Te veel Godsdiens as probleem

Hierdie artikel deur wyle Dr Nico Smith kom uit ‘n versameling van ongepubliseerde opstelle onder die opskrif  OOR GOD, GODSDIENS EN GELOOF ( Stof tot nadenke) wat hy oor n hele aantal jare geskryf het.

Een van my doktersvriende het by geleentheid toe ons twee gesinne bymekaar was, die oorbekende ou verhaaltjie vertel van die jong dokter wat by ‘n ou dokter sy prakties gaan doen het. Saam het hulle verskeie pasiënte gaan besoek. Dit was die tyd toe dokters ook nog huisbesoek gaan doen het. By die eerste pasiënte het die ou dokter, nadat hy die vrou ondersoek het, vir haar gesê sy rook te veel. Terug in die motor wou die jong dokter weet waarom hy dit vir die pasiënt gesê het terwyl daar geen aanduiding was dat sy rook nie. Die ou dokter het toe verduidelik dat ‘n dokter altyd ‘n bietjie in die kamer moet rondkyk as hy ‘n pasiënt besoek. Dit gee hom dikwels ‘n leidraad van die pasiënt se siekte. Terwyl hulle in die kamer was, het hy onder die bed ingeloer en daar ‘n asbakkie vol sigaret-stompies gesien en geweet sy rook te veel.

By die volgende pasiënt was dit die jong dokter se beurt om die diagnose te maak. Toe hulle vertrek, sê die jong dokter vir die pasiënt: “Mevrou, godsdiens is goed maar te veel godsdiens kan nadelig wees.” Toe hulle buite kom, wou die ou dokter weet waarom sy jong kollega so ‘n vreemde uitspraak gemaak het. Wat het hy bedoel met te veel godsdiens? Die jong dokter het verduidelik dat hy die ou dokter se raad gevolg het, sy stetoskoop laat val het en toe ongemerk onder die bed van die pasiënt ingekyk het. En daar het hy die plaaslike dominee sien lê. Hy wou alleen maar die pasiënt bewus maak van die feit dat hy weet van haar skelmstreke.

Nadat ons almal geskater het van die lag (die ou grappie was op daardie tydstip nog onbekend), vra die vyfjarige seuntjie van ons vriend wat die verhaal gesit en aanhoor het, ewe kinderlik: “Pappa, nou hoekom het die oom onder die bed gelê en nie bo-op die bed nie?” Husse met lang ore het die verhaal goed gehoor maar kon nog nie die betekenis daarvan begryp nie. Sy Pa het op ʼn taktvolle manier verduidelik waarom die oom dominee onder die bed gelê het.

Die hele verhaal het my egter oor die probleem van té veel godsdiens aan die dink gesit. Is deel van ons ‘siek-wêreld’ nie juis ook dat die mens te veel met die godsdiens besig is nie? Godsdiens kan sekerlik ‘n goeie ding wees maar te veel daarvan, lyk dit my, vererger die toestand van ons ‘siekte’ eerder as wat dit tot die genesing daarvan bydra. En dit geld nie maar slegs vir ons huidige wêreld nie maar vir die wêreld deur sy eeue lange geskiedenis. Godsdienste het baie goeie dinge in die wêreld tot stand gebring. Dit sou onmoontlik wees om sonder meer te bepaal watter godsdiens die grootste bydrae gelewer het om die lewe op ons planeet meer leefbaar te maak. Daarvoor ken ons die werklike funksie van die verskillende godsdienste op die psige en lewe van die aanhangers daarvan, nog te min.

Natuurlik eis elke godsdiens sy bydrae op as die grootste. En juis dit is die kern van die probleem. Die aanspraak op die beste en hoogste en enigste waarheid wat deur elke godsdiens opgeëis word, is juis die bron van talle konflikte en stryd in ons wêreld. Godsdienste mag miskien nie gelyk wees in hulle positiewe bydrae tot die lewe op aarde nie. In die slegte wat hulle tot hierdie ondermaanse bestaan bygedra het, staan hulle egter almal gelyk. Wanneer die werklike bron van alle konflik, stryd en oorlog in ons wêreld bestudeer sou word, sou tot geen ander gevolgtrekking gekom kan word nie as dat godsdiens op een of ander wyse tot die konflik bygedra het. Geen oorlog in ons wêreld het nog ooit sonder enige godsdienstige dryfveer ontstaan nie. Te veel godsdiens het inderdaad die toestand van ons wêreld nie verbeter nie.

Wat is dit in die godsdienste wat daartoe aanleiding gee dat hulle tot konflik en stryd in die wêreld bygedra het eerder as om vrede te help bewerkstellig? As vernaamste faktor sou seker die magsfaktor genoem moet word. Mag verleen aan mense oormag. Vanuit ‘n magsposisie kan mense in die mees magtelose posisie ‘n bepaalde aggressiwiteit ontwikkel wat aan hulle ‘n gevoel gee van sterker te wees en beter te wees as die ander. Dit is veral in die naam van God wat die grootste oorheersing en onderdrukking van mense in die geskiedenis van die mensdom plaasgevind het. God verleen gesag en gesag beteken mag. Vanuit die oortuiging dat God dit van ons eis, wie die God ook al mag wees, sal mense hulle lewe as ‘n offer gee in die oortuiging dat hulle hul lewe aflê in gehoorsaamheid aan hulle God. Met God aan jou kant, weerstaan jy alle teëstand. Die gesag wat die mens aan God toegeken het, gebruik die mens dan weer om sy/haar eie gesag te regverdig. Om verantwoordelik op te tree en verantwoordelikheid vir eie lewe en die wêreld te aanvaar, is te groot risiko. Daar moet goddelike gesag opgeëis word vir besluite en handelinge. Juis hierin lê die kern van die probleem. Die mens se lewe word beheer deur goddelike gesag, deur goddelike beheer, deur goddelike inspirasie.

Watter hoop het die wêreld op vrede, op ko-eksistensie in plaas van ‘n voortgaande magstryd tussen die volke van die wêreld? My persoonlike oortuiging is dat tensy die verskillende godsdienste tot ‘n onderlinge vredesverhouding met mekaar kom, die hoop op wêreldvrede tevergeefs sal wees. Omdat ek glo in die oorwinning van goed oor kwaad, van die kreatiewe oor die destruktiewe weier ek om te glo dat wêreldvrede nie haalbaar is nie. Hierdie skepping en die mens, was nie bedoel om uitgewis te word nie. Daarvoor is die mens en die skepping te mooi. En wat mooi is, kan nooit vernietig word nie.

Wat behels vrede tussen die godsdienste? As eerste vereiste sou genoem kan word dat elke godsdiens sy aanspraak op absoluutheid sal moet prysgee. Om alleen-aanspraak op die waarheid te maak, bly die vernaamste oorsaak van konflik tussen die godsdienste. Op grond van hierdie aanspraak, word die reg opgeëis om bekeringswerk onder almal te doen wat nie tot die eie godsdiens behoort nie. Sendingwerk deur die godsdienste word dan as ‘n goddelike verpligting beskou en die bekering van alle mense tot die eie godsdiens word as die finale oplossing vir alle probleme van die wêreld beskou. Uit hierdie ban van die gode, sal die godsdienste bevry moet word. Juis die godsdienste sal tot die insig moet kom dat hulle nie alle mense tot hulle geloof sal kan oorhaal nie. Daarom sal hulle saam moet bly voortbestaan, mekaar respekteer en met mekaar beraadslaag hoe hulle saam hierdie wêreld en die mens tot diens kan wees en veral hoe om die mensdom op die pad na vrede heen te lei.

Dit wil my voorkom of godsdiens (tigheid) besig is om wêreldwyd toe te neem – so asof in die aangesig van bedreiging, die godsdienste hulle nut en bestaansreg wil toon en verseker. Natuurlik is dit so dat die mens van nature ʼn godsdienstige wese is. Dit beteken dat die godsdiens as te ware aangebore is by die mens. Vandag word reeds deur neuroloë beweer dat hulle ʼn bepaalde sentrum in die menslike brein geïdentifiseer het wat as die sentrum van die godsbewussyn van die mens aangedui sou kon word. Ek glo dat hierdie ‘ontdekking’ eerder spekulasie as wesenlike fisiese feit beskou kan word. Maar feit bly dat die mens ʼn religieuse wese is en dit sekerlik ook altyd sal bly. Die vraag is egter waarom godsdienstigheid tans in die wêreld besig is om op te bloei en selfs te floreer.

Hierop sou verskillende antwoorde verstrek kon word. In die eerste plek, glo ek, dat die mens wél ʼn aangebore afhanklikheidsgevoel het. Die grote wêreld waarin die mens gebore word en waaroor die mens nie werklik mag het nie, maak ons almal reeds vroeg in ons lewe bewus van ons ongeborgenheid in die wêreld waarin ons leef. En hierdie gevoel van ongeborgenheid het in ons huidige wêreld duisend maal vervoudig. Daarvan oortuig die Pers en Televisie ons daagliks. In die mens se soeke na vastigheid, na sekerheid in ʼn wêreld vol onsekerhede, bied juis die godsdiens sodanige vastigheid. En dié sekerheid bied die godsdienste dan juis deur die mens te verseker dat God in beheer is en dat die mens hom/haar geheel en al aan God kan toevertrou wat dan vir ons bestaan verantwoordelikheid sal aanvaar. Trouens, God sal ons selfs bevoordeel en ons met welvaart beloon as ons Hom/Haar met toewyding sou dien. Trouens, dit kan voordelig wees om godsdienstig te wees – rykdom op aarde of maagde in die hemel!

En namate die onsekerheid in die wêreld toeneem, neem dan ook die godsdienstigheid toe en daarmee ook die gevoel van mag wat godsdiens aan die mens toesê. En juis dit sou as die kern van die huidige toename in godsdienstigheid aangedui kan word. Dis die gevoel van mag en outoriteit waarmee godsdienstigheid mense beklee wat weer een van die sentrale probleme word in die verhoudings tussen mense. In die kerke, sinagoges, moskees, tempels, ens., sluip die aanspraak op gesag en mag in in menslike verhoudings. Dit wil voorkom dat hoe godsdienstiger die mens raak, hoe aggressiewer die mens raak. Mag en gesag maak mense selfversekerd en aggressief. In so ʼn mate selfs dat godsdienstigheid mense daartoe dryf om hulle eie lewe op te offer ter wille van die mag wat hulle glo hulle oor beskik. Met die mag van hulle godsdienstigheid is hulle bereid om lewende bomme te word om sodoende hulle oormag te bewys.

Wat is die godsdienstigheid wat ek glo die mensdom tot diens sal wees? Is daar Úberhaupt sodanige godsdienstigheid? Miskien moet ek liewers vra wat is die geloof in ʼn godheid wat die mens op ʼn weg sal voer van groter diensbaarheid aan mekaar en dus tot groter vrede in ons wêreld? Ek glo dat elke godsdiens hierop ʼn eie antwoord kan (en moet) verstrek. Vir my persoonlik is die geloof wat sin maak die geloof in ʼn genadige God wat daarom van my ook genade vra ten opsigte van my hele bestaan. En om in en uit en deur genade te leef, genadig te leef, beteken om soos die Man van Nasaret dit aan ons oorgedra het, naamlik om myself altyd weer prys te gee in diens van die naaste. Dis dié soort godsdienstigheid wat ek glo ons wêreld juis tans meer nodig het as ooit te vore. Natuurlik kan prysgawe van die self ook daartoe aanleiding gee om hulleself as lewende bomme te laat vernietig. Maar sodanige prysgawe is niks anders as ʼn magsvertoon nie. Ek gee myself prys om my mag deur geweld te toon. Werklike prysgawe van die self is juis die neerlê van eie mag, die bereidheid om te dien in plaas van te heers.

Nico Smith
Pringlebaai
28.12.1994.

 

Latest Posts

  • The Unbearable Pain of Being
    The Unbearable Pain of Being
    Foreword Anli Schuin 20 February 1968 – 13 November 2003 On 13th November 2018 we will mark the 15th anniversary of the night Anli, our daughter, sister, mother, aunt and sister-in-law, ended her own life and changed all our lives for ever. This collection of poems and...
  • Afrikaans-Japannese Woordeboek
    Afrikaans-Japannese Woordeboek
    アフリカーンス語・日本語辞典 Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het vroeër vanjaar (2018), ‘n besondere Erepenning toegeken aan prof. E.F. (Ernst) Kotzé vir uitnemende bydrae tot en diens aan Afrikaans as wetenskaps- en standaardtaal. Prof. Kotzé is emeritus hoogleraar en navorsingsgenoot en dosent van die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth....

In hierdie boek kyk Jean Oosthuizen krities na die NG Kerk se geskiedenis sedert Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap, tot waar die kerk vandag is. In sy bestaan van meer as 350 jaar het die NG Kerk en die Nasionale Party so verstrengel geraak dat die kerk as “die Nasionale Party in gebed” bekend gestaan het. Die teoloog Ferdinand Deist se voorspelling in die laat tagtigerjare dat die kerk sal ondergaan wanneer apartheid tot ’n einde kom, blyk vandag in die kol te wees. As instelling wat apartheid uit die Bybel geregverdig en verdedig het, het die kerk se vernietigende invloed nie alleen gemeenskappe in Suid-Afrika van mekaar vervreem nie – ook lidmate wat kritiese vrae gestel het, is na die periferie geskuif. Talle individue se menswaardigheid is geskend en verskeie loopbane is onder die dekmantel van Christenskap vernietig, soos die skrywer self kan getuig. Oosthuizen se blik strek egter wyer as sy ervaring toe hy in 2013 as nuusredakteur van Kerkbode geskors is ná die opspraakwekkende Woordfees-debakel. Sy reis vanuit die kerk se binnekring sluit die verhale in van gelowiges sowel as ongelowiges wie se paaie met die NG Kerk gekruis het. Die opkoms en ondergang van die NG Kerk bied ’n kontemporêre blik op die tragiese geskiedenis van ’n instelling wat deur die aandadigheid aan verontregting stelselmatig irrelevant geraak het.

Jean se boek kan by enige van die bekende boekwinkels aangekoop word of van takealot.com bestel word teen die afslagprys van R 229. Die Boek kan ook as e-boek (Kindle weergawe) by Amazon.com aangeskaf word.