Die Evangelie van Thomas met verklarende aantekeninge

Die Evangelie van Thomas met verklarende aantekeninge

Die Evangelie van Thomas is deel van die geskrifte wat in 1945 naby die Egiptiese dorp Nag Hammadi ontdek is deur ‘n paar kleinboere wat besig was om vir bemestingstof te grawe. Die teks bevat gesegdes van Jesus waarvan maar sowat veertig persent ook in die drie sinoptiese Evangelies (Matteus, Markus en Lukas) voorkom – en dit is daarom ‘n besonder interessante geskrif om naas die Bybel te bestudeer. Voor die ontdekking van die Nag Hammadi-geskrifte en die ontdekking van ‘n volledige Koptiese teks (die ou Egiptiese taal, wat sedert die dae van die Ptolemeiese koningshuis met Griekse letters geskryf is) is ‘n paar flentertjies papirus met dele van hierdie Evangelie in Grieks op ‘n ashoop by Oxyrynchus in Egipte gevind. Hierdie tekste sowel as fragmente van die Matteus-evangelie is die oudste Christelike dokumente wat ooit gevind is.

Dr Piet Muller se Die Evangelie van Thomas met verklarende aantekeninge bied ‘n leerplan vir spirituele groei, maar waarsku tegelyk dat die pad na ‘n dieper spiritualiteit nie altyd maklik sal wees nie. Die belangrikste vereiste is dat ‘n mens selfkennis moet ontwikkel, waarsonder groei op die spiriituele pad nie moontlik is nie.

Jesus sê:
Soek en moenie ophou voor jy gevind het nie.
En as jy gevind het sal jy verbaas wees.
As jy verbaas is sal jy jou verwonder
En jy sal oor die Alles heers en rus vind.

Dit is ‘n baie goeie beskrywing van die spirituele pad wat dikwels ontstellend, eensaam en vol verrassings kan wees. ‘n Mens kan byvoorbeeld glo dat Vers 1 beteken dat wie Jesus se woorde verstaan verseker is van ‘n fisieke voortbestaan na die dood, net om uiteindelik te vind dat Jesus iets radikaal anders bedoel het.
Dikwels is ‘n mens verbaas dat die spirituele pad nie onmiddelik tot sereniteit en kalmte lei nie, maar juis vol stryd en spanning is. Nogtans is dit ‘n reis wat elkeen self moet aflê, voordat jy kan insien dat daar geen dogmas is om aan te glo nie, maar inteendeel ‘n reeks radikale insigte op jou wag wat uiteindelik sal lei tot “kennis van die hart”, of gnosis.

Toe die Switserse sielkundige, Carl Jung, teen die einde van sy lewe gevra is of hy aan God glo, was sy antwoord dat hy nie hoef te glo nie, hy weet. Dit is hierdie soort kalm wete van die hart wat die siel soos ‘n koning op die troon plaas en wat uiteindelik lei tot vrede en “rus”.

Latest Posts

  • The Unbearable Pain of Being
    The Unbearable Pain of Being
    Foreword Anli Schuin 20 February 1968 – 13 November 2003 On 13th November 2018 we will mark the 15th anniversary of the night Anli, our daughter, sister, mother, aunt and sister-in-law, ended her own life and changed all our lives for ever. This collection of poems and...
  • Afrikaans-Japannese Woordeboek
    Afrikaans-Japannese Woordeboek
    アフリカーンス語・日本語辞典 Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het vroeër vanjaar (2018), ‘n besondere Erepenning toegeken aan prof. E.F. (Ernst) Kotzé vir uitnemende bydrae tot en diens aan Afrikaans as wetenskaps- en standaardtaal. Prof. Kotzé is emeritus hoogleraar en navorsingsgenoot en dosent van die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth....

Teken in op ons nuusbrief

Vul die vorm in en stuur as jy ons gereelde nuusbrief wil ontvang.

In hierdie boek kyk Jean Oosthuizen krities na die NG Kerk se geskiedenis sedert Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap, tot waar die kerk vandag is. In sy bestaan van meer as 350 jaar het die NG Kerk en die Nasionale Party so verstrengel geraak dat die kerk as “die Nasionale Party in gebed” bekend gestaan het. Die teoloog Ferdinand Deist se voorspelling in die laat tagtigerjare dat die kerk sal ondergaan wanneer apartheid tot ’n einde kom, blyk vandag in die kol te wees. As instelling wat apartheid uit die Bybel geregverdig en verdedig het, het die kerk se vernietigende invloed nie alleen gemeenskappe in Suid-Afrika van mekaar vervreem nie – ook lidmate wat kritiese vrae gestel het, is na die periferie geskuif. Talle individue se menswaardigheid is geskend en verskeie loopbane is onder die dekmantel van Christenskap vernietig, soos die skrywer self kan getuig. Oosthuizen se blik strek egter wyer as sy ervaring toe hy in 2013 as nuusredakteur van Kerkbode geskors is ná die opspraakwekkende Woordfees-debakel. Sy reis vanuit die kerk se binnekring sluit die verhale in van gelowiges sowel as ongelowiges wie se paaie met die NG Kerk gekruis het. Die opkoms en ondergang van die NG Kerk bied ’n kontemporêre blik op die tragiese geskiedenis van ’n instelling wat deur die aandadigheid aan verontregting stelselmatig irrelevant geraak het.

Jean se boek kan by enige van die bekende boekwinkels aangekoop word of van takealot.com bestel word teen die afslagprys van R 229. Die Boek kan ook as e-boek (Kindle weergawe) by Amazon.com aangeskaf word.