Verkorte weergawe van ‘n ongepubliseerde artikel wat wyle Dr Nico Smith op 9 November 2007 geskryf het.

De Novo Wewbs image if Nico SmithIn die lig van wat dan as geloof of twyfel ervaar word, stel ek dit dat ek weinig interesse het of entoesiasme kan opbou vir die opstanding (van Jesus) as historiese feit. Indien dit miskien bo alle twyfel bewys sou kon word – en ek hoop en glo nie dat dit ooit sal gebeur nie – sal geloof in Jesus vir my inhoudloos word. As ek net glo omdat ek iets kan bewys (sien), wat bly dan oor om te glo? Dan is dit mos so dat Jesus se opstanding ‘n histories feit is en daarmee afgehandel is soos met Hitler se dood as ‘n historiese feit. Wat sou dit dan saak maak dat ons weet en almal glo dat Jesus opgestaan het? Gaan dit diegene wat glo skielik tot ongekende geloofsdade aanspoor? Ek glo dit nie. Dit sal alleen aanleiding gee tot ‘n nog groter sekerheid en gerustheid met ‘n nog groter aggressiwiteit as wat ons tans by diegene wat so seker is, bespeur. En geloof en selfvoldaanheid is nie vriende wat dieselfde pad saam kan bewandel nie. Want wie selfvoldaan is, wandel nie meer nie. Dié het reeds gearriveer in die huis van sekerheid en gee hulleself oor aan die ewige rus wat hulle glo die deel is van diegene wat werklik glo.

Intussen gaan die wêreld met al die gewoel van mense en nasies daarin, voort – ongesteurd of Jesus nou opgestaan het of nie. Onder die massas wat dan wel die sekerheid het dat Jesus opgestaan het, hulle ervaar sielerus in hulleself en bekla hoogstens die onrus wat in die wêreld voortwoed. As die wêreld maar net sou wou glo soos hulle glo, kan almal tot rus kom en breek die koninkryk deur. Maar so is daar deur die eeue van die christelike geloof se bestaan geglo. En net so min as wat bewys kan word dat Jesus histories uit die dood opgestaan het, net so min kan bewys word dat die sekerheid dat Hy opgestaan het, aan hierdie wêreld ‘n bloue duit verander het. Soos dit was, gaan dit nog maar altyd voort. Jode, Christene, Moslems, Hindoes, Boeddhiste, ens., ens., gaan almal hulle gang, stry hulle onderlinge stryde en hulle stryde as godsdienste teen mekaar. Maar die wêreld gaan rustig en soms onrustig voort op ‘n eie baan. En wie kan of sal dit verander? Al die gewoel van die mensekinders hier op die oppervlakte van die aardbodem, is wel fassinerend maar moeilik om te weet waaroor al die gewoel gaan. Dit gaan om sielerus, antwoord die godsdienste. Die mens het sielerus nodig en dit wil ons die mens bied sodat mense die lewe as sinvol kan ervaar. En dit is so ver as wat ons tot op hede nog in die geskiedenis van mens en wêreld gekom het.

Omdat ek egter in God glo, glo ek dat die wêreld wel verander het – van die begin af! En dat die wêreld nog steeds verander en sal voortgaan om te verander. Maar die belangrikste van alles: ek glo dat die wêreld kán verander en móét verander. Die ongelooflike skatte en rykdomme wat in hierdie planeet aarde opgesluit lê, moet steeds verder ontgin en gebruik word. En om dit te doen is die spesie mens met ‘n ongelooflike potensiaal vir ontginning en bruikbaarmaking toegerus. Daarom is my geloof in die eerste plek in die mens.

Wat dan van God? Sal dadelik gevra word. Ja, ook wel in God. Maar soos die mens sonder God my niks sê nie, sê God sonder die mens vir my ook niks nie. Dat God sonder die mens kan bestaan, interesseer my nie veel nie. Dit is God se vryheid om buite die mens om ‘n bestaan te kan vind. Daarvan weet ek egter weinig en is weinig geïnteresseerd om daar wel iets van te weet. Wat hierdie aarde betref, gaan dit vir my om die mens, die mens se betrokkenheid by God en God se betrokkenheid by die mens. Van hierdie betrokkenheid van God by die mens, lewer Jesus van Nasaret my die wyse van God se betrokkenheid. Maar geen bewys van God se betrokkenheid nie maar wel as ‘n wyse van God se betrokkenheid. In Jesus sien ek God en mens bymekaar en daarom is Jesus ware God en ware mens.; God en mens bymekaar – onafskeibaar bymekaar. En Jesus is vir my die lewende wandelende mens-God of God-mens soos ons almal wat mens is, bedoel is om te wees. En dat Jesus opgestaan het, is vir my daarom geen historiese feit nie. As dit histories feit is, kon dit na mening net so wel nie gebeur het nie. Wat maak ek dan met ‘n Jesus wat wel opgestaan het en Hom dan nou iewers skuil hou? As Hy fisies opgestaan het en leef, móét Hy hom tog iewers bevind. As hierdie “iewers” as ‘n bo-natuurlike bestaan aangedui word, snap ek daar geen snars van nie. Wie weet wat bo-natuurlik presies beteken en wat daar aangaan? Nee, ek glo in ‘n Jesus wat leef.

Ek sien Hom in elke helpende hand wat ‘n mensekind uitsteek na ‘n ander mens, ek hoor Hom in elke vriendelike woord wat elke dag oor die lippe van ‘n mensekind kom. Ek sien hoe Hy ‘n verskil in die wêreld maak omdat sy weg nie die gewone weg van die menslike hart is nie. Hy verskyn en verdwyn voortdurend. Dan is Hy hier, dan is Hy daar. Maar altyd weer verskyn Hy onmiskenbaar. Dit is hierdie opgestane Jesus sonder wie alles in hierdie wêreld vir my tevergeefs sou wees. Dit is die telkense verskyning van hierdie Jesus, elke dag en oral ter wêreld wat my met vreugde oor die aarde vervul. Ek sien waarheen ons op pad is. Ek sien ‘n nuwe aarde kom omdat ek Jesus altyd weer sien kom.