Jean Oosthuizen se preek

 

Die Preek Van Die Leek is ’n inisiatief wat in Nederland ontstaan het en wat nou vir die derde keer ook in Suid-Afrika aangebied word.

Vroeër het predikante groot invloed op die samelewing gehad. Hierdie rol word in moderne samelewings dikwels deur skrywers, komediante, joernaliste, politici en wetenskaplikes oorgeneem.

As projekspan dink ons dit behoort spannend te wees wanneer persone uit hierdie omgewings op die kansel sou klim met ʼn Bybelteks in die hand. Ons is nuuskierig om te sien hoe die optrede van so ʼn persoon in die vorm van ʼn kerkdiens kan tuiskom waar daar gebid, gesing, gelees en gepreek word. Hierdie openbare figure wat preek is nie gekies op grond van hul geloofsoortuigings maar op grond van hul dapper en kreatiewe deelname aan openbare debatte en hul invloed in die samelewing – want predikante van ons tyd dra lankal nie meer toga’s nie.”

Hier is Jean Oosthuizen se preek wat hy onlangs in die NG-gemeente Stellenbosch-Wes gelewer het.

Eintlik is ek ʼn joernalis maar net ʼn getuie van die dinge wat om hom in die wêreld gebeur en wat hy sien gebeur – en boonop ook maar ʼn subjektiewe getuie –  . Sy eie mening is nie regtig belangrik nie. En dit is in daardie gees wat ek vanaand ʼn paar gedagtes wil deel.

Skrywers, digters en sangers is eintlik die mense wat tot my spreek wanneer dit gaan oor dit wat ons God of die goddelike noem. Daarom het ek vir Lina Spies gevra om vanaand se diens te begin deur een van haar gedigte voor te lees die Geloofsbelydenis van ʼn afvallige.

Die geloofsbelydenis van ‘n afvallige

Ek glo in die skeppende God
van die wordende heelal
wie se naam te heilig was
om uit te spreek:
Jahwé, die God van Israel,
wat ‘n vader geword het
vir Jesus van Nasaret,
die wonderskone boodskapper
van die onmoontlike liefde,
deur wie God my vader
maar ook my moeder is.
Ek glo in die Heilige Gees
wat mense in alle tye
inspireer tot werke
wat die stempel dra
van die ewige.
Ek glo dat omdat ek lewe
ek aan alle lewendes
sorg en deernis verskuldig is
en ek glo dat as ek sterf
ek opgeneem sal word
in die durende siklus
van vernuwing en verval
en dat die lewe triomfeer
in elke geboortekreet
omdat die lewe magtiger is
as die dood.

Lina Spies: Duskant die einders (2004)

Sang: Psalm 42:1 en 5

Ons sing die beryming van Lina Spies

Smagtend soos in dorre streke
Hoor my na U, Here roep.
Gee my van U helder water
En ʼn skadu teen die gloed.
O, ek skroei, Heer van die pyn
Oor die skare se venyn.
God wat heers in alle tye,
Laat my sing, bring hul tot swye.

5.

Maar die dag kom uit die donker
en die nag het ook sy lig
In my twyfel hou ek, Here,
Steeds die oog op U gerig.
O, hoe het die lied verstom
As net trane uit my kom.
U is nog my helper, Vader,
En ek weet U trek my nader.

Teks: 1 Konings 19 vers 9- 13

Die digter MM Walters het geskryf:

O Groot Onbekende
van wie niks bekends is
behalwe die groot onbekendheid …
Êrens moet die mens weer voor begin,
nuut dink oor die groot vakuum,
die vraagteken wat god is.
En nuut begin,
vra vir ʼn oop gemoed,
bekend met sy beperkinge
en die verbeeldingrykheid van die gees. – M.M. Walters

Ek vind nogal baie van daardie onbekendheid van dit wat ons God noem in die Bybel. Toe Elia in die Koningsverhaal ter wille van sy lewe vir Isebel gevlug het, het hy onder ʼn besembos gaan sit en gewens hy gaan dood.

Die storie of die verhaal van Elia vertel van ʼn engel wat hom wakkermaak. Elia eet en veertig dae en veertig nagte loop hy dan tot by Horeb die berg van God. Elia het God in die sterk stormwind gesoek. Maar in die wind was die Here nie. Toe soek hy hom in die aardbewing. Maar in die aardbewing was hy nie. Daarna soek hy hom in die vuur. Maar in die vuur was hy ook nie.

Elia het dit wat ons God noem gevind in die fluistering van die windstilte. Die Ou Afrikaanse vertaling stel dit nog mooier en praat van die gesuis van ʼn sagte koelte.

Nie in die belydenis van ʼn kerk of een of ander bekeringspreek van ʼn pastoor of ʼn dominee nie maar in die gesuis van ʼn sagte koelte.

In sy lied Katedraal vind ek iets soortgelyk by Coenie de Villiers wanneer hy sing:

In my kerk is daar geen dak nie
geen reliëf of skildery
geen kandelaar wat hoog moet hang nie
almal kan hier toegang kry
want my koepel is die hemel
hoog genoeg vir al die sterre
breed genoeg vir die planete
hier sal jy stilte
hier sal jy vrede
hier sal jy rus by my kom kry
In my kerk is daar geen mure wat ’n horison beperk nie
daar’s geen deure en geen slot nie
geen register om te merk nie
want die berge is die suile
waar die arende kan skuilhou
ja, die vlaktes is my vloere
hier sal jy stilte
hier sal jy vrede
hier sal jy rus by my kom kry

Hier sing Coenie van die skepping as die groot katedraal en hoe mense daarin meer tuis voel as in tradisionele katedrale/kerk.

Elia was gelukkig dat hy die Here in die natuur gesoek en hom in die fluistering van die wind gevind het.

Die Duitse filosoof Frederich Nietzsche wat bekend is vir sy woorde God is dood vertel ʼn ander verhaal.

In The Gay Science wat al in 1882 geskryf is soek die “mal” mens in Nietzsche se verhaal God op die besige markplein … maar die mense is te besig om God te vind…. te besig om geld te maak …. Hulle lag hom uit. Toe dag hy as daar één plek is waar hy God sal vind is dit in die kerk. Hy gaan soek God toe dáár. In die kerk. Maar God was nie daar nie. En dan sê die mal man die woorde wat ons almal ken… God is dood. “Ek sê vir julle, óns het hom doodgemaak. Julle en ek. Almal van ons is sy moordenaars.

Party mense sê Nietzsche het nie bedoel God is dood nie, maar wel dat ons bewussyn van God gesterf het.

But how did we do this?, vra hy in die Engelse vertaling.  How could we drink up the sea? Who gave us a sponge to wipe away the entire horizon? What was the holiest and mightiest of all bled to death under our knives”

Dan gooi die mal man die lantern waarmee hy God soek stukkend en sê: I have come to early. This deed is stilt too distant for people to see, and yet they have done this to themselves. They have killed God!”

Nietzche skryf dit in 1882. Dit was profetiese woorde. Wat het in die kerk, teologie en wêreld gebeur dat ons bewussyn van God gesterf het? Dalk het ons in die kerk van God self te veel van ʼn afgod gemaak in plaas daarvan om eerder die goddelike in die fluistering van de wind te hoor soos Elia. Dalk soek ons die goddelike op die verkeerde plekke.

Wanneer mens oor God of die goddelike praat moet mens maar versigtig wees. Dit maak nie saak of jy ʼn filosoof, dominee, of ʼn leek soos ek en jy is nie. Almal weet ewe min daarvan. Eintlik niks. Iemand anders het eenkeer gesê, hy wat weet dat hy niks van God weet nie, ken God dalk die beste.

Dit is dikwels die spreekwoordelike vrate en wynsuipers – die mense met wie Jesus gemeng het wat dit wat ons God noem die beste ken. Sommige beskou hulle vandag steeds as Christene. Party noem hulleself Christene in ballingskap. Ander wil hulle glad nie meer met die term Christen identifiseer nie.

Al die ervarings wat ek binne en buite die kerk gehad het, het my geslyp tot wie ek vandag is. Soos Koos Kombuis het ek in my omswerwinge meer as een keer die duiwel se hand geskud. Maar ek het ook die hand van engele geskud. Dikwels was die duiwels wie se hand ek geskud het binne in die kerk en die engele op my pad was dikwels die ongelowiges daar buite. Ek het die goddelike op onverwagse plekke ontmoet.

In Barend J. Toerien se gedig Tant Miem by die biduur vra tant Miem vir die ouderling: “Oor wie sal ons, ons vandag bekommer. Wie met karwats tot bekering bring? Of bid ons sommer?”

In ‘n resensie wat Jan van der Merwe ʼn paar jaar terug in Kerkbode geskryf het oor Hendrik Venter se boek God ek is ook hier, sê hy: Net soos by tant Miem, het daar die afgelope meer as twee dekades ‘n obsessiewe bemoeienis by Afrikaners ontstaan jeens hulle kerk en godsdiens. Afrikaners het onbeskaamd die kerk se standpunte begin bevraagteken en in sommige gevalle selfs verwerp en die sin van lewe buite die kerk gaan soek..

In sy onlangse boek Geloof anderkant Sondag verwys Julian Müller na hierdie skuif.

Geloof anderkant Sondag, sê Julian, verwys na ʼn nuwe verstaan van geloof wat nie so aan mensgemaakte kerklike strukture en dogma gebonde is nie. Dit staan losser van die kerk en is immer soekend  na dit wat anderkant die kerk lê.

In dié geestelike omgewing is daar ʼn groeiende skeptisisme oor ʼn onkritiese aanhang van die dogmas en gebruike van die kerk.

Om anderkant Sondag te glo, bring jou volgens Julian Müller, as’t ware in ʼn soort niemandsland. Dit is woestyngebied waar mensgemaakte godsdiensbeoefening weggeval het of nie meer sin het nie.

Baie mense bevind hulle soos Elia onder die besembos.

Julian slaan die spyker op die kop as hy sê dit is dalk nie aldag vir hulle ewe duidelik presies waarheen hulle op pad is nie. Maar wat hulle wel weet, is dat hulle nie weer kan terugkeer na die tradisionele manier van dink, praat en doen nie.

Vir my persoonlik verwoord Julian dit treffend in een van sy gedigte agter in die boek en hy noem dit God buite die kerk en stem ooreen met dit wat Elia ervaar  het.

Hy skryf:

Ek weet God is nie vas te vang in woorde of strukture nie
Juis dit maak my ongemaklik en bang.
God voel soms so onbereikbaar en onwerklik.
Soms weer net so werklik en naby soos die winterson op my skouers.
Maar in kerklike organisasies en rituele het ek God nog selde ervaar.
Eerder in die waterstroom wat kabbel of  in die nimmereindigende
beweging van die oseaan.
Wanneer die kerkleiers met allerlei woordspelings wil voor-
skryf hoe God is en hoe God gedien behoort te word,
verloor ek belangstelling.
Wanneer triomfantelike verklarings opgestel word oor God wat
lewe, sterwe God in my binneste.
Aan die ander kant staan God vir my op in die geboorte van
ʼn kleinkind: gewoon, natuurlik, alledaags, buitengewoon wonderlik.
Ek wil nie meer aangesê word om te bid en te sing nie.
Ek wil nie meer opgeroep word om te bely nie.
Ek wil liewer net in voeling kom met die beweging van die
Gees in my binneste en in harmonie met my eie lyflikheid.
God ontglip my wanneer mense sy teenwoordigheid probeer
organiseer en struktureer.
God omvou my wanneer ek God nie soek nie, maar toevallig
struikel oor die groot Onbeskryflike.

Soos wat die boekdrukkuns in die Middeleeue alles verander het, het die koms van die internet ook ‘n rewolusie in die God-debat teweeg gebring.

Voor die koms van die boekdrukkuns was die kerk ontevrede met die toenemende aantal handgeskrewe Bybels wat in omloop gekom het. Hulle wou keer dat dit in gewone mense se hande beland. Jan Huss, ʼn vroeë Hervormer uit die omgewing van die huidige Tsjeggië, het die lees van die Bybel deur almal voorgestaan. Maar die kerk het besluit dat almal wat nie die Vulgaat gebruik nie, tereggestel moes word.

Huss is hiervoor en vir sy standpunte in 1415 verbrand … die vuur is glo aangesteek met bladsye uit een van John Wycliffe se handgeskrewe vertalings van die Bybel wat hy uit die Latynse Vulgaat in Engels vertaal het.

Maar vandag het mense hulle “vrees” vir die kerk en dominee verloor. Soos Elia vind al hoe meer mense God (of die goddelike) eerder in die fluistering van die wind en nie meer in die georganiseerde godsdiens nie.

Die kerk bepaal nie langer alleen die agenda waaroor gepraat mag word wanneer dit oor God gaan nie – selfs al probeer hy soos wat soms die geval is. Die kerk hoef nie bang te wees dat hy mense na twyfel begelei nie. Dit gebeur al van die Bybelse tyd sommer vanself en is doodnormaal.

Die georganiseerde kerke het baie dinge waaroor mense wil praat. Die teologiese regverdiging van apartheid is maar net één daarvan. Die kerk se standpunt oor homoseksualiteit en baie ander sake word nie meer aanvaar net omdat een of ander sinode daaroor besluit het nie.

Dis lankal nie meer net Jona en die vis waaroor mense vrae vra nie. Maagdelike geboorte, opstanding, hemelvaart, lewe na die dood, die hemel en die hel. Alles is vandag oop vir bespreking en onderhewig aan kritiese denke.

Dit was veral ná my aanstelling as kerkjoernalis by Kerkbode in 2002 dat ek vir die eerste keer die geloofsmuur van albei kante mooi kon bekyk. Ek is tegelyk toegelaat om vanuit die kerk se diepste binnekring verslag te doen oor kerksake, maar ek het ook vir die eerste keer in my lewe persoonlik betrokke geraak by mense wat anders as ek glo of wat glad nie meer in God glo nie.

As kerkjoernalis het ek dikwels gesien en self ervaar hoe een ding in die openbaar gepredik word, maar agter die skerms gebeur die teenoorgestelde. Dik agendas en sinodeverslae is aan die orde van die dag. Liefde en omgee word meermale ’n koue agendapunt iewers op papier.

In sy boek God en die gode van Egipte skryf die filosoof Willie Esterhuyse dat die vraag wie God is, glad nie so eenvoudig is soos wat dit klink nie

Daarom is die Bybel met al sy wonderlike verhale én teenstrydighede waarvan daar talle is, nie vir my die “onfeilbare” Woord van God nie, want ek verstaan nie wat presies word daarmee bedoel nie. Iemand moet dit nog vir my in gewone Afrikaans verduidelik.

Ek respekteer die Bybel as brondokument van my geloofslewe, maar dit kan nooit God se eie woorde wees nie. Hoe kan dit? Kan énige God tussen die buiteblaaie van ’n mensgeskrewe boek vasgevang word en steeds God wees? Ek dink nie so nie.

Deur die Bybel het ek geleer van gewone mense soos Elia se vrae en worsteling oor God. Daarin het ek iets geleer van Jesus van Nasaret, wat onherroeplik deel is van my lewe. Ek kan nie daarvan ontslae raak nie.

Maar dié God wat mens soos Elia in die fluistering van die windstilte hoor is ’n gans ander God as die een wat mens soms in die kerk of selfs op party plekke in die Bybel raakloop.

Ek ervaar die woord “God”  as ʼn metafoor vir die bron van lewe. Dit dryf my om voluit te leef. Ek ervaar God as die bron van liefde. Dit spoor my aan om ander mense lief te hê en ook die natuur waarvan ek deel is. Ek dink bo alles wil God (hoe ons die term God ook mag definieer)  hê dat ons mekaar mateloos moet liefhê.  Dalk wil hy of sy eerder Goed met ʼn hoofletter genoem word as God.

Eintlik moet ek erken ek weet niks van God af nie. Alles wat ons oor God sê, is hoogstens wat ons hóóp God is en ons eie projeksies van wie óns dink God is. God bly vir my ’n raaisel.

En soos vir Elia ʼn fluistering in die windstilte. Die gesuis van ʼn sagte koelte.

Verlede jaar skyf ek ʼn artikel vir ʼn koerant en ek vra vir Koos Kombuis hoe dink hý oor die Bybel en hy antwoord my en sê: “Ek hou van die Bybel, maar liefs buite die konteks van teologie of argumente. Om die waarheid te sê, ek dink nie ek is ʼn Christen nie, ek is dalk net ʼn biddende humanis. Maar daar is miskien meer van ons as wat die kerk besef.”

In 2004 toe ek nog vir Kerkbode gewerk het, het ons vir Koos Kombuis gevra om vir ons iets oor sy geloof in Kerkbode te skryf. ʼn Soort van geloofsbelydenis. En daarmee sluit ek af. Ek sê nie jy moet daarmee saamstem nie. Maar luister daarna. Gebruik dit wat vir jou werk en ignoreer dit waarvan jy nie hou nie.

KOOS KOMBUIS (22/10/04)

“Ek glo nie in God nie.
Ek glo in die Vader.
Ek glo in die gemeenskap van die weerloses.
Ek glo in oumas en oupas.
Ek glo in Vader Krismis, maar op ’n effens ander manier as wat ek in die hemelse Vader glo.
Ek glo in Langenhoven se spookstories, hoewel ek nie in spoke glo nie.
Ek glo in humor, want slegte mense het nie ’n humorsin nie.
Ek glo nie in TV-evangeliste en tentpredikers nie, want die tyd van Billy Graham is ongelukkig verby.
Ek glo nie in gevoelsgodsdiens nie.
Ek glo ook nie in emosielose godsdiens nie.
Ek glo eintlik glad nie in godsdiens nie.
Ek glo in vergifnis, maar dit vat partykeer baie lank.
Ek glo dat, hoewel ’n mens sewe maal sewe-en-sewentig keer moet vergewe, jy net een keer jou ander wang hoef te draai, want ’n mens het net twee wange.
Ek glo dat Steve Hofmeyr reg was toe hy geskryfhet: “Dit is beter om te weet as om te glo.”
Ek glo dat dit wel moontlik is om intuïtief te weet, en dat wetenskaplike bewyse nie altyd nodig is nie.
Ek glo net. Want ek weet.
My wete is ’n vaste vertroue in die dinge wat ek nie kan sien nie, wat ek nie kan verstaan nie, en waarmee ek tevrede is om nou slegs ten dele te ken, want ek is nie goed in wiskunde nie.
Ek glo nie dat kinders sleg gebore word nie.
Ek glo wel dat alle kinders soms stout is.
Ek glo in die Sabbat, en ek wens daar was meer Sabbatte per week.
Ek glo dat Jesus ’n baie nice ou was en dat Hy waarskynlik ’n bietjie soos Dozi gelyk het (miskien ’n bietjie meer blas).
Ek weet nie of Hy uit ’n maagd gebore is nie en dit maak vir my nie vreeslik baie saak nie.
Ek is ontroer deur die gelykenis van die verlore seun.
Ek is nie besonder geïnteresseerd in presies hoeveel visse en brode Hy vermeerder het, en of Hy regtig op die water geloop het nie.
Ek hoop Hy het wel water in wyn verander.
Ek is bly Jesus het Tomas sy twyfel vergewe. Ek dink dat ek die naaste aan die Here was in die tye toe ek soos Tomas getwyfel het of in die donker moes loop soos die Emmausgangers. Ek glo dat Jesus dit nie permanent teen my sal hou nie.
Ek is nie seker of Jesus die Seun van God was nie. Ek weet nie of ’n mens Hom moet aanspreek as Professor, Doktor, Edelagbare of U Hoogheid nie.
Ek glo dat dit vir Hom belangriker is dat ek in sy woorde glo as dat Hy reg gedefinieer word.
Ek glo dat Jesus se woorde soos lewende brood is vir die hongeres, en dat dit gratis uitgedeel moet word.
Ek hou van hotelkamers met Gideonbybels. Daar was al oomblikke toe Gideonbybels in die laaie van hotelkamers mense van selfmoord gered het.
Ek hou ook van hotelkamers met adult channels op TV, want dit kan ook soms ’n mens van selfmoord red.
Ek glo in afwisseling, balans en diversiteit.
Ek glo dat IL de Villiers reg was toe hy geskryf het: “As niks heilig is nie, word alles heilig, en die wind waai waar hy wil.”
Ek glo dat die waarheid beter verduidelik kan word deur die leuen van fiksie as deur ’n lys feite in alfabetiese volgorde.
Ek glo nie in my katkisasieboek van 1972 nie.
Ek glo nie dat ’n mens ongelowig hoef te wees om ’n skrywer te wees nie. Dit was John Fowles se grootste fout.
Ek glo ook in Boeddha, en ek dink hy was amper so ’n nice ou soos Jesus ten spyte van sy gewigsprobleem.
Wie is ek om ’n vinger te wys na iemand anders se gewigsprobleem?
Wie is ek om te sê die dinge waaraan ek glo, is absoluut korrek, vreeslik waar en verpligtend vir alle ander mense?
Ek is verskriklik bly dat ek nie ’n dominee is nie.”

– Koos Kombuis

Kollekte: Ek het besluit dat vanaand se kollekte gaan aan die Straatlig-projek. rs hier in Stellenbosch. Dit is wonderlike projek en artikel 21 Maatskappy onder die vlerk van die Moedergemeente wat straatmense deur middel van opleiding en programme emosioneel en sosiaal bemagtig om weer ʼn menswaardige plek in die samelewing in te neem en hulle van die strate weg te neem..

Slotsang:

Lied 526 

Waar daar liefde is, en deernis,

waar daar liefde is,  daar is God die Heer.

Ubi caritas et amor

 

Afsluitingsebed van Julian Müller.

Ek het lanklaas gebid

O God, ek het lanklaas gebid,
Of tel my gedagtes en fluisteringe as gebede?
Daar staan mos in Romeine 8 dat die Gees ons versugtinge as
gebede voor die troon van God bring….
Vroeër het ek my probeer indink dat ek voor die troon kniel.
Dit het nogal baie verbeelding gevra.
Nou is dit vir my makliker om my te verbeel dat God soos
Wi-Fi sommer heeltyd rondom my en by my is.
Ek hoef nie te bid nie…
My gedagtes, so onversorg en stomp is ook genoeg.
Soms het ek behoefte daaraan om dit in mooi woorde, soos
poësie te vorm,
maar meestal is dit vir my lekker om te weet dat ek maar net
dinge in my hart kan oordink.
Ongevormde emosie is ook genoeg.
Die byna pynlike ervaring van skoonheid as die son ondergaan
is genoeg.
Die genoeglikheid van ʼn warm bad…
Swem in die see…
Die ervaring van liggaamlikheid.
Dankie dat dit nie nodig is om te bid nie.

Latest Posts

  • The Unbearable Pain of Being
    The Unbearable Pain of Being
    Foreword Anli Schuin 20 February 1968 – 13 November 2003 On 13th November 2018 we will mark the 15th anniversary of the night Anli, our daughter, sister, mother, aunt and sister-in-law, ended her own life and changed all our lives for ever. This collection of poems and...
  • Afrikaans-Japannese Woordeboek
    Afrikaans-Japannese Woordeboek
    アフリカーンス語・日本語辞典 Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het vroeër vanjaar (2018), ‘n besondere Erepenning toegeken aan prof. E.F. (Ernst) Kotzé vir uitnemende bydrae tot en diens aan Afrikaans as wetenskaps- en standaardtaal. Prof. Kotzé is emeritus hoogleraar en navorsingsgenoot en dosent van die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth....

In hierdie boek kyk Jean Oosthuizen krities na die NG Kerk se geskiedenis sedert Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap, tot waar die kerk vandag is. In sy bestaan van meer as 350 jaar het die NG Kerk en die Nasionale Party so verstrengel geraak dat die kerk as “die Nasionale Party in gebed” bekend gestaan het. Die teoloog Ferdinand Deist se voorspelling in die laat tagtigerjare dat die kerk sal ondergaan wanneer apartheid tot ’n einde kom, blyk vandag in die kol te wees. As instelling wat apartheid uit die Bybel geregverdig en verdedig het, het die kerk se vernietigende invloed nie alleen gemeenskappe in Suid-Afrika van mekaar vervreem nie – ook lidmate wat kritiese vrae gestel het, is na die periferie geskuif. Talle individue se menswaardigheid is geskend en verskeie loopbane is onder die dekmantel van Christenskap vernietig, soos die skrywer self kan getuig. Oosthuizen se blik strek egter wyer as sy ervaring toe hy in 2013 as nuusredakteur van Kerkbode geskors is ná die opspraakwekkende Woordfees-debakel. Sy reis vanuit die kerk se binnekring sluit die verhale in van gelowiges sowel as ongelowiges wie se paaie met die NG Kerk gekruis het. Die opkoms en ondergang van die NG Kerk bied ’n kontemporêre blik op die tragiese geskiedenis van ’n instelling wat deur die aandadigheid aan verontregting stelselmatig irrelevant geraak het.

Jean se boek kan by enige van die bekende boekwinkels aangekoop word of van takealot.com bestel word teen die afslagprys van R 229. Die Boek kan ook as e-boek (Kindle weergawe) by Amazon.com aangeskaf word.