My Blog

Hierdie kosbare lewe…

“She philosophically noted dates as they came past in the revolution of the year;… her own birthday; and every other day individualized by incidents in which she had taken some share. She suddenly thought one afternoon… that there was yet another date, of greater importance to her than those; that of her own death, when all these charms would have disappeared; a day which lay sly and unseen among all the other days of the year, giving no sign or sound when she annually passed over it; but not the less surely there. When was it?”

                                                                             Tess of the d’Urbervilles

                                                                             Thomas Hardy

 

Meestal dink ons nie so direk oor die dag, weggesteek êrens in die kalender nie. Af en toe gebeur daar egter iets in ons lewens wat hierdie dag, die dag van ons dood, skielik ‘n werklikheid maak, wanneer ons gekonfronteer word met die eindige aard van ons lewe. So, wat se raad is daar vir iemand wat skielik hierdie dag vierkantig in die oë moet kyk? Die raad wat ek die meeste teëkom is “Lewe elke dag asof dit jou laaste is”. Dan wonder ek, as ek geweet het vandag is nou werklik my heel laaste dag, wat sou ek doen? Sou ek al my familie en vriende gaan sien vir ‘n laaste kuier en groet, my gunsteling plekke besoek, my gunsteling boeke en musiek uitkry, of my gunsteling gereg kook soos vir die ouens op ‘death row’? Ek weet ek sou beslis nie my man of kinders ‘n enkele oomblik uit my oog wou laat nie! Sou ek terug kyk oor my lewe – dalk al die foto-albums uithaal en terugkyk na al die wonderlike dinge wat ek kon beleef? Sal ek dalk heeldag bid? Of huil? Dalk sal ek te bang wees om enige iets te doen. Die ding is, ek weet ek sou nie die wasgoed wou was, die rekeninge wou betaal, die kinders se boeksakke pak vir môre nie. So vir my is dit nie so prakties om elke dag as die laaste te probeer leef nie – te veel intensiteit en te min sal gedoen kom! Soos een van David Nicolls se karakters in sy boek ‘One day’ sê: “’Live each day as if it’s your last’, that was the conventional advice, but really, who had the energy for that? What if it rained or you felt a bit glandy? It just wasn’t practical…”

So wat anders? Toe ‘n familielid ‘n tyd gelede die nuus kry dat sy terminaal siek is met longkanker het sy na aanleiding van die fliek “The Bucket List” (deur regisseur Rob Reiner) besluit om vir haarself ook ‘n ‘bucket list’ te maak van alles wat sy nog wou doen voor sy ‘die emmer skop’. Dit was baie inspirerend om te sien hoe sy werk om die emmer leeg te maak en hoeveel dit vir haar beteken om elke droom te verwesenlik. So, toe wonder ek wat sal in my emmer wees. Ek wil nog my doktorale tesis voltooi, wil New York sien, aan die Weskus van Suid-Afrika heerlike vars vis gaan eet, wil… ja, daar is sulke dinge, maar hulle lê almal daar onder in die hoeke van my emmer. Die dinge wat ek regtig wil insit – om die vreugde wat die lewe my kinders bring met hulle te deel en die seer wat die lewe hulle bring te help dra, om die vroue te ontmoet met wie hulle hulle lewens gaan deel, om hulle kinders vas te hou, om saam met my man as ou oom en tannie hand aan hand die wêreld vol te travel – vir daardie goed kan ek nie beplan en ‘n afspraak in die dagboek inskryf nie – oor hulle sal net die tyd kan leer…

So watter moontlikhede bly oor? Ek het nou die dag in ‘n ander fliek (“Man on Wire” deur regisseur James Marsh) ‘n manier van dink gehoor waarby ek kon aanklank vind. In die fliek sê Phillip Petit, die touloper wat homself telkens baie na aan sy eie dood geplaas het, dat hy elke dag as ‘n kunswerk sien. Vir my maak dit sin. Dit gaan oor vandag. Vanuit hierdie perspektief sien ek myself as ‘n kunstenaar. Ek sien alles waarvoor ek lief is as die mooiste en rykste en beste kleure op my pallet. Maar daar is ook die kleure van die alledaagse en die kleure waarvoor ek nie so lief is nie – dit wat ek wens nie in my lewe hoef te wees nie, soos pyn, swaarkry, bekommernis, onsekerheid. So staan ek elke oggend op met ‘n skoon doek voor my – en begin ek verf… Die manier waarop al die kleure saam kom maak die prent van die dag. Ek werk hard wanneer ek kan om soveel van my gunsteling kleure op die doek te kry deur my dag te vul met dit waarvoor ek lief is, om met die res om te gaan met integriteit en courage. Dit vra dat ek aandag gee, met bewustheid aktief deur my dag gaan; ek kan nie sommer maar so drift tot by die aand nie, ek moet tyd maak, stadig gaan, kies. My mikpunt is om vanaand na die dag se kunswerk te kyk en te dink ‘dit is goed’.

Terug na David Nicholls se karakter in ‘One Day’: “Better by far to simply try and be good and courageous and bold and to make a difference. Not change the world exactly, but the bit around you. Go out there with your passion… and work hard at… something. Cherish your friends, stay true to your principles, live passionately and fully and well. Experience new things. Love and be loved…”

Sommige dae is die kunswerk nie so mooi nie – te donker, vol kleure waarvan ek nie baie hou nie. Maar môre begin ek met ‘n skoon doek…

Lizette Nolte-Nel

2009