My Blog

Oupa Mocke en die man op die maan

Oupa Mocke en die man op die maan

In 50 big ideas you really need to know deur Ben Dupré lees ek die verstommende stelling dat volgens ’n onlangse opname in die VSA, daar gevind is dat ongeveer twee derdes van die volwasse bevolking van daardie land die kern leerstellings van die “Jong Aarde Kreasoniste” aanvaar. Wat my laat wonder of daardie mense dan nog nooit die asemrowende foto’s wat deur die Hubble teleskoop geneem is gesien het nie. Dit laat my onwillekeurig dink aan my Oupa Mocke.

Oupa en Ouma Mocke en hul 7 kinders was gedurende die Anglo-Boere-oorlogjare bywoners op ’n plaas êrens tussen Loxton en Carnarvon in die Karoo. Ouma Mocke is lank voor my geboorte oorlede. Soos ek verstaan het, het die boer op wie se plaas die Mockes bywoners was uitgeboer en moes Oupa (Ouma was toe reeds oorlede) noodgedwonge die plaas verlaat en dorp toe trek. Die res van sy lewe het hy op Carnarvon gewoon. Die kinders, wat teen daardie tyd omtrent almal reeds getroud was en ook op Carnarvon gewoon het, het beurte gemaak om na Oupa Mocke om te sien. So het dit gekom dat hy ook vir lang tye by ons ingewoon het.

Oupa Mocke het geen skoolgeleerdheid gehad nie en alhoewel die kinders na hom omgesien het, het hy probeer om as ’n groentesmous ‘n geldjie vir homself te maak om darem ‘n mate van onafhanklikheid te behou. Elke weeksdag het hy per voet die dorp plat geloop met sy mandjie vol groente wat hy van huis tot huis gesmous het.

Een van Oupa Mocke se self opgelegde take was om saans wanneer die son gesak het sy hoed op te sit – hy het dit nooit buite die huis gewaag sonder sy hoed nie – om die huis te loop en al die “shutters” (houthortjies voor die vensters) toe te maak en op knip te sit. Oupa het vas geglo hierdie hortjies moes saans in die wintermaande toe wees om te keer dat dit nie “in ryp” nie soos hy altyd gesê het.

’n Ander ritueel wat oupa gereeld gevolg het, was om saans voor slaaptyd, eers sy bors met Vicks in te smeer en dan al die gewrigte met Zam-Buk salf (of Samboksalf soos die meeste mense dit sommer genoem het). Dan het hy sy langmou flennie onderhemp aangetrek, sy pajamas aangetrek, sy slaapmussie, wat my suster vir hom gebrei het om sy pankop warm te hou opgesit, gesorg dat al die vensters dig toe is, by sy bed gekniel en gebid voor hy onder die komberse ingekruip het en die kers doodgeblaas het, reg vir die nag wat voorlê.

Oupa Mocke en ek het party aande voor slaaptyd ‘n rukkie op die voorstoep van ons huis gesit en sommer oor koeitjies en kalfies gesels en na die sterre gekyk. Die sterrehemel was asemrowend mooi omdat daar nie straatligte was om dit te bederf nie. Een aand toe ons weer so op die stoep sit en gesels en die volmaan bewonder – ek was toe al op hoërskool – merk ek terloops op: “Oupa, my meneer by die skool sê daar gaan eendag ‘n man met ’n vuurpyl maan toe gestuur word en hy gaan op die maan land. Doodse stilte. “Hoor oupa?”, vra ek, “hulle sê daar gaan eendag ‘n man op die maan land.” Doodse stilte. Ek wou net weer vra toe ek die bank waarop ons sit voel skud en toe hoor ek die sagte gegiggel hier langs my. “Waaroor lag oupa?”, vra ek. En so deur die giggels deur sê hy: “Jong, sê vir jou meneer ek sê, al is dit ook die grootste volmaan sal dit nog nie deug nie. Die maan is te klein vir ’n mens om op te staan. Hy gaan afglip en hom des moers op die aarde val. In elk geval, wat wil hulle nou juis op die maan gaan staan en neuk?”

En daar sit ek met my mond vol tande. Hoe verduidelik ek vir my Oupa Mocke, ’n man sonder enige geleerdheid, wat net een boek ken, die Bybel, en wat onwrikbaar glo dat die aarde plat is en op pilare staan, wat glo dat die son om die aarde draai en dat die maan ’n klein ronde balletjie is, hoe verduidelik ek vir hom van sonnestelsels, planete en die eindelose kosmos? Dit is doodgewoon nie moontlik nie. En toe wonder ek by myself: Wat maak dit saak dat hy glo soos hy glo? Watter sin is daarin om hom, op sy gevorderde ouderdom, te probeer oortuig van dinge wat aan sy saligheid geen jota of tittel kan verander nie. Ons sit nog ’n rukkie so in stilte en toe sê ek: “Oupa, ek dink oupa is reg. My meneer praat sommer nonsies. Die maan lyk vir my ook te klein vir ‘n man om op te staan.” Oupa antwoord nie maar ek weet hy is tevrede.

Ons sit nog ’n rukkie in stilte en kyk na die sterre en toe is dit tyd vir Vicks, Samboksalf en kerse doodblaas.

En ek wonder of Oupa ooit ‘n oog sou toegemaak het as hy geweet het hy hang eintlik kop na onder aan die aardbol!