Musieklaslappies

Hier is weer ‘n juweel uit die pen van Diek van Wyk. Hierdie keer het hy dit oor musiek maar nie sommer enige musiek nie. Sommige sal sê die boek gaan oor klasieke musiek maar Diek verkies  om eerder te praat van “ernstige musiek” om dit te onderskei van sogenaamde “populêre musiek”.

Diek het ter inleiding die volgende te sê oor hierdie boek:

Laat ek sommer dadelik duidelikheid gee oor vier dinge.

Nommer een: Hierde boekie is NIE vir musiekkenners geskryf nie. Ek skryf dit vir gewone lekemusiekliefhebbers soos ek wat leke is, wat graag hulle leke-indrukke van musiek, hulle leke-ervarings met musiek en die stories wat hulle oor musiek gehoor het met ander leke deel. Met ander woorde, ek wil gesels met doodgewone ouens soos ek wat net lief is vir musiek. En dit sluit aan by die volgende punt.

Nommer twee: Ek is NIE ‘n musiekkenner nie. En allermins ‘n fynproewer. Ek het weliswaar ‘n wye versameling musiek op my rakke en deesdae ook op my eksterne hardeskyf. Maar ek is en bly ‘n leek met ‘n lekebelangstelling. En soos met enige leek is daardie sekere goed waarvan ek hou en ander waarvan ek nie hou nie. Ek het dus al die hebbelikhede en veral onhebbelikhede van ‘n leek.

Nommer drie: Ek beoefen nie self musiek nie. Nie dat ek nie probeer het nie. Ek sal later vertel hoe ek probeer het om in kore te sing, my verbeel het ek kon leer viool speel, en selfs my hand aan ‘n paar minder gewigtige instrumente gewaag het. Alles dawerend sonder sukses. En dit lei na die volgende punt.

Nommer vier: Ek is nie musikaal nie! Ek kon nie viool- of koorstukkies memoriseer nie; ek moes van blad af speel of sing. My gehoor het my in die steek gelaat met die viool; ek kon nie nootsuiwer speel nie. En sing kon ek net op ‘n manier as ek die musiek voor my gehad het; gewone liedjies het vals uitgekom. (My vrou, wat baie musikaal was, het altyd ergerlik geraak oor die opgemaakte wysies wat ek vir haar gesing het, so vals was hulle.) Nee, ek het lankal vrede gemaak daarmee dat ek nie musikaal is nie.

Maar liefde vir musiek, as dit daarby kom staan ek op my onbeholpe manier en met my gebrekkige kennis nie agter in die ry nie.

Van liefde gepraat: miskien moes ek ‘n vyfde item bygevoeg het. Vir my is musiek wat in die omgang, eintlik verkeerdelik, as klassieke musiek bekend staan. (Klassiek verwys na ‘n periode, of dan tendens, in die musiekgeskiedenis, ongeveer vanaf Haydn tot Beethoven; dit is nie ‘n versamelnaam vir “ernstige” musiek nie.) Ek het egter niks teen populêre musiek nie. Daar is heelwat wat vir my nie onaangenaam op die oor val nie. Ek het trouens ‘n hele paar CD’s met dié tipe musiek op my rak. Ek woon ook gereeld uitvoerings by wat by ‘n plaaslike eetplek aangebied word. Die jongste, by die skrywe hiervan, was die uitstekende optrede van Amanda Strydom. En ek luister met plesier na populêre musiek oor die radio wanneer dit my geval. Maar dit boei my nie in dieselfde mate as “klassieke” musiek nie.

Dit is dan die musiekdier waarmee jy te doen gaan kry as jy kans sien om die res van hierdie skryfsel aan te durf. Ek gaan jou vertel waar dit begin het of, altans, hoe ek meen dat dit begin het, en hoe hierdie ou kop so ‘n koers geneem het. En dan gaan ek jou saam met my neem op ekskursies na my verskillende liefdes in die musiek. Ek gaan nie probeer om my gunsteling musiekkomposisies en musici te bespreek nie. Daarvoor is ek te oningelig, ek sal net ‘n gek van my maak. Ek gaan vertel van musiekopnames en hoe ek daaraan gekom het, en van uitvoerings wat ek kon bywoon. Ek gaan my indrukke daarvan gee en staaltjies oor die musiek en musici daaragter vertel. En laastens gaan ek twee storietjies uit ander “boekies”wat ek gepleeg het steel en hulle byvoeg. Eintlik pas hulle nie regtig by die res in nie, maar hulle gee tog aanvullend ‘n indruk van hoe ek musiek belewe het. Dit is waarom ek hierdie skryfsel Musieklaslappies noem; dit is ‘n bont spul.

Natuurlik was daar baie persone op my weg by wie ek kon leer, met wie ek lang gesprekke oor musiek gehad het en saam na musiek geluister het, onder andere my oud-student en oud-kollega prof. Piet Groenewald met sy ongelooflike versameling van wat hy blink plaatjies noem (CD’s) en my swaer Theo Boekkooi. (Ek voel steeds in my skik dat ek ‘n aandeel gehad het daarin dat hy en Sus Else sak en pak Holland toe is sodat hy sy talent in fluit- en blokfluitspel daar onder meesters kon afrond.) As ek meer name noem, sal die lys te lank word, dit wil sê as ek almal kan onthou.
En natuurlik het ek soveel te danke aan haar wie se handjies te klein was om ‘n hele oktaaf te omvat maar so mooi kon klavier speel. Ons het meer as 57 jaar lank hierdie passie gedeel Sy wat nog drie dae voordat sy deur ‘n slopende siekte van my weggeneem is verbete met haar kop op my skouer na ‘n opera gekyk het.

Ten slotte: Dit is aan Coenie Nolte te danke, of te wyte – ek kan nie besluit watter een van die twee nie – dat ek oor musiek begin skrywe het. Dit is gebruiklik vir skrywers om dank te betuig aan hulle uitgewers en diegene wat hulle skryfwerk beïnvloed het. Daarvoor sê ek vir die soveelste keer dankie aan Coenie. Dit is ook gebruiklik om verantwoordelikheid te neem vir enige tegekortkominge in hulle boeke. Dit doen ek geredelik. Maar Coenie moet ook gedeeltelik pa staan vir tekortkominge in hierdie een. Hy was al te goed bewus daarvan dat hierdie bejaarde ou kop se beste dae lankal verby is en dat ek bowendien nie ‘n kenner is nie toe hy my arm gedraai het om hierdie onderwerp op my oudag aan te pak.

Weet jy wat my die meeste plesier sal verskaf as jy kans sien om tog verder te lees? Dit is as jy meer van “klassieke” musiek weet as ek, as jy my onkunde sou blootlê en van my opinies sou verskil. As jy by die lees sou sê: “Nee, Diek, hier is jy verkeerd, dit was eintlik so.” Of: “Aikona, daar verskil ek van van jou, daardie sanger of violis (of wie ook al) is nie so goed (of so swak) as wat jy dink nie.” Want dan het ek in my doel geslaag: om met jou in gesprek te tree.

En weet jy wat my nog meer sal verheug? As jy dalk van “klassieke”musiek hou, maar nie veel daarvan weet nie, as jy by voorbeeld graag na U Eie Keuse, of Nic se Goed en Dis Opera of Terrance April se Musiek Bonbons luister en jy hou daarvan en hierdie skryfsel spoor jou aan om na meer te luister. Dan sal ek Coenie vergewe dat hy my omgepraat het om so onverstandig te wees om my hand met soveel huiwering aan hierdie boekie te waag.
Diek van Wyk
Jeffreysbaai
2017

Klik hier vir inhoudsopgawe

Latest Posts

  • The Unbearable Pain of Being
    The Unbearable Pain of Being
    Foreword Anli Schuin 20 February 1968 – 13 November 2003 On 13th November 2018 we will mark the 15th anniversary of the night Anli, our daughter, sister, mother, aunt and sister-in-law, ended her own life and changed all our lives for ever. This collection of poems and...
  • Afrikaans-Japannese Woordeboek
    Afrikaans-Japannese Woordeboek
    アフリカーンス語・日本語辞典 Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het vroeër vanjaar (2018), ‘n besondere Erepenning toegeken aan prof. E.F. (Ernst) Kotzé vir uitnemende bydrae tot en diens aan Afrikaans as wetenskaps- en standaardtaal. Prof. Kotzé is emeritus hoogleraar en navorsingsgenoot en dosent van die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth....