Ek het toestemming om hierdie omsendbrief wat Jordaan Terblanche, Spirituele Leier van Neo-Spektrum Byeenkomste, aan lede gestuur het, in my blog te gebruik. Neo-Spektrum is ‘n onafhanklike spirituele gemeenskap wat hul Christelike tradisie op ‘n moderne en gesofistikeerde manier eer en bestudeer. As mense wat leef in die 21ste eeu wil hulle ʼn Godsbeskouing verken wat sonder vorm, dimensie of definisie is. Hulle streef daarna dat hul verhouding met God relevant en betekenisvol sal wees vir die tyd waarin ons leef, en ons ervaring daarvan moet sinvol, dinamies, toepaslik en soepel wees.


“No man is an island, entire of itself;
every man is a piece of the continent,
a part of the main.”
— John Donne —

Ons heel eerste sin van ons eerste epos in die begin van 2020 was: “ʼn Nuwe jaar, ʼn nuwe dekade, met 366 dae van ʼn skrikkeljaar. Mag dit in alle opsigte ʼn geseënde jaar wees met gesondheid en gemoedsrus, geïnspireer en geliefd in elke aksie en reaksie!”

Wie sou kon dink wat lê voor toe ons ons glase gelig het die 1ste Januarie en mekaar ʼn voorspoedige nuwe jaar toegewens het? Soos iemand nou onlangs sê, “2020 is a unique Leap Year. It has 29 days in February, 300 days in March, and 5 years in April.”

Niks is dieselfde nie.

Skielik het ‘privaatheid’ verander in isolasie, en ‘onafhanklikheid’ is vervang met verlatenheid. Vandag voel presies dieselfde as gister en eergister en die dag voor dit. Met redelike sekerheid kan ons sê dat môre presies dieselfde gaan wees as vandag. Ons weet nie meer of dit Woensdag, Dingaansdag, Verjaarsdag, of Blue-Moon is nie. Dae, datums, en tyd het geen betekenis meer nie. Ons enigste afspraak is 8 pm as ons op die stoep staan met applous in waardering vir hulle wat sorg en versorg, en vuvuzelas blaas sodat ander kan hoor ons is nog hier.

Alles het verander.

Behalwe die hoeveelheid fake-news op Facebook wat oorverdowende disinformasie skree oor die heinings van ons isolasie. Ons weet dat wanneer die mens onseker en bang raak, soek ons iets of iemand om die skuld te gee en as ons niemand kry nie dan is dit God of die duiwel, en as dit nie een van dié twee is nie dan is dit omdat ék sleg, en sondig, en skuldig is en verdien om te sink in die dryfsand van vrees.

Stop die blame-game want nóg die virus, nóg die implikasies en konsekwensies van isolasie is enige iemand se skuld. Hierdie dae van introspeksie en oomblikke se verlang na ʼn tyd toe ons in ʼn kafee kon sit om te eet, en te drink, en te lag, en aan mekaar te mag raak, is ook ʼn geleentheid vir ʼn nuwe waardering vir wat betekenisvol is. Soveel as wat ons wonder hoe die toekoms gaan ontvou, weet ek in murg en been dat hierdie ook die tyd is waar my reaksie ʼn besondere verantwoordelikheid vra — dit is ʼn tyd van sorgsaamheid … ʼn tyd om verstandig te wees, ʼn tyd vir nugterheid, ʼn tyd om die essensie van ons menswees te ontgin en te vra wat is regtig belangrik in my lewe?

Nou is nie die tyd vir ʼn slagoffer-mentaliteit nie. Mense wat siek word en sterf in hierdie tyd is nie ‘victims’ nie. Miskien voel isolasie of ons gyselaars is maar ons is nie — ons word gevra om tuis te bly sodat ons gesond kan bly.

For once let it sink in: it’s not about me but about WE. Die hele beginsel van Ubuntu moet en sal, nou meer as ooit, ons bring na die interafhanklikheid van die groter ‘ons’ — dit is hoe ons deur hierdie globale krisis gaan kom. Die grootste les van isolasie is om te besef hoe belangrik konneksies is. Nie ʼn verwronge assosiasie met goeters en geite nie maar met mekaar as mense.

Ons eerste tema vir die jaar was: KEUSES EN BESLUITE … min het ons geweet dat vier maande later sal dit ʼn loopgraaf wees waardeur ons almal moet kom. Elke dag is ʼn besluit om ʼn keuse te maak vir ʼn gesonde gemoedstoestand. ʼn Keuse vir ʼn positiewe gesindheid. ʼn Keuse om daai klein jakkalsies wat onsekerheid en vrees saai op hok te sit en te vervang met ʼn besluit dat hierdie tyd waarin ons is, is ʼn deurpad (Getsemane) en nie die einde (Golgota) nie.

JA, ek glo dat ons deur hierdie tyd sal kom en hierna sal terugkyk en sien hoe die Lig van God die hele tyd by ons is/was. JA, ek het hoop want die geskiedenis leer ons dat geen krisis ooit permanent is nie en dat ons na alles sal onthou om niks ooit weer vanselfsprekend te aanvaar nie en veel meer sensitief sal wees met Moeder Natuur, met mekaar, en bowenal met onsself. JA, ek voel steeds die Liefde van God wat in en deur my vloei en ek weet dat wanneer ons weer vry gaan wees om te beweeg waar ons wil, en weer mekaar kan omarm, dat ons liefde oorvol, oorgenoeg, sal oorloop na mekaar.

Die belofte waarmee ons dié jaar begin het, is vandag ʼn deurleefde waarheid —
“… swaarkry kweek volharding,
en volharding kweek egtheid van geloof,
en egtheid van geloof kweek hoop;
en dié hoop beskaam nie,
want God het sy liefde in ons harte uitgestort …”
― Romeine 5 : 3b-5 ―

My Nuwejaarswens is ook vandag se gebed: mag dit ʼn seisoen wees van gesondheid en gemoedsrus, geïnspireer en geliefd in elke aksie en reaksie!

Met liefde

Terblanche