Jesus van Nasaret

In Jesus van Nasaret stel Sakkie Spangenberg die leser bekend aan ‘n hand vol perspektiewe op Jesus. Dit begin by sy eie verhaal van kennismaking met ’n Kinderbybel-perspektief. Hy vervolg met ’n Sondagskool- en ’n Katkisasie-perspektief voordat hy die meesterverhaal van die Westerse Christendom onder die loep neem. Hierdie perspektief is grootliks die produk van die Griekse en Latynse kerkvaders. Gedurende hierdie jare word Jesus, die Joodse profeet uit Nasaret, omvorm tot die Seun van God, die Tweede Persoon van ’n goddelike drie-eenheid.

Die skrywer bespreek ook ander perspektiewe op Jesus aan die hand van verhale in verskeie Bybelboeke asook ander geskrifte.

Hierdie boek is die produk van sy studie oor die afgelope 38 jaar waartydens hy Bybelkunde en Ou Testament doseer het. Hy begelei die leser op ’n besonderse manier deur die omstandighede waarin hierdie verhale opgeteken is.

Die onderskeid wat hy tref tussen die “historiese Jesus”, die “vertelde Jesus” en die “dogmatiese Jesus” help hom om aan te toon dat daar van vroeg af aan verkillende perspektiewe bestaan het. Hy wys ook uit dat daar ten minste drie groepe in die vroeë Christendom bestaan het: (1) “Christen-Jode”, ‘(2) “nie-Joodse volgeling van Jesus” (of dan Pauliniese Christene) en (3) “nie-Jode en verhelleniseerde Jode ”

In die hernieude gespek oor die Westerse godsbeeld en die goddelikheid van Jesus is Jesus van Nasaret ’n boek gegrond op goeie navorsing wat gelees moet word deur enigeen wat opreg en eerlik, in die Christelike tradisie, in die naam van Jesus bid, preek en as pastor optree.

Resensies

Resensie deur Dr Gerda de Villiers

Nuwe Boeke: Jesus van Nasaret deur Sakkie Spangenberg, 2009

Dr Gerda de Villiers, is ‘n teologiese dosent verbonde aan die Universiteit van Pretoria en redakteur van die webblad van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria (http://teo.co.za/).

Uiteindelik! Goeie – nee, uitstekende Afrikaanse godsdienstige lektuur op die populêre mark. ‘n Welkome druppel in die leë emmer wat poog om te beantwoord aan die behoeftes van denkende, kritiese Afrikaanssprekende gelowiges. Van vroom praatjies en vlak teologie het ons genoeg.

‘Populêr’ impliseer egter nie ‘maklik’ of ‘sussend’ nie. Inteendeel! Spangenberg skryf wel in ‘n gemaklike, leesbare trant, maar elke bladsy getuig van indringende teologies-wetenskaplike navorsing, veral wanneer hy begin om met die Bybel self te werk. En dit is die groot pluspunt: eers maak hy die leser bewus van die ‘bril’ waarmee hy/sy geleer is om die Bybel te lees – daardie dogmatiese bril waarvan die lense vanaf kindsbeen deur kerk en kategese heen geslyp is, en vandag steeds in baie eredienste blink gepoets word. Die fokus van hierdie ‘bril’ is die ‘meesterverhaal van die Westerse Christendom’ wat steun op die Evangelie van die sonde, die kruis en die verlossing. Spangenberg dwing jou om hierdie dogmatiese bril af te haal, en na die Bybel te kyk met die oë van die Bybelwetenskappe.

Die Bybel het ‘n lang ontstaans- en ontwikkelingsgeskiedenis, en meer as een outeur waarvan die meeste onbekend is, het daaraan geskryf. Hul wêreldbeeld het heeltemal anders as ons s’n gelyk, en hul uitkyk op die lewe was anders. Spangenberg doen besondere moeite om elke Bybelboek wat hy bespreek, binne sy historiese en sosio-kulturele konteks te plaas. Hy raak vrae aan soos: Wat het aanleiding gegee tot die skryf van hierdie boek/brief? Wanneer is dit geskryf? Vir wie is dit geskryf? ensovoorts. Dit raak toenemend duidelik dat die Bybel nie op een lynregte horisontale vlak gelees kan word nie, maar dat daar verskillende, komplekse en selfs weersprekende vlakke bestaan. En wanneer die insigte van die Bybelwetenskappe aan die orde kom, sien jy dat Genesis 3 nie oor die ‘sondeval’ gaan nie, dat Jesus nie in Jesaja en Daniël voorspel word nie, en dat die skrywers van die Nuwe Testament elkeen eintlik ‘n verskillende Jesus aan ons voorhou! Spangenberg skryf dus nie oor die sogenaamde ‘historiese Jesus’ nie, maar oor die ‘vertelde’ Jesus in die Nuwe Testament.

Watter Jesus – gestroop van dogma – word aan ons voorgestel? Jesus was ‘n Jood wat die Joodse godsdiens beoefen het, en wat die Joodse gebruike van sy tyd nagevolg het. In die tradisie van die Ou Testament was hy ‘n profeet en wysheidsleraar wat sy lewenswyse verduidelik het en sy wysheid aan mense meegedeel het. Die evangelie wat Jesus verkondig het, was die ‘koninkryk van God’, nie toekomstig en bonatuurlik nie, maar as konkrete kritiek teen die Romeinse Ryk van sy tyd.

Die Christelike tradisies wat rondom Jesus ontwikkel het, het in die eerste paar eeue na sy dood beslag gekry. Hy is toenemend in die Westerse wêreld ingetrek, en ‘n hele aantal dogmatiese uitsprake is gemaak oor sy aard, sy wese en sy werk. Dit geld vir konsepte soos die ‘Drie-eenheid’, die ‘Twee-natureleer’, ensovoorts, konsepte wat niemand regtig verstaan nie, en toenemend minder sin maak. Spangenberg wil Jesus van hierdie dogmas bevry, Hom terugplaas in die Joodse wêreld waarvandaan Hy kom, en ons ook help om daardie Jesus en sy wêreld beter te verstaan.

Die omslag is kunstig gedoen. Iemand staan en tuur oor die water. Dit is nie duidelik of hy op die oewer van ‘n see of ‘n meer staan, en of hy op die water self is nie. Hy staan met uitgestrekte arms – die figuur het dus die vorm van ‘n kruis, maar dit is ‘n mens.
Die belangrikste bydrae van hierdie boek is dat dit die uiters belangrike insigte van die Bybelwetenskappe op ‘n bevatlike wyse vir enigeen toeganklik maak. Selfs diegene wat geen teologiese agtergrond het nie, sal dit kan verstaan. Alle predikante van die NG Kerk en die NHKA word tydens hul teologiese opleiding aan die Bybelwetenskappe van die Ou en Nuwe Testament blootgestel. Maar dikwels hoor jy studente sê: ‘Ons kan dit nie in gemeentes verkondig nie, ons gaan lidmate skok/verloor.’ Ongelukkig verloor die kerke juis hul denkende en kritiese lidmate, lidmate vir wie die sonde-kruis-verlossing-teologie meer vrae as antwoorde ontlok, dié lidmate wat werklik die moeite doen om die Bybel te lees. Sakkie Spangenberg se Jesus van Nasaret is ‘n uitstekende aanknopingspunt tussen die dominee met sy/haar goeie verantwoordelike teologie, en die ingeligte soekende lidmate van die gemeente.

Resensie deur At van Wyk

Jesus van eerste en vierde eeu verskil radikaal

Jesus van Nasaret deur Sakkie Spangenberg (medewerkers Pieter Botha en Maretha Jacobs ).

Beeld 15 Maart  2010

Resensent: At van Wyk

Dié storie kom uit ’n lang studie met ’n fyn ontleding van tersaaklike dele van die Ou en Nuwe Testament, plus meer as 300 boeke en met nugter uitsprake sonder bitterheid.

Hy beskou jou Christenskap van voor af – by jou perspektief uit die Kinderbybel, Sondagskool, katkisasie en die skool. Só bekyk, besef jy dalk nou eers hoe vervleg jou geestelike en akademiese grootword was en hoe jy apartheid Bybels ingekry het.

Naas Godgewilde apartheid is daar die leer van die erfsonde, wat jou voorsê dat die mens sleg is en slegte kinders voortbring; en dat God sy woede oor die sondeval op sy Seun aan die kruis uitgestort het. Saam daarmee uit die Heidelbergse kategismus leer jy dat Jesus deel van die goddelike Drie-eenheid is en moet jy dit geestelik sluk dat een plus een nie twee is nie en twee plus een nie drie nie, maar één. “Geloofswaarheid is iets anders as wiskundige waarheid,” sê Spangenberg.

En meestal besef jy nie dat jy ’n meesterverhaal gevoer word nie – die verhaal van Adam en Eva se sondeval, van Jesus se koms soos in die Ou Testament voorspel, van sy dood aan die kruis sodat almal ewig kan leef en ewige hellestraf vir diegene wat sy offer verwerp.

Dis ’n verhaal wat Griekse en Latynse “vadere” van die derde tot die vyfde eeu vir grootliks analfabete saamgestel het en wat sogenaamd die Bybelse waarhede verteenwoordig. Meer as ’n millennium en ’n half word dit verkondig – ook vir die skrywer, sy tydgenote en hul ouers se ouers tot in die ver verlede.

Sondag vir Sondag kry dit, of elemente daarvan, aandag. En as jy dit só dikwels hoor, bevraagteken jy dit nie, want dié met vrae word veroordeel as “ongelowiges” en “ateïste”.

Maar die meesterverhaal is windskeef, soos die skrywer uitvoerig bewys. In die perspektief wat hy uit Jesaja haal, leer jy dat Jesaja 250 keer in die Nuwe Testament aangehaal word en dat jy hier te doen kry met ’n sirkelargument. Jesaja skryf vir die Jood van sy tyd en die Nuwe-Testamentiese skrywers gebruik later van sy sêgoed om hul Jesus-verhale te skep. Daarna gebruik Christene die tekste om ’n verhaal te bou wat ooreenkomste toon met die Jesus-verhale. Maar, lees jy, nie een van die Jesaja-tekste voorspel Jesus nie.

Hy kritiseer Paulus, wat die Romeinse owerheid onthef van alle blaam vir Jesus se kruisiging en met sy negatiewe uitlatings anti-Semitisme en Jodehaat aanblaas. Hy sê Paulus praat soos ’n politieke redenaar, gooi jakkalsdraaie, plooi ’n Skrifaanhaling, probeer op twee stoele sit, weerspreek homself en gee in sy hantering van die eerste en tweede Adam stukrag aan Augustinus (354-430) se leer van die erfsonde. Hy haal John Shelby Spong aan: “Paul’s words are not the Words of God. They are the words of Paul – a vast difference.”

Só wys die skrywer verskeie ongeldighede uit in Bybelse perspektiewe op Jesus, en dan vat hy dit saam in ’n bondige, helder hedendaagse perspektief.

Hy sê die tradisionele Christelike boodskap van die sondeval en eindoordeel – bekend as die Augustiaanse paradigma – kom die laaste 400 jaar onder kwaai druk en staan volgens Philip Kennedy voor sy Berlynse Muur. Alles in die Bybel oor God en Jesus is deur mense geskryf; alles in die Christelike tradisie oor God, Jesus en die Gees is mensgemaak – die hedendaagse Christelike godsdiens is nie deur Jesus begin nie.

Jesus was ’n Jood wat soos alle ander mense deur ’n man en ’n vrou verwek is, was tuis in die Judaïsme van die eerste eeu en het nie aan ’n Drie-eenheid geglo nie. Maar hierdie Joodse profeet en leermeester word in die vierde en vyfde eeu tot ’n god omvorm wat in die Griekse en Romeinse denkwêreld pas.

Biskoppe en teoloë het alle bande met die Joodse Jesus, sy godsbeskouing en kultuur verbreek. “’n Nuwe figuur is geskep – Jesus Christus, die middelaar tussen God en mens.” En hy is lid van die Drie-eenheid gemaak, ’n godsbegrip wat deur keiser Teodotius die Grote (346-395) aan sy onderdane opgedwing is.

Hier het die geskiedenis van die hedendaagse Christendom eintlik begin, want die Drie-eenheid, lees jy, is die punt waar die Christendom Jesus se leringe grootliks versaak en voortgebou het op eietydse heidense godsdiens (pagan religion). Die Jesus van die vierde eeu en die Jesus van die eerste eeu verskil radikaal.

Resensie deur BoekWurm

Hierdie resensie deur Boekwurm is gekopieer  van die volgende webwerf:

https://www.spiritualiteit.co.za/boek-spangenberg-jesus-van-nasaret.php

“…’n Lywige boek waaraan Spangenberg die laaste tien jaar geswoeg het en waarskynlik die mees omvattende populêre inleiding tot die kritiese Bybelwetenskappe van die laaste twee of drie dekades wat al in Afrikaans verskyn het. Vir die eerste keer publiseer Spangenberg in die taal van die Gereformeerde susterkerke ‘n boek wat dieselfde doen as wat Karen Armstrong en Bart Ehrman al in Engels gedoen het – die popularisering van ‘n gesprek wat dekades lank onder Bybelwetenskaplikes en progressiewe teoloë gevoer word, maar nie juis aan kerklidmate bekend gestel is nie…” So skrywe Johannes de Villiers in ‘n artikel in Rapport oor Prof. Sakkie Spangenberg se nuwe boek Jesus van Nasaret.

Prof. Sakkie Spangenberg skryf in ‘n gemaklike, leesbare trant. Hiermee saam goeie teologies-wetenskaplike navorsing. En hierdie kombinasie maak die boek ‘n waardevolle bydrae tot enige soekende se boekrak. Wat Spangenberg regkry is om eers die lesers bewus te maak van die ‘bril’ waarmee hulle die Bybel lees, om dit raak te sien – daardie dogmatiese bril waarvan die kerk en kategese reeds van vroeg af ons sienings gevorm het, en vandag steeds in kerk eredienste gepropageer word. Die fokus van hierdie ‘bril’ is die ‘meesterverhaal van die Westerse Christendom’ wat steun op die Evangelie van die sonde, die kruis en die verlossing. Spangenberg help jou om hierdie dogmatiese bril af te haal, en na die Bybel te kyk met Bybelwetenskaplike oë.
Spangenberg doen besondere moeite om elke Bybelboek wat hy bespreek, binne sy historiese en sosio-kulturele konteks te plaas. Hy raak vrae aan soos: Wat het aanleiding gegee tot die skryf van hierdie boek of brief? Wanneer is dit geskryf? Vir wie is dit geskryf? Wat het dit vir daardie tyd se mens beteken? Hy wys duidelik dat die Bybel nie op een vlak gelees kan word nie, maar dat daar verskillende en selfs weersprekende vlakke bestaan. Die Bybel het ‘n lang ontstaansgeskiedenis, en meer as een outeur het daaraan geskryf. Natuurlik het hulle wêreldbeeld heeltemal anders as ons s’n gelyk, en hul uitkyk op die lewe was baie anders. En met die insigte van die Bybelwetenskappe sien jy dat byvoorbeeld Genesis nie oor die ‘sondeval’ gaan nie, dat Jesus nie in Jesaja voorspel word nie, en dat die skrywers van die Nuwe Testament elkeen ‘n ander Jesus vir ons voorhou!

Jesus was ‘n Jood wat die Joodse godsdiens en gebruike beoefen en nagevolg het. In die tradisie van die Ou Testament was hy ‘n profeet en wysheidsleraar wat sy wysheid aan mense meegedeel het. Die evangelie wat Jesus dus verkondig het, was die ‘koninkryk van God’, nie toekomstig en bonatuurlik nie, maar as kritiek teen die Romeinse Ryk in sy tyd. Die Christelike tradisies (soos ons dit vandag ken) wat rondom Jesus ontwikkel het, het eers in die eerste eeu na sy dood beslag gekry. Dogmatiese uitsprake is gemaak oor sy aard, sy wese en sy werk. Dit geld vir konsepte soos die ‘Drie-eenheid’ en die ‘Twee-natureleer’, konsepte wat niemand regtig verstaan nie.
Spangenberg wil Jesus van hierdie dogmas bevry, Hom terugplaas in die Joodse wêreld waarvandaan Hy kom, en sodoende ons help om Jesus en sy wêreld beter te verstaan. Die belangrikste bydrae van hierdie boek is dat dit die uiters belangrike insigte van die Bybelwetenskappe op ‘n verstaanbare wyse toeganklik maak en sodoende help met die gesprek tot sinvolle soeke na ‘n eietydse spiritualiteit.

BW

Latest Posts

  • The Unbearable Pain of Being
    The Unbearable Pain of Being
    Foreword Anli Schuin 20 February 1968 – 13 November 2003 On 13th November 2018 we will mark the 15th anniversary of the night Anli, our daughter, sister, mother, aunt and sister-in-law, ended her own life and changed all our lives for ever. This collection of poems and...
  • Afrikaans-Japannese Woordeboek
    Afrikaans-Japannese Woordeboek
    アフリカーンス語・日本語辞典 Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het vroeër vanjaar (2018), ‘n besondere Erepenning toegeken aan prof. E.F. (Ernst) Kotzé vir uitnemende bydrae tot en diens aan Afrikaans as wetenskaps- en standaardtaal. Prof. Kotzé is emeritus hoogleraar en navorsingsgenoot en dosent van die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth....

Teken in op ons nuusbrief

Vul die vorm in en stuur as jy ons gereelde nuusbrief wil ontvang.