EINDES
of ons EINDE
of ons DOOD eendag.

Hierdie is bloot ‘n gesels oor my en jou einde, maw ons gesels oor die dood. Dit is ‘n onderwerp wat ons nie graag oor wil gesels nie. Dit wil al voorkom of die gesels oor dood effens nie toelaatbaar is in ons tyd nie. Die teologie sluit baie terreine van mens wees vir ons net toe in teologiese dogmas vir baie lang tye en ons mag nie meer daarvan weet nie. Tog is daar baie wat bang is vir die dood en wat dit kan bring. Die meeste van ons, dink ek, is bang vir die vir die dag as die skape en bokke in twee kampe gejaag gaan word. Die groot oordeel en dan die hel of die hemel wat dan sou volg vir elkeen van ons.

Een van die groot lewensdrempels, is die drempel tussen die sienlike en onsienlike realiteite van ons bestaan op aarde. Die sienlike is dan wat ons kan sien soos berge, paaie, gesigte, huise ens. Die onsienlike is dan dit wat ons nie kan sien nie soos skoonheid, stilte, tyd, geluid en die wind.

Ek het agtergekom dat baie “gelowiges” ietwat ongeduldig word met die feit dat ons God nie kan sien nie. Ons hou groot biddae vir reën en daar gebeur nie eintlik iets nie. Ons bid vir siekes maar nie almal word gesond nie, maar steeds glo ons in gebed en dat daar uitkoms sal wees. Die feit dat mense begin vrae vra om en oor hierdie gewoontes van ons, maak dit al hoe nodiger dat ons self by God moet hoor hoe dinge dan nou met ons is. Sommige van ons wonder of God nie oor tyd begin het om te verander nie. Ander sê dat God hom onttrek het van die mense se wel en wee. Ander wil weer weet of God dan nog lief is vir ons en ons sal beskerm, al lyk dit nie so nie.

De Novo Boekeblad postDie ou wat op die perron sit en wag vir die trein, is die ou wat sit en wag en wonder oor sy eie dood. Dit kan ek of jy wees. Dit kan dalk ook ‘n groot skare wees van ons, want ons praat mos nie oor die dood nie.

Dit is so asof ek iewers op ‘n houtbankie op ‘n perron sit en wag vir die aankoms van die trein. Dis winter en baie koud. Sit en wag, is al wat ek nog kan doen. Soms is daar ‘n beweging langs die spoor van ‘n maer hond wat iets soek om te eet of van ‘n spoorwegwerker wat iewers heen oppad is om iets onbelangriks te gaan doen. Die koue maak groet of gesels gans onbelangrik en baie onnodig. Wat ek nou doen, is om te wag, wag vir die trein op hierdie harde houtbankie op die vuil perron in die koue, iewers.

Niemand gaan net sommer dood nie. Dit is die einde van ‘n liggaam wat ‘n geskiedenis het oor tyd; wat tot ‘n einde gekom het. Dit maak dit dus ‘n besondere gebeurtenis. Dood maak ‘n einde aan dit wat eers teerheid, liefde, drome was; wat ons ‘n mens gemaak het. Die pyn en opgewondenheid oor ontdekkings en afwagtings is beeïndig asook groot oorwinnings en die seer van mislukkings en drome wat almal wil vergeet. Die einde van liefdes, die einde van alles wat menswees was. Die dood kom so ongelooflik saggies en doodstil en vat jou in ‘n ruimte waarvan daar geen eggo’s of geluid meer sal kom nie. Dood is die heerser van alles wat doodstil is. Ewige stilte wat juig en dans in golwende kleure in ewigheid.

En steeds sit ek op die perron en wag vir die trein om te kom. Dit is koud en baie alleen en die hond lê iewers in die son en slaap. Dit raak baie stil, iemand is besig om die gordyne toe te trek. Ek dink aan ‘n grafsteen en die hemelbed van klip en Kalahari sand. Dek my toe met Kalahari sandgruis en maak ‘n groot kalksteen staan soos ‘n merker. My troos is dat die kalksteenklip my herinnering sal wees op aarde, dat iemand my dalk sal onthou as iemand wat ander wou laat dink het en beter laat sien het. Wat ander die waarheid wou wys en almal die groot oop ruimtes van liefde en ewige verstaan gewys het. En tog het ek net ‘n kruiwa vol woorde rondgestoot wat niemand kon verstaan nie. Ek kon nooit verstaan dat die kerk se mites hul waarheid en troos was nie. Jammer die wrang gedagte moes ek ver-ink. Tog is dit waar dat ek regtig nie kon verstaan nie, maar dat dit dalk iets was wat ek van ‘n berg moes uitskreeu of in wit verf moes skryf teen groot rotse of self moes uitleef en al die ander net moes ignoreer en self moes konsentreer op die goue horison van waarheid en vrywees.

As die ryp en ys oor ons tuin kom lê, dan verlang ek na die groen gras. As die gras dan weer groen lewe, loop ek daarop sonder om te onthou. Wanneer die bome se blare hulle kleur van groen na goudbruin en rooi verander, bid ek dat die blomme sal groei en blom. Dan as die blomme blom, sien ek dit nie raak nie en pluk sommer wild en wakker tussen hulle.

Daarom as iemand my kalksteen klip iewers in die veld sal omskop, sal dit oraait wees. Ons almal kan tog nie na die goue horison staar van waarheid nie en hoe min mense wil waarlik vry wees? Hoe min mense wil dit sien of stel regtig in die waarheid belang? Ons kies om gebind te wees aan mites en slawe te wees van onwaarhede, nog ons hele bestaan as homo sapiens van die begin af!

Ek sien jy stry nie…..jy is n wyse man/vrou!!

“ We have been dying since we got here AND forgot to enjoy the view. “

In die hedendaagse lewe waar almal die natuur wil aanbid, waar hulle God of hulle god kan vind onder bome of op grasvelde, is die natuur ‘n vors van groei en lewe. Maar dood maak alles stil…doodstil.

Die persoon wat daar lê, is net sigbaar in sy ou liggaam wat gou sal begin vergaan. Hy is nou eintlik onsigbaar in totaal. Kyk mooi hy is alreeds onsigbaar, hy is weg. Hy het reggekry wat geen van ons lewendes kon doen nie, hy het onsigbaar geword. Onsigbaar vir die lewe en al sy valsheid en leuens. Hy het nie meer ‘n plek nie, geen kar of besigheid nie.

Waar hy eers iewers moes wees is hy nou nêrens. Hy wat weg is, is vir altyd weg en kom nie terug nie. Hy wat weg is, is vir ons hier onsigbaar en hy is oppad. Hierdie oppad kan ‘n reis wees terug soos wat hy gekom het, jare gelede. Hy is nou weer ‘n reisiger, soos toe hy aarde toe gekom het, in heerlikheid, flitsend oor golwe van lig en kleur die wye kosmos in. Flitsende fotone fluister onhoorbare liefdesliedere in sy sfeer van onsigbare beweging, vinniger as die spoed van lig.

Death is the mother of Beauty

Ek sit nog steeds op die perron en wag vir die trein op hierdie bitter koue dag. Die veld se gras is vaal-geelbruin geskroei van die oggendryp en die winde se koue waai. Die perron se sementvloer is swart gerook en getrap met baie jare se roet. Ek wonder waar is al die kleur heen. Die Hoëveld is lelik en dood so sonder kleur, ‘n strafkamp vir skape met harde droë gras en bitter koue wind. Maar dis net ek wat dit so sien……. Toe raak ek bewus van beweging op die perron. Dis ‘n ou man, seker so 70 plus jare oud. Loop styf-styf in die bene en kom sit ongenooid langs my. Hy begin gesels of dit die in ding is.

“Ek is gatvol vir pyne en alleenheid en verlang na goeie geselskap. Ek hoop jy kan gesels, jongman”, sê die ou oom. Hy wag nie vir ‘n antwoord nie. “Dink nou al dae daaraan om my lewe te beeïndig, want dit is niks werd meer nie. Ek sit met ‘n leë dop wat eers ‘n mens was, met geen energie nie. Die die mense noem my ‘n ou man. Eintlik ‘n niks werd ou mens wat ‘n plek soek om te vrek. Ja ek het al baie gebid dat Hy maar die silwer draad moet knip, maar soos jy weet, help geen gebed meer nie. Mense bid en bid en sien jy dat dit help? Dit is een van die baie mites in die godsdienste van vandag dat jy moet bid en jy sal ontvang – net wat jy vra. Twak man, dit is onsin”.

“Jy weet ek het baie baie geskryf in my lewe, omdat skryf soos musiek vir my was. Jy gee mense iets om te lees en jy maak hulle ‘n bietjie meer gelukkig. Soms help dit vir die seer in lewens en daar is ‘n glimlag op ‘n gesig. Musiek of klank in die geval is soos die teenmekaar glip van twee waterdruppels wat die genesende, indringende skoonheid van genesing is. Ek kon nooit enige musiek instrument bespeel nie. Ek glo ook dat daar voor alles ‘n groot stilte was voordat enigiets was – daar was orals net doodse stilte, ‘n soort heilige stilte. Maar weet jy die aarde het toe hulle eie musiek begin maak, almal was gatvol vir hierdie ewige stilte.

‘n Bergstroompie het begin gesels in ‘n kloof en voëls het ywerig begin getuig van heerlike sonskyn en volop kos en in voëlsang uitgebreek tussen die bome deur. Oor miljoene jare heen het die aarde sy eie musiek getoonset uit hierdie doodse stilte in ‘n crescendo van krag en blydskap oor alles wat toe nog mooi en nie besoedel was nie. Luister jy vandag na die aarde se musiek, is dit een klaaglied op die ander hoe hierdie pes, die homo sapiens, die aarde verwoes en bevuil het. Die mens behoort te begin besin en ontwaak oor alles wat hy op aarde opgemors het en probeer red wat hy kan red. Of homo sapiens vandag reg en baie goed gemotiveerd is om alles regtig te wil regmaak, glo ek nie vir een oomblik nie. Of sal die volgende ystydperk ons dalk net help om alles op te ruim en om weer voor te begin?”

Die ou oom staan stram op: “Dan groet ek maar eers, waarheen is jy oppad?” vra hy en stap skeef- stram weg sonder om vir ‘n antwoord te wag.

Ek dink aan die oom se alleenspraak-gesels en moet oor baie goed saam stem. Die Christelike teologie vandag stel dit voor dat daar ‘n nuwe stad in die hemel iewers daarbo reggemaak word vir almal wat nie hel toe gaan nie. Daar gaan baie wonings wees seker soos in Khayelitsha, net baie beter met lopende water en betroubare elektrisiteit, bygesê as dit nog nodig gaan wees. Goue strate en ons gaan dag en nag sing. God gaan dan by ons woon en ons gaan Sy heiligheid en heerlikheid beleef en daar sal nooit weer pyn en eensaamheid wees nie. Daarvan sal die oom wat so gesels het van hou, dink ek. Maar ek glo nie hy het “ja” geantwoord op die drie Christen evangeliese vragies nie, wat hom dan ‘n kandidaat maak vir die hel en vir ewige brand, ellende en dag en nag se gekerm van pyn. Ons is mos almal in sonde gebore en ontvang. Net reg vir die hel, hoe dan nou anders?

Ek kyk hoe die oom die perron af stap en ‘n paadjie kies tussen die huise deur af dorp se kant toe. Die koue lê nog swaar op die dorp en die houtvuur-rook hang lui-lui tussen die huise rond.

Ek dink aan die vloei van ‘n rivier. Die rivier is lewendig en ook polsend oppad na sy dood, die see. Maar hierdie feit maak nie dat die rivier ophou met sy vloei nie. Dit kronkel voort en maak sandbanke op lui draaie in die rivier waar voëls kom sit om hulle vere te droog na ‘n geduik na vissies in die rivier. Die rivier het sy eie musiek wat strelend voortgolf op pad na die see iewers vorentoe. Die musiek is altyd baie strelend en sag en baie mense sorg dat hulle van tyd tot tyd langs die rivier kan ontspan en afwen na weke van opkrop in hulle daaglikse werk. Die rivier is ook genesend en kan geweldig woes raak en uiters gevaarlik wees. Die rivier het geen angs oor die sterf wat voorlê nie. Hy vloei voort en aan die einde as die see hom omarm, is sy sterf of dit rustig en natuurlik is. Dit is soos dit moet wees: rustig. Tog as jy probeer om te hoor, sal jy verstaan dat die rivier se musiek terugkaats na die oorsprong van die rivier waar die eerste note van die ewige melodie begin is. Niks is verkeerd nie dis hoe dit moes wees, rustig want dit is reg. Die rivier is verwelkom in teerheid en opregtheid met blydskap..

Ons maak van die dood iets leliks. Dit is seker die beste wat met ons kan gebeur as vrede vir jou reg is. As ek so mag aanhaal, is lewe en dood ‘n eenheid by God. Waarvoor dan bang wees daarvoor? In hierdie sirkel van begin en einde is alles een. Joan Chittister skryf: “It is Beauty that magnetizes the contemplative, and it is the duty of contemplative to give beauty away so that the rest of the world may, in the midst of squalor,ugliness and pain, remember that beauty is. ”

Die dood se skaduwee is wit of deurskynend. Al ons dae, dade, baie aksies, baie woorde en ook ons liggame verdwyn in lig, kan nie meer gesien word nie. Alles word mooi en aangrypende, skone skoonheid neem oor.

Ek wou nog die oom vertel van die geboorte van ‘n mensie. As ek kon, sou ek voor die geboorte met die baba in sy moeder se uterus wou gesels. Hom vertel dat hy nou in ‘n warm watersak besig is om te groei. Op ‘n stadium, sal hy stadig uit hierdie sak deur ‘n baie nou poort of gang uitgeforseer word na buite. Hy gaan uit al die lekker omstandighede kom en gebore word in ‘n wêreld wat hy nie ken nie. Daar sal nie meer ‘n naelstring wees wat hom voed en versorg nie. Hy sal nie kan loop nie en sal in sy moeder se sorg oorgelaat word om hom baie dinge te leer. Ek weet dat dit vir hom onstellend sal beïnvloed, hy sal bang wees vir die onseker gebeure. Ek wonder of hy angs sal ondervind vir wat sal en kan gebeur? Dood en geboorte is een en dieselfde, ons is seker almal bang daarvoor, maar dit ontsluit die ewige skoonheid en erfenis en soveel vreudge.

Is die dood nie maar ook so nie? Ons is bang vir die dood, omdat ons nie weet wat met ons gaan gebeur nie. Ons het beelde van ‘n brandende hel en ‘n groot oordeel wat glo wag. Miskien moet ons maar die dood in terme van die baba se geboorte sien. Dit is maar net ‘n volgende fase. Die een wonderlike fase volg op die ander wonderlike fase soos dit moet en dit is reg.

Ek weet jy sal graag vir God wil sien. As ek dan vir jou ‘n afspraak maak om God een aand by ‘n groot boom te ontmoet, sal jy kom? Maar weet jy dat geen mens God sal aanskou en bly leef nie? Laat ek jou verduidelik.
As ek vir jou sê hier is God, sal jy niks sien nie. Ons is weer by die vorm van onsigbaarheid. Daar is geen metode om God te laat materialiseer uit lug nie. Ek dink met ‘n skrams verbygaan van God, sal jou hele konsensie (consciousness) verbrand of verdwyn. Jy kan nie jou siel sien nie, ook nie jou verstand nie. Dit is soos dit is en gelukkig is dit reg so. Onthou dat materialisme is ‘n obsessie met die sienlike, met geld en mag en wat iemand kan bymekaar maak in besittings. Jou identiteit kan dalk afhang van hoeveel jy besit en hoeveel mag jy het, maar op die einde van die dag is dit tog so sleg vir jou siel.

Dit bring my die volgende punt. Eens oor die wêreld was daar baie ontmoetings met engele. Dit is so jammer dat die era ons ontglip het. Maar as homo sapiens nie die aardbol vernietig nie, glo ek met my hele hart dat ons weer in so ‘n era sal inbeweeg, want hoe anders? Ons bly deel van die ewige lig en vreugde, maak nie saak hoe ons geleer is nie.

Frik Mare .
Tydens inperking geskryf 2020.
Ghanzi Botswana