. Daar is ‘n groot dam waarvan die water vir ‘n klein bietjie besproeiingsboerdery aangewend was – dis nou wanneer dit in daardie wêreld wel vir ‘n verandering gereën het en die dam water gekry het. Daar was darem ‘n Sekondêre skool op die dorp, d.w.s. dit het tot Std 8 (graad 10) gegaan. Daarna moes die kinders na groter skole, meestal op Prieska of Carnarvon, vir hul Std 9 en matriek jare gaan of na die spogskole in die Paarl of Stellenbosch. Maar al was dit net ’n sekondêre skooltjie het hulle nogal ‘n lekker rubyspannetjie gehad.

Ons Carnarvoners het elke jaar ‘n tuis- en wegwedstryd teen hulle gespeel. Omdat hulle skool net tot Std 8 gegaan het, moes ons tweede span teen hulle eerstespan speel. Ons was darem toegelaat om die paar van ons eerstespanspelers wat nog in Std 8 was in ons span in te sluit. Ook maar onder protes want Vanwyksvleiers het gevoel dit is bietjie onregverdig om manne wat al eerstespan ervaring het teen hulle te laat opdraf.

Op ’n stadium het hulle twee kranige manne in hul span gehad, die broers Luther en Calvyn. Waarom die twee outjies nie later Springbokke geword het nie weet ek nie, want hulle was regtig baie goeie spelers. Wanneer ons span teen hulle gaan speel het, het ons afrigter altyd vooraf planne uitgewerk hoe ons die twee mannetjies in toom moes hou. Nie dat dit veel gehelp het nie, want hulle was net te goed.

In daardie dae was daar nie iets oos grasvelde waarop ons rugby gespeel het nie. Die rugbyvelde was deur die bank klipharde grondvelde waar jy gereeld jou knieë en elmboë nerfaf geval het. In die skool kon jy gedurende wintermaande altyd weet watter seuns speel rugby. Dit was die manne wat met rowe en pleisters op hul elmboë en knieë rondgeloop het.

Vir een of ander rede, waarskynlik om bietjie kalk te spaar, is net die buitelyne en doellyne van Vanwyksvlei se rugbyveld met kalk uitgemerk. Die kwartlyne en middellyn was met slotjies (wat met die dun punt van ’n pik getrek is) aangedui. Vir ons het dit nie ‘n probleem veroorsaak wanneer ons op Vanwyksvlei se veld moes speel nie maar een keer het dit vir hulle ‘n effense probleem veroorsaak toe hulle by ons op Carnarvon kom speel het.

Die wedstryd het daardie dag besonder gelykop verloop en ons Carnarvoners moes alles uithaal om te keer dat hulle nie met ons weghol nie. Veral Calvyn was daardie dag kookwater en ons moes ons keer ken om hulle van ons doellyn af weg te hou. Ons was hier naby die einde nog voor toe Calvyn skielik met die bal onder die arm wegbars en afsit na ons doellyn. Dit lyk na ‘n seker drie vir Vanwyksvlei en ons jaag soos ‘n spul honde agter ‘n haas agter hom aan. En daar by ons kwartlyn duik hy met ‘n sierlike boog oor die lyn en druk ‘n pragtige drie – agter die kwartlyn. Dit gee ons manne kans om by te kom en die bal oor die kantlyn te werk. Die eindfluitjie blaas kort daarna en ons stap as wenners van die veld.

Agterna wou almal weet wat het met Calvyn gebeur. Het hy dan gestruikel of iets? Waarom het hy dan oor die kwartlyn geduik en ‘n drie gedruk? En toe kom die storie uit. Hy het ons aanstormende verdedigers dopgehou toe hy so uit die hoek van sy oog die wit kalklyn hier voor hom sien. Omdat hy aan Vanwyksvlei se veld gewoond was waar net die doellyn wit gekalk is, het hy gedink hy is reeds oor die doellyn en dis hoekom hy sy drie daar gedruk het. En so het Calvyn se foutjie gemaak dat ons die wedstryd gewen het.”

Die stories en staaltjies in hierdie boek is op ’n manier ’n nostalgietrip.  By die lees van die boek moet die volgende onthou word:

  1. Dit is beslis nie ’n poging tot geskiedskrywing nie. Dit is sommer net stories. Ek kan ook nie met my hand op die Bybel sweer dat die stories wat hier vertel word presies net so gebeur het nie en dat alles die volle waarheid en niks anders as die waarheid is nie.
  2. Ek vermoed dat sommige van die stories oor die jare ook maar stertjies bygekry het. Mark Twain het nie verniet gesê: “When I was younger, I could remember anything, whether it happened or not, but I am getting old, and soon I shall remember only the latter.” Hierby het Oscar Wilde later bygevoeg: “Memory is the diary that chronicles things that never have happened and couldn’t possibly have happened.”

Hierdie klompie stories is ’n gesamentlike poging van my en my neef, Mocke Vermeulen. Mocke se ouers, Ant Baby en Oom Dries, het destyds die Afrikaner Losieshuis op Carnarvon besit.

Sommige van die stories het heel waarskynlik oor die jare stertjies bygekry. Maar lees maar self van Mocke se bobbejaan en wat gebeur het in die Sentrale Kafee toe die bobbejaan vir die hond geskrik het. Of daardie storie van hoe die Glucose Stout-drinkery op die rugbylorrie amper ‘n paar van ons se skoolloopbaan verongeluk het. En wat van die aflosspanne wat met die kêrel wat homself ooreet het, op en af langs die spoorlyn moes hardloop om sy lewe te red.

Hierdie is lekkerlees stories en staaltjies oor gewone mense in die Carnarvon-kontrei, van mense wat jare gelede op hulle unieke plattelandse leefwyse,  probeer het om ’n sinvolle bestaan te maak. Dit word aangebied met heelwat humor en so hier en daar slaan ’n bietjie deernis deur.

Latest Posts

  • The Unbearable Pain of Being
    The Unbearable Pain of Being
    Foreword Anli Schuin 20 February 1968 – 13 November 2003 On 13th November 2018 we will mark the 15th anniversary of the night Anli, our daughter, sister, mother, aunt and sister-in-law, ended her own life and changed all our lives for ever. This collection of poems and...
  • Afrikaans-Japannese Woordeboek
    Afrikaans-Japannese Woordeboek
    アフリカーンス語・日本語辞典 Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het vroeër vanjaar (2018), ‘n besondere Erepenning toegeken aan prof. E.F. (Ernst) Kotzé vir uitnemende bydrae tot en diens aan Afrikaans as wetenskaps- en standaardtaal. Prof. Kotzé is emeritus hoogleraar en navorsingsgenoot en dosent van die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth....

Teken in op ons nuusbrief

Vul die vorm in en stuur as jy ons gereelde nuusbrief wil ontvang.

In hierdie boek kyk Jean Oosthuizen krities na die NG Kerk se geskiedenis sedert Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap, tot waar die kerk vandag is. In sy bestaan van meer as 350 jaar het die NG Kerk en die Nasionale Party so verstrengel geraak dat die kerk as “die Nasionale Party in gebed” bekend gestaan het. Die teoloog Ferdinand Deist se voorspelling in die laat tagtigerjare dat die kerk sal ondergaan wanneer apartheid tot ’n einde kom, blyk vandag in die kol te wees. As instelling wat apartheid uit die Bybel geregverdig en verdedig het, het die kerk se vernietigende invloed nie alleen gemeenskappe in Suid-Afrika van mekaar vervreem nie – ook lidmate wat kritiese vrae gestel het, is na die periferie geskuif. Talle individue se menswaardigheid is geskend en verskeie loopbane is onder die dekmantel van Christenskap vernietig, soos die skrywer self kan getuig. Oosthuizen se blik strek egter wyer as sy ervaring toe hy in 2013 as nuusredakteur van Kerkbode geskors is ná die opspraakwekkende Woordfees-debakel. Sy reis vanuit die kerk se binnekring sluit die verhale in van gelowiges sowel as ongelowiges wie se paaie met die NG Kerk gekruis het. Die opkoms en ondergang van die NG Kerk bied ’n kontemporêre blik op die tragiese geskiedenis van ’n instelling wat deur die aandadigheid aan verontregting stelselmatig irrelevant geraak het.

Jean se boek kan by enige van die bekende boekwinkels aangekoop word of van takealot.com bestel word teen die afslagprys van R 229. Die Boek kan ook as e-boek (Kindle weergawe) by Amazon.com aangeskaf word.