Een in twintigduisend

Ek het gedink dalk is dit tyd vir ‘n bietjie inspirasie. Dis in elk geval wat ek laasweek Dinsdagnamiddag dringend nodig gehad het. My tweede skoolprysuitdeling in twee dae het voorgelê, en verstaan asseblief dat ek allergies is vir enige byeenkomste wat “spreker” en “jaarverslag” op die agenda het. Di’s geneties. So ook my beperkte kapasiteit vir harde stoeltjies – letterlik.

Dus, daardie aand het ek nie juis die skoolsaal ingehuppel en vol afwagting op my harde stoeltjie reggeskuif nie.

Toe staan die spreker op. ‘n Lang, aantreklike man in sy vroeë dertigs, breedgeskouer, kort blondehare. Hy’s Hein Wagner, ‘n internasionale verkoopsbestuurder van ‘n IT-maatskappy met ‘n rits ander belangstellings, prestasies en drome, soos die uitklim van Kilimandjaro, waarvoor hy fluks besig is om voor te berei. Van die oomblik toe hy begin praat en die gehoor komplimenteer oor hoe mooi almal aangetrek is, het hy ons in die holte van sy hand.

Want hy is blind, van geboorte af. Hy vertel hoe hy op vier na die Worcester Skool vir Blindes geneem is, bitter bang om die veilige ruimte van sy ouerhuis te verlaat. Maar hy het vinnig geleer. Soos dat daar drie soorte mense by die Skool vir Blindes was,die “totals” vir wie alles donker was, die “twilights” met ‘n mate van sig en die “high resolution individuals”, wat als kon sien. En as die koshuisvader saans by ete gesê het “Maak toe julle oë dat ons bid” (wat altyd vir Hein ‘n bietjie vreemd geklink het) het jy jou vurk vinnig rondgesteek in jou bord, want dit was net mooi die tyd vir twilights om totals se kos te steel.

Vakansies tuis het hy gereeld op sy broer se fiets rondgery in die singel waar hulle gebly het, wat die waarskuwing vinnig die straat af laat trek het: “Moenie julle karre in die straat parkeer nie, daai mal blinde bliksem is weer hier.”

Die gehoor skater vir een staaltjie na die ander, tot hy vertel hoe sy onderwyseres eendag in die klas die fisiologie van die oog met hulle behandel het, en hy begin wonder het hoeveel mense, soos hy, blind gebore word. Hy besluit toe om in die biblioteek te gaan navorsing doen, sommer dadelik, want gelukkig was die juffrou self ‘n total en kon nie sien hy verlaat die klas nie.

Wat Hein toe daar in die biblioteek vasstel, is dat een uit elke twintigduisend mense blind gebore word. “En net daar,” sê hy, “het ek besluit ek is uniek, ek is spesiaal, want net een in twintigduisend mense is soos ek.” Skielik is die gehoor doodstil. Ons deel in ‘n oomblik van verreikende insig, nee, ‘n verreikende besluit, waarna ‘n lewe nooit weer dieselfde sou wees nie.

Ek vergeet van die harde stoeltjie. Ek wil hê Hein moet nog lank praat. Hy het die lewe ingekom met ‘n gebrek, ‘n groot verlies, en het uitgestyg nie net ten spyte van hierdie verlies nie, maar as gevolg daarvan.

Hein sluit sy toespraakaf met sy credo: “It is better to be a blind man with vision, than a sighted man with none.” En hy deel ‘n aanhaling van Wayne Dyer wat hom geïnspireer het:“If you can conceive it, and actively believe it, and act upon it, you will achieve it.” En jy weet dat dit nie ‘n hol rympie is nie, dit word geleef deur ‘n blinde man met visie.

Ek weet nie of ek al op die plek is waar ek die gawe van al my kwale kan raaksien nie. Soms sukkel ek nog bloot om alles te aanvaar. Maar ek bêre Hein se boodskap sorgvuldig in my hart: dat wat ook al fout is met jou liggaam, daar nie perke is op die omvang van moed, liefde, entoesiasme, vasberadenheid, humor en visie nie.

Ek wens Hein voorspoedtoe vir Kilimandjaro. Ek het self ‘n paar pieke om uit te klim…

Annelie Ferreira
Sielsnetwerk

Latest Posts

  • The Unbearable Pain of Being
    The Unbearable Pain of Being
    Foreword Anli Schuin 20 February 1968 – 13 November 2003 On 13th November 2018 we will mark the 15th anniversary of the night Anli, our daughter, sister, mother, aunt and sister-in-law, ended her own life and changed all our lives for ever. This collection of poems and...
  • Afrikaans-Japannese Woordeboek
    Afrikaans-Japannese Woordeboek
    アフリカーンス語・日本語辞典 Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het vroeër vanjaar (2018), ‘n besondere Erepenning toegeken aan prof. E.F. (Ernst) Kotzé vir uitnemende bydrae tot en diens aan Afrikaans as wetenskaps- en standaardtaal. Prof. Kotzé is emeritus hoogleraar en navorsingsgenoot en dosent van die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth....

Teken in op ons nuusbrief

Vul die vorm in en stuur as jy ons gereelde nuusbrief wil ontvang.

In hierdie boek kyk Jean Oosthuizen krities na die NG Kerk se geskiedenis sedert Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap, tot waar die kerk vandag is. In sy bestaan van meer as 350 jaar het die NG Kerk en die Nasionale Party so verstrengel geraak dat die kerk as “die Nasionale Party in gebed” bekend gestaan het. Die teoloog Ferdinand Deist se voorspelling in die laat tagtigerjare dat die kerk sal ondergaan wanneer apartheid tot ’n einde kom, blyk vandag in die kol te wees. As instelling wat apartheid uit die Bybel geregverdig en verdedig het, het die kerk se vernietigende invloed nie alleen gemeenskappe in Suid-Afrika van mekaar vervreem nie – ook lidmate wat kritiese vrae gestel het, is na die periferie geskuif. Talle individue se menswaardigheid is geskend en verskeie loopbane is onder die dekmantel van Christenskap vernietig, soos die skrywer self kan getuig. Oosthuizen se blik strek egter wyer as sy ervaring toe hy in 2013 as nuusredakteur van Kerkbode geskors is ná die opspraakwekkende Woordfees-debakel. Sy reis vanuit die kerk se binnekring sluit die verhale in van gelowiges sowel as ongelowiges wie se paaie met die NG Kerk gekruis het. Die opkoms en ondergang van die NG Kerk bied ’n kontemporêre blik op die tragiese geskiedenis van ’n instelling wat deur die aandadigheid aan verontregting stelselmatig irrelevant geraak het.

Jean se boek kan by enige van die bekende boekwinkels aangekoop word of van takealot.com bestel word teen die afslagprys van R 229. Die Boek kan ook as e-boek (Kindle weergawe) by Amazon.com aangeskaf word.