Default of misterie? – Tekste uit Spreuke

‘n Week gelede, het ons gelees van ‘n tragiese windbuksongeluk toe ‘n seuntjie van 11 per ongeluk met ‘n windbuks op ‘n plaas raak geskiet is. Dit is so hartseer dat mens nie eers daaroor wil praat of spekuleer nie, maar een van die opmerkings deur ‘n familielid bly my by: “Die duiwel is listig”. Bedoelende dat die duiwel agter dit alles sit en ten slotte verantwoordelik gehou moet word.

Dit het my laat dink aan my ma wat ons as seuns op die plaas altyd gewaarsku het teen onversigtige omgaan met die windbuks en dan het sy gesê: Onthou die ou duiwel sit ‘n koeëltjie in en laai die geweer wanneer jy nie sien nie. Daarmee wou sy maar net seker maak dat ons dubbeld versigtig is en nooit aanvaar dat die geweer nie gelaai is nie. Dit is heeltemal iets anders as om na die tyd die skuld vir die ongeluk op die duiwel te plaas.
Soos toe die krieketlegende, Hansie Cronjé, nadat sy wedstrydknoeiery aan die lig gekom het, ook die “duiwel en die wêreld” die skuld daarvoor gegee het.

Die vraag van vanoggend se preek is: Met watter wysheid/dwaasheid gaan ons deur die lewe en leer ons, ons kinders om deur die lewe te gaan? Waar ons vanoggend kindertjies gedoop het en twee dae gelede Kersfees gevier het, is dit sekerlik ‘n gepaste vraag om oor te besin. Met watter boodskap gaan ons nou verder die nuwe jaar in?
Wat is die script, die draaiboek in ons koppe waarmee ons die wêreld en gebeure beoordeel?
In eenvoudige woorde, oorvereenvoudig gestel, preek ek vanoggend oor die vraag: Wie laai die geweer? Maar bo aan my preek het ek die tema van my preek geskryf: Default of misterie? (met erkenning aan Prof Jimmy Loader se artikel oor die bipolariteit van die Wysheidsteologie – OTE 26/2 (2013): 365-383.).

In die Bybelse wysheidsliteratuur (veral Spreuke, Prediker, Klaagliedere en Job en die Psalms) kry mens ‘n bipolêre boodskap oor die lewe. Die boodskap het twee pole, of het twee kante. Daar word een ding gesê en net die volgende oomblik word dit ondermyn met die ander pool/kant. Die een oomblik word gesê dat die lewe werk op die basis van oorsaak en gevolg en dat goeie dade beloon word met goeie uitkomste, en andersom. Net die volgende oomblik word ons weer daarvan verseker dat dit glad nie so werk nie en dat ons nie in staat is om die uitkoms van dinge te bepaal deur ons lewe nie. Dit mag lyk na twee teenstrydige boodskappe, maar eintlik is dit die twee pole van dieselfde boodskap. Juis in die samehang, in die kombinasie van hierdie twee kom die eintlik boodskap na vore.

Kom ons kyk bietjie na die twee pole aan die hand van net ‘n paar tekste uit Spreuke en Prediker:
27:17-18
Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.
Wie sy vyeboom versorg, sal vye hê om te eet;
wie omsien na sy werkgewer se belange, sal daarvoor eer ontvang.

Mens voel in vandag se omstandighede en dit te verander om te lees: “wie omsien na sy werknemer…”, maar die logika is duidelik. As jy goeie dinge doen, sal jy eer ontvang en natuurlik andersom ook.

25:16
As jy op heuning afkom, eet net tot jy genoeg het; as jy te veel eet word jy naar.

17:13-14
As jy goed met kwaad vergeld, sal die kwaad nooit uit jou huis wyk nie.
Om ‘n rusie te begin, is om ‘n damwal te breek;
staak liewer die getwis voor die vloed jou tref.
20:4
‘n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na iets wat nie daar is nie. (ons spreekwoord: Wat jy saai sal jy maai)

Dit is die default posisie (Afrikaans: Verstek-posisie; daardie voorafgeselekteerde opsie waarheen die rekenaar vanself terugkeer behalwe as dit ‘n ander opdrag kry) wat ons in die Wysheidsliteratuur kry. Probleem is dat vir soveel gelowiges hierdie eenvoudige default opsie, die enigste is wat hulle ken en waarmee hulle werk. Daarvolgens werk die hele lewe volgens die eenvoudige oorsaak-gevolg skema en daarom moet daar altyd vir elke ding ‘n oorsaak gesoek word en vir elke ding wat gebeur moet iets of iemand skuld kry. Maar dikwels is die skuld vir ons te swaar om te dra. Die vraag oor wie die geweertjie gelaai het en wie onverantwoordelik was is eenvoudig te swaar om te antwoord en dan is die maklike uitweg om die vinger na die duiwel of selfs na God te wys. Hierdie soort default-teologie laat ons bly sit met ‘n troostelose godsdiens. Hierdie oorvereenvoudigde skema wat sê dat alles verklaar kan word in terme van straf of beloning. ontwikkel in ‘n harde, meedoënlose godsdiens. Ek kom weer daarop terug.

Kom ons kyk bietjie hoe lyk die ander kant van die Wysheid.

Dit is asof die Wysheidsleraar die heeltyd twee goed sê. Aan die een kan vertel hy van die default-posisie. Dit is hoe die lewe werk, maar dan net in die volgende asem ondermyn hy daardie default en gee ‘n alternatiewe perspektief. Soos..
Pred 11:6
Saai jou saad in die môre,
gaan in die laatmiddag daarmee voort.
Jy weet nie watter van die twee sal ‘n oes lewer nie
en of al twee ewe goed sal wees nie.
Jy weet nie of die oggend of die middag se saaiwerk die beste sal wees nie, want daar is nie net voorspelbare dinge in die lewe nie, ook onvoorspelbare.
Aan die een kant word die default-posisie verkondig. Dit is logiese wysheid. Aan die ander kant word ons gedurig herinner dat die lewe meer misterieus en ingewikkeld is as dit.
Soos:
Spreuke 10:22
Dit is die seën van die Here wat rykdom bring;
jou geswoeg laat dit nie meer word nie.
19:21
Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit staan vas.
21:30-31
Teenoor die Here geld geen menslike wysheid, insig of besluit nie,
Perde kan afgerig word vir oorlog,
maar dit is die Here wat die oorwinning gee.

Die konklusie is duidelik: Daar is ‘n uitgangspunt (default posisie) wat eerbiedig moet word. Ons kan nie daarvan wegkom dat die lewe ‘n harde logika bevat nie. Die goeie word beloon, die slegte word gestraf. Maar dit is nog nie wysheid nie. Die wyse besef dat die lewe nie op default werk nie. Die misterie is groter en dieper as dit.
Wat ons vandag nogal vind en wat nogal algemeen by godsdienstige mense is, is so ver van hierdie wysheid af. Mens sien dit verkeerd loop op een van twee maniere.

1. Mense hou by die eenvoudige skema van oorsaak en gevolg, maar gaan verder en probeer dan God daarin manipuleer. Met gebed en vroomheid word gepoog om God aan jou kant te laat speel. Ons sal reg en goed doen, maar dan Moet God dit sien en dit beloon. God mag ons nie in die steek laat nie en Hy word daaraan herinner dat ons sy goeie kinders is wat beloon moet word. Suksesgodsdiens, wat ook so sterk in ons Afrikaanse sport kringe na vore kom, is ‘n uitvloeisel hiervan.
2. Défaitisme is die ander dwaling. Dit is om net die tweede pool vas te hou en dan sê jy: God gaan in elk geval sy eie gang, so waarom sal ons sukkel. God is in elk geval die laaste oorsaak van alles, daarom is wat ons doen in elk geval sinneloos. Dan word God (of die duiwel) verantwoordelik gehou vir als wat verkeerd loop. Die Nazi-wreedhede van die oorlog, die koeëltjie in die windbuks, El-nino en die droogte, die hartaanval en die kanker…..

Soos ek vantevore reeds gesê het. Albei hierdie laat ons met ‘n troostelose godsdiens. ‘n Godsdiens wat jou nie help om mislukking, verloor, lyding te verstaan of te verwerk nie, want God is slegs aan die positiewe kant te vind. Of ‘n godsdiens wat raadop is met ‘n God wat magteloos sit en toekyk hoe dinge skeefloop en niks daaraan doen nie, wat vir baie tot ongeloof en ateïsme dryf.

Lyk my die Wysheid wil ons help om ontslae te raak van ons oorsaak-en-gevolg godsdienstige skemas waar God die laaste oorsaak van alles gemaak word. En as dit nie wil uitwerk nie, dan kry die duiwel die skuld, met die implikasie dat God magteloos is teenoor die duiwel.

Die wysheidsboodskap is: Jy is verantwoordelik. Aanvaar dit en doen jou deel. Maar staan ook in verwondering oor die Méér van die lewe – die dieper werklikheid wat vir ons onbegryplik en onpeilbaar is. As ons dalk verlos kan word van hierdie rigiede idee dat God net met die goeie, met die oorwinning, met die sukses, met die gesondheid versoen kan word, kan ons dalk weer leer om God te ontdek en te ontmoet in die neerlaag, in die ongeluk, in die siekte, in die dood.

Om met hierdie bipolariteit te lewe en veral om dit aan ons kinders te leer, is nie maklik nie. Die eenvoudige skematjies is makliker. Maar dit is ons uitdaging en dit is wat dit beteken om gelowig te wees en nie net godsdienstig nie. Mag ons bevry word van ons default-teologie en meer deurdrenk raak van ‘n misterie-teologie.

Prof. Julian Müller
Preek, Keurboomstrand, 27 Des 2015