Sleutelbordpitte

In die ou dae, toe daar nog met pen en ink geskryf is, is geskrewe produkte soms pennevrugte genoem. In die rekenaarera sou pennevrugte oorgedoop kon word tot sleutelbordvrugte.
Wat in hierdie bundel aangebied word, is produkte van ’n sleutelbord. Maar of dit die status van vrugte waardig is, met die konnotasie van voedsaamheid en heilsaamheid, daarvan is ek nie seker nie. Dit verdien eerder om pitte genoem te word, pitte wat ’n bietjie binnekos in het. Dit is waarom ek die bundel Sleutelbordpitte noem: die pitte kan miskien voedingswaarde hê vir wie hulle ook al wil oopbreek.

Om die titel beter toe te lig, was dit nodig om ’n sub-titel by te voeg: Bespiegelings, Besinnings en Relase. Want dit is wat met hierdie pitte gedoen word: daar word bespiegel, besin en vertel.

Dit is aan Coenie Nolte te danke dat ek ’n aantal pitte opgetel en in een sakkie onder dié titel bymekaar gebring het. Dit is hy wat my aangemoedig het toe ek getwyfel het aan die meriete van wat uit my sleutelbord uitgekraam is. Ek is hom meer dank verskuldig as wat hy besef dat hy die sakkie geneem en die finale stempels daarop gedruk het.

Die stukkies wat hierin verskyn, het elk ’n lang geskiedenis. Sommige gaan tot soveel as ’n paar dekades terug. Op enkeles na het hulle voorheen in ander mondstukke die lig gesien. Elkeen het ’n verskeie wysigings ondergaan en is ook weer tydens opname in hierdie bundel gewysig. Omdat hulle so ’n lang ontstaangeskiedenis het, was ’n sekere mate van oorvleueling onvermydelik.

Die meeste is geneem uit die elektroniese nuusbrief, Markplein, wat Coenie en ek vir byna vyf jaar onderhou het. Dan is daar ook ’n aantal uit Dr. Piet van Staden se nuusbrief, GRASnuus, en ’n paar uit Annelie Ferreira se nuusbrief van weleer, Sielsnetwerk. Een bydrae het voorheen in die boek, Hier Staan Ek, sy debuut gemaak. Dit is onvermydelik dat verwysings na die oorspronklike mondstukke en na bydraers in van dié mondstukke voorkom.
Die geskrifte is in vier oneweredige afdelings verdeel. Dit kon ook anders, en die indeling is ietwat kunsmatig, maar ander indelings en geen indeling sou myns insiens minder geslaagd wees.

Afdeling 1 word Essays genoem. Essays moet nie verstaan word in die Afrikaanse betekenis van opstelle of kort prosawerke nie, maar in die moeder-betekenis van die Franse werkwoord “essayer” — om te poog of te probeer. Die stukke wat in dié afdeling verskyn is pogings, of dan probeerslae, om tot duidelikheid te kom oor begrippe, lewensvrae en dies meer.

Die tweede afdeling bevat stukkies wat geskryf is rondom ’n traumatiese ervaring in my lewe: die dood van my vrou. Dit is baie persoonlik en ek het my afgevra of dit met ’n wyer publiek gedeel behoort te word. Ek het tog daarop besluit, omdat dit miskien kan resoneer met andere wat ook worstel met verlies en dalk kan verwoord waardeur hulle gaan.

Die derde afdeling bevat ’n aantal stukke oor ’n saak wat my lewenslank geboei het: religie en geloof. Dit sluit ’n verskeidenheid onderwerpe van ongelyke gehalte in wat gesamentlik ’n aanduiding gee van hoe ek gespook het om tot klaarheid in my eie gemoed te kom. Dit word afgesluit met vier geskrifte waarin my geloofswerftog belig en afgerond word.

Die laaste afdeling bestaan uit vertellings uit my jeugjare wat in my hartland, die Bosveld van Limpopo afspeel, afgesluit deur een uit my “tweede vaderland”, Nederland.

Ten slotte: Hierdie bundeltjie is ’n kransie vir haar oor wie my oë uiteindelik in die najaar van my verlies vir die voorjaar van ons vreugde begin oopgaan.

Diek van Wyk
Jeffreysbaai
2017

Voorwoord deur Prof Sakkie Spangenberg
Hennie Aucamp het die volgende wysheid neergepen en ek gebruik dit graag om my verhouding met Diek te beskryf en sy opstelle by ander aan te beveel:

Wanneer kinders die dag begrypende
en volwasse geselskap vir hul ouers geword het,
is daardie ouers lankal dood, en die kinders
self ou mense.

Diek van Wyk kon inderwaarheid my pa gewees het. Hy is in 1951 as lektor by die Universiteit van Pretoria aangestel — my geboortejaar!

Ons paaie het die eerste keer in 1979 by die Randse Afrikaanse Universiteit gekruis. Hy was dekaan van die fakulteit Lettere en Wysbegeerte en ek pas aangestel as lektor in Bybelkunde. Hy het — as my geheue my nie in die steek laat nie — op die keuringskomitee gedien wat my aanstelbaarheid moes bepaal. (Dalk is ek meer dank aan hom verskuldig as wat ek besef.)

Gedurende my jare aan die RAU het ons mekaar soms oor etenstyd in die kleedkamer van die RAU-sportsentrum raakgeloop en vriendelik gegroet. Ek het ’n potjie muurbal met ’n kollega gaan speel en hy het studente ’n paar karatelesse kom gee. Andersins het ek wye draaie om Diek gestap, want vir ’n dekaan en ’n rektor moet ’n mens respek hê — hulle is gesoute akademici en nie enigeen se maat nie — só het ek daardie jare geglo. Ek het myself ook nie as ’n waardige gespreksgenoot vir Diek en van die ouer professore beskou nie.

En toe, na byna ’n kwarteeu, ontmoet ons mekaar weer danksy ’n gemeenskaplike predikantsvriend Kobie Coetzee. Ek leer die mens Diek van Wyk ken en hy word ’n gewaardeerde kubervriend en gespreksgenoot. Anders as in die spreuk van Hennie Aucamp kan ek sê dat ek volwasse genoeg geword het om met Diek gesprek te kon voer en dat hy grootmoedig genoeg was om my as vriend te aanvaar. Maar dit was ook omdat ek toe reeds as ’n ketter gebrandmerk was en Diek iets van my worsteling met die Christelike geloof begryp het. Hy het immers jare tevore al ’n vergelykbare geloofspad gestap. Die opstel “Van plaasbrak tot keeuvoël: ’n geloofswerftog” vertel daarvan. Vir my is daardie opstel een van sy bestes. Hy gebruik besonderse metafore wat sy swerftog treffend beskryf.

’n Ander rede waarom ons gespreksgenote en vriende geword het, is ons gemeenskaplike liefde vir boeke en vir Afrikaans. Diek lees wyd en het die vermoë om homself in keurige Afrikaans uit te druk. Maar dis nie al nie. Hy het ook die vermoë om ’n onderwerp deeglik te ontleed, van alle moontlike kante te bekyk en nuwe lig daarop te werp. In die bundel is ’n handvol opstelle wat hierdie vermoë van hom illustreer.

Ek is bly dat Coenie Nolte Diek kon oortuig om ’n versameling van sy opstelle te publiseer. Dit verdien ’n wyer leeskring. Hier is nie net sleutelbordpitte nie, maar baie pitkos en heelwat pittighede.

Dankie, Diek!
Sakkie Spangenberg